Die grendeltyd het jou dalk geïnspireer om een te word met Moeder Natuur. As jy egter ’n groentjie op die gebied van kampering is, sal hierdie wenke jou help om ’n kommervrye eerste kampeer-ervaring te beleef.
Pak dít in
Vir ’n gemaklike uitspantyd is die belangrikste toerusting wat jy moet inpak:
- Die regte tent. Dit is gewoonlik die grootste uitgawe, maar jy hoef nie ’n fortuin te spandeer nie. Begin met ’n basiese nylon-koepeltent, wat goedkoper en ligter is as ’n seiltent. ’n Slim kopie is om ’n tent te koop wat groot genoeg is. Vir ’n gesin van vier is ’n sesmantent gewoonlik ruim genoeg.
- ’n Gemaklike opvoukampstoel. Die grond, ’n boomstomp of ’n klip gaan beslis nie vir lank gemaklik wees nie. Kry ’n stewige stoel met ’n rug- en armleuning. Dis belangrik om ook in die natuur gemaklik te wees.
- ’n Snoesige slaapsak. Dit is nie nodig om reg aan die begin al daardie gansdons-slaapsak aan te skaf nie. Sintetiese vulsel sal vir jou meer as genoeg gemak verskaf waar dit nie te koud word nie.
- Beskerming teen die son. Ongelukkig kan jy nie voorspel of jou kampeerplek langs ’n groot boom, wat baie skadu bied, gaan wees nie. Skaf dus ’n gazebo aan, wat jy langs jou voertuig kan opslaan sodat julle gerieflik in die skaduwee kan sit en ontspan.
- ’n Behoorlike grondseil beskerm nie net jou tent nie, maar hou ook jou slaapplek skoon.
- Braaitoerusting. Die meeste kampeerplekke het braaiers, so onthou om ’n sak brikette en al jou braaitoerusting in te pak.
- ’n Elektriese koelboks. Al pas ’n sagte koelboks makliker in die bagasieruimte, kan dit beslis nie kers vashou by ’n elektriese een nie. Kampeertyd is braaityd en braaityd het mos ’n koue drinkdingetjie nodig.
- ’n Opvoubare droograk gaan skoon, droë handdoeke en klere verseker.
Wenke om te onthou
- Raak vooraf vertroud met die nuwe toerusting. Oefen by die huis om die tent op te slaan – dan hoef niemand te weet jy is ’n groentjie nie. Toets jou slaapsak een nag op die sitkamervloer. Maak seker die lampe en kampeerstofie werk.
- Maak ’n lysie. ’n Kontrolelys verseker dat jy niks vergeet nie. Dateer die lysie op terwyl jy uitspan, met dit wat onnodig is of dit wat bygevoeg moet word.
- Onthou, kampeerplekke het reëls. Vind vooraf uit wat word toegelaat en wat nie. Respekteer jou mede-kampeerders.
- Kom vroeg genoeg daar aan om jouself tyd te gee om die kampterrein se uitleg te leer ken.
- Beplan jou maaltye. Basiese etes werk die maklikste. Bepaal wat is nodig wat jy vooraf kan aankoop en stel ’n paar spyskaartidees saam.
- Pak genoeg klere in, aangesien verskillende weerstoestande verskillende klere vereis. ’n Reënjas, baadjie en swembroek is ’n móét. Pak ook ekstra klere in vir onvoorsiene gebeure.
- Indien dit jou heel eerste kampeeruitstappie is, bespreek naby die huis.
Bronnelys
https://www.netwerk24.com/Weg/Toerusting/10-goed-waarsonder-jy-nie-kan-kamp-nie-20170329
https://af.traasgpu.com/10-noodsaaklike-wenke-vir-kampeerders-vir-die-eerste-keer/