Die wrede moord op Brendin Horner (22), ‘n plaasvoorman van Paul Roux in die Vrystaat, het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Daar is berig dat Brendin aan ‘n paal gehang is en sy hande stukkend baklei het. Dit is juis hierdie brutale besonderhede rondom sy laaste oomblikke wat mense laat besluit het genoeg is genoeg, en later selfs ‘n klein rewolusie by die hof in Senekal sou ontketen.
Die moord op enige produsent, of op enige stedeling, is een te veel. Navorsers in veiligheid, sekuriteit en misdaadtendense is dit eens dat die aantal plaasaanvalle nie meer is as dié in die stede nie. Hulle beweer voorts dat ras nié ‘n rol in plaasaanvalle speel nie. Wit én swart produsente, asook hul plaaswerkers, loop almal deur en word aan dieselfde brutaliteit onderwerp.
As oud-misdaad- en hofverslaggewer, wat verskeie tonele van plaasmoorde en gewapende rooftogte in die stad bygewoon het, moet ek hiermee saamstem. Ek praat ook uit eie ervaring. Op 16-jarige ouderdom was ek vir die eerste keer die slagoffer van ‘n gewapende seksuele aanranding, skaars 50 m van my ouerhuis in Potchefstroom. Ek was met my fiets op pad huis toe van die skool af en was bloot op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Ek is hierdie jaar vir ‘n tweede keer aangeval terwyl ek gedraf het, maar kon gelukkig my aanvaller met ‘n skokstok afweer. Albei was opportunistiese voorvalle.
Daar is wel sekere faktore wat plaasbewoners kwesbaarder maak. Hulle woon etlike kilometers van hulle naaste bure, dorpe en reaksie-eenhede; en daarom kan hul aanvallers dikwels ure lank hulle kat-en-muisspeletjies ongestoord voortsit. Slagoffers word meestal weke lank dopgehou en die aanvalle op hulle word deeglik vooraf beplan.
Die impak van ‘n plaasaanval en -moord strek boonop soveel wyer. Wanneer ‘n plaas weens die aanval buite produksie gestel word, is dit duisende hektaar en dus etlike tonne se kos wat vir die land verlore gaan. Dit verg ‘n bekwame, ervare produsent om só ‘n plaas oor te neem en die produktiwiteit op dieselfde vlak as vóór die aanval te kry.
Die destydse polisiekommissaris, Jackie Selebi, het die uiters doeltreffende kommando’s afgeskaf, met die belofte dat hulle met reserviste vervang sou word. Ons wag steeds.
Produsente spandeer duisende rande om hulself en hul eiendom te beveilig; en plaaswagte vervul nou slegs in ‘n mate die rol van die destydse kommando’s. Die plaaswag op Buhrmansdrif is byvoorbeeld uiters doeltreffend.
Produsente hier was eens lamgelê deur veediefstal, wat met bykans 100% afgeneem het sedert die plaaswag tot stand gekom het. Hierdie produsente ry egter deurnag (met hulle eie brandstof) patrollie en moet dan doodmoeg die volgende dag ‘n boerdery-onderneming bedryf. Hoe volhoubaar is dit?
Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en ‘n lojale kliënt van NWK, is in Januarie op sy plaas naby Lichtenburg aangeval. Hy het openhartig met my hieroor gesels. Hy wag in spanning op die verhoor van sy vermeende aanvallers en hoop dat geregtigheid sal seëvier. Indien dit nié gebeur nie, sal hy sy kinders aanraai om hulle toekoms in Suid-Afrika te heroorweeg.
Ek het ook in my loopbaan as joernalis ‘n maksimum-sekuriteit gevangenis buite Barberton besoek. Van die gevangenes het helder oordag geslaap, ander het snoeker gespeel of televisie gekyk. Op ‘n vraag aan ‘n bewaarder oor waarom almal dan nie aan gestruktureerde rehabilitasie-aktiwiteite deelneem nie, het sy geantwoord: “Onthou, hulle wil nie hier wees nie, so ons dwing hulle nie om iets te doen wat hulle nié wil nie.” Ek was stomgeslaan – ek sou ook graag die aanval op my wou vryspring, maar my regte is vertrap.
Ek glo dit is waarom misdaad in Suid-Afrika buite beheer is. Korrektiewe toesig is nié ‘n doeltreffende afskrikmiddel nie. Om 100 jaar gevangenisstraf vir ‘n misdaad opgelê te word terwyl jy streng gesproke nooit eens daardie ouderdom gaan haal nie, is boonop lagwekkend. Tronke is oorvol en geharde misdadigers word daarom noodgedwonge ná slegs ‘n paar jaar op parool vrygelaat.
Georganiseerde landbou het verskeie voorstelle op die tafel oor hoe om oor die kort, medium en lang termyn in te gryp en sekuriteit in landelike gebiede te versterk. Dit blyk uit mediaberigte dat die nasionale polisiekommissaris ernstig hieroor is en bereid is om hande te vat en die probleem te takel. Hoe lank dit gaan neem vir die gety om te draai, sal net die tyd leer.
Intussen kan ons net op ons knieë bly en bid vir mekaar en ons eie veiligheid, terwyl ons paraat bly. Ek word oorweldig deur die gedagte dat ek daardie doodsangs dalk nie ‘n derde of selfs vierde keer gespaar sal wees nie, en ontvang steeds traumabehandeling. My sielkundige het hierdie raad met my gedeel en dit is gepas vir elke Suid-Afrikaner: “Vat dit dag vir dag. Klop jouself elke aand op die skouer en wees dankbaar dat jy nog ‘n dag veilig deurgebring het. Môre probeer jy weer.”