Die gebruik van RFID-tegnologie (radio frequency identification), asook ander vee-identifikasie- en moniteringstelsels, word al hoe belangriker vir veeprodusente.
In baie gevalle kan die toename in veediefstal toegeskryf word aan die feit dat vee nie behoorlik geïdentifiseer kan word nie. Volgens Gerhard Schutte, hoof- uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie, is die eerste verdedigingslinie ’n wettige, permanente merk (sagrainmag.co.za, 30 September 2020), aangesien die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002) die merk van vee verpligtend maak. Met die toename in veediefstal het dit egter nodig geword om elektroniese identifikasiestelsels te begin inspan.
Twee soorte stelsels
IDENTIFIKASIESTELSELS
Hierdie stelsel identifiseer slegs die dier deur middel van byvoorbeeld RFID-tegnologie. Met hierdie stelsel word ’n onaktiewe antwoordsender op die dier ingeplant – meestal in die oor soos ’n oorplaatjie, of onderhuids teen die blad of langs die stertwortel.
Die antwoordsender word deur die RFID geaktiveer sodra dit binne reikafstand kom, waarna dit die dier se unieke nommer terugstuur na die RFID. Dit vergemaklik en bespoedig die vaslegging van groot hoeveelhede bestuursinligting en is relatief bekostigbaar.
Data kan op verskillende wyses na ’n draagbare rekenaar of selfoon oorgedra word; en sluit onder meer bestuursaksies soos die behandeling van siektes, kunsmatige inseminasie (KI)-data of wegingsdata in. Die RFID kan verskeie vorms aanneem, byvoorbeeld as draagbare staf of as statiese skandeerder wat in die drukgang of teen die skaal gemonteer word.
MONITERINGSTELSELS
Die tweede groep identifikasiestelsels word moniteringstelsels genoem en verskil van identifikasiestelsels deurdat dit ’n aktiewe sein verleen wat deur rekenaar- en selfoonnetwerke gemoniteer kan word.
Voordele hiervan is onder meer:
- Die fisiese posisie van die dier kan bepaal word.
- Aktiwiteite soos herkou, wei en hitte kan waargeneem word, asook onaktiwiteit by siek diere.
Die nadeel is dat daar ’n kragbron in die antwoordsender moet wees. Diere dra dit gewoonlik in die oor en dit is groter as die onaktiewe tipe om ’n battery te akkommodeer, wat tussen drie en vyf jaar hou. Daar is ook reeds antwoordsenders op die mark wat deur ’n klein sonpaneeltjie, wat in die antwoordsender ingebou is, van krag voorsien word.
Nodige tegnologie
Hierdie tegnologie hou sekere voordele vir veeprodusente in, maar baie produsente sien nog nie kans vir die finansiële onkoste daarvan nie.
Van die owerhede se kant is daar sterk aanduidings dat só ’n identifikasiestelsel vir beeste en skape oor die land verpligtend gemaak gaan word, soos in Namibië. Dit is om te help om siektes van nasionale belang, soos bek-en-klouseer, te beheer en ook om veediefstal te help verminder.
Dit is ’n baie interessante veld en in die volgende uitgawe word gekyk na nuwe ontwikkelings op dié gebied.