Neem ’n heerlike blaaskans in die buitelug en pak ’n staproete aan. Dit is nie net goeie oefening nie, maar ook ’n wonderlike geleentheid om op ’n ander manier saam met familie en vriende te kuier.
Beplan jou treë
In sy boek, Hiking Trails of South Africa, deel Willie Olivier raad oor hoe om ’n staproete aan te pak. Soos met ander vakansies, vorm beplanning ’n groot deel van die sukses van só ’n uitstappie. Hier is tien van sy wenke:
- Moet nooit ’n staproete op jou eie aanpak nie.
- Skaf ’n paar ordentlike stapskoene aan. Vir ’n dagroete is ligte stewels voldoende.
- Neem ten minste 2 liter water per persoon saam.
- Smeer sonskerm aan en dra ’n hoed.
- Kies ’n roete wat pas by jou groep se fiksheid.
- Gebruik ’n kaart van die roete of stap saam met iemand wat die roete goed ken.
- Dui die staproete op ’n kaart aan en los dié kaart oop op jou motor se paneelbord sodat ’n potensiële soekgeselskap weet waar om te begin soek indien nodig.
- Maak vooraf seker of ’n permit benodig word of nie.
- ’n Rugsak met ’n opgestopte rugkant en opgestopte skouerbande gaan die las ligter maak. ’n Band wat om die middel vasmaak, sal help dat die sak stewig sit wanneer jy iewers moet opklouter.
- Ontsmettingsmiddel en pleisters is noodsaaklik. Behandel blase dadelik. As dit voel of ’n blaas wil begin vorm, sit watte en ’n sinkoksiedpleister daarop. As die blaas reeds gevorm het, steek dit stukkend met ’n skoon naald, druk die vloeistof uit, ontsmet dit en sit watte en ’n sinkoksiedpleister op.
Kort staproetes in SA
- Die Krokodilrivier-staproete aan die suidelike punt van die Nasionale Krugerwildtuin is een van die beste plekke om die Groot 5, asook ander wilde diere, te gewaar.
- Met die opwindende en maklike Injisuthi Battle Cave-staproete in die Drakensberge – wat ongeveer vyf ure neem – kan stappers die rotskuns op groot sandstene sien. Omdat die grot omhein is, moet ’n gemeenskapsgids saam stap om die rots van nader te bekyk.
- Die gewilde Leeukop-staproete in Kaapstad is gesinsvriendelik. As jy dit vroegoggend aanpak, kan jy die ongelooflike sonsopkoms oor die Moederstad beleef.
Bronnelys
https://www.lekkeslaap.co.za/lekkeslaap-blog/5-kort-staproetes