Sedert April 2020 tot Maart vanjaar het Thusanang Trauma Centre nie minder nie as 333 slagoffers van seksuele en ander geweld en mishandeling bygestaan.
Suid-Afrika is sedert 26 Maart verlede jaar ingeperk en slagoffers van geweld is gevolglik vir langer tye in hul huise saam met hul mishandelaars vasgevang. Dit het tot ’n toename in geweld gelei. Thusanang Trauma Centre in Lichtenburg is ’n baken van hoop in ’n tyd wanneer geweld teen vroue en kinders hoogty vier. NWK is sedert 2017 by dié indrukwekkende nie-winsgewende organisasie betrokke. As die grootste werkgewer in Lichtenburg, is NWK deeglik bewus van die rol wat dit moet speel om geweld teen vroue en kinders te bekamp.
Hier word ’n verskil gemaak
Thusanang was in 2017 ’n begunstigde van NWK se jaarlikse Grip4Charity-gholfdag. “Die dag toe ons by hul kantore instap om die bemarkingsvideo te maak, het die manier waarop die sentrum bedryf word my dadelik opgeval. Ek het agtergekom dat dié vroue die dinge laat gebeur,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, gesê.
“Ons is deur die hele sentrum geneem en alles was in plek. Hulle is werklik ’n groep vroue met murg in hul pype. Die bydrae wat hulle tot vroue en kinders in nood in die gemeenskap lewer, is van onskatbare waarde.”
’n Gebore helper
Aan die stuur van dié formidabele skip staan Christina Pretorius (60), ’n ystervrou wat die seer van mishandeling kén en dit nou aanwend om ander te help.
“My pa het my ma baie mishandel. En ongelukkig kry ek toe ook iemand wat my mishandel. My pa het my ma gelos toe ek so twaalf jaar oud was en my boeta was agt, en die welsyn het ons grootgemaak,” vertel Christina haar storie.
“Ek het altyd die behoefte gehad om mense te help. Ek het altyd mense jammer gekry. Toe ek grootgeword het en ek ’n tannie van die dorp af sien kom het met plastieksakke, sou ek vra: ‘Tannie, kan ek jou help dra?’”
Christina het eers in Johannesburg gewerk voordat sy na Lichtenburg teruggekeer het. Sy het 15 jaar by Econobuild gewerk. Hoewel sy ’n goeie loopbaan by Econobuild gehad het, het sy lankal reeds gedroom van ’n hawe soos Thusanang. Polisiebeamptes sou haar altyd vra om slagoffers by te staan en sy het die behoefte aan só ’n sentrum deeglik besef.
Traumasentrum open sy deure
In 2012 het sy by Noordwes se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aansoek gedoen vir die nodige magtiging en dokumentasie om ’n traumasentrum te bedryf. Thusanang het op 1 Maart 2013 sy deure in ’n drieslaapkamerhuis in Blydeville geopen.
“Ons het aangegaan sonder ’n pen, sonder papier – ons moes alles uit ons sakke haal. Ek dink ons was ’n groep van so agt vroue. Toe gaan ons aan tot 2014 en eers toe gee die Social Department vir ons iets. Ons het in dié tyd dorp toe getrek en sedertdien rol die ball tot waar ons vandag is.”
’n Gekwalifiseerde maatskaplike werker bied die nodige berading en het opvolg-kontaksessies met slagoffers om seker te maak hulle is veilig. Beamptes help slagoffers om beskermingsbevele teen hul mishandelaars te bekom en staan hulle by tydens hofsake.
Dit is dan ook waar die outeur se pad die eerste keer met Christina s’n gekruis het, by die landdroshof in Lichtenburg. Sy was daar in 2017 ná die wrede moord op Toodles Kotzé in Burgersdorp om haar wewenaar, Jan Kotzé, en hulle kinders by te staan.
Christina het die saak enduit gevolg tot die beskuldigde, Timitos Chabane, die volgende jaar in die Hooggeregshof in Mmabatho skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.
“Hierdie werk van ons is ’n passie. As jy nie dié passie het nie, is jy by die verkeerde plek. As jy na Thusanang gekom het vir ’n salaris, is jy by die verkeerde plek. As jy gaan slaap en jy het iemand gehelp, jy het iemand ’n stukkie brood gegee, you’ve changed somebody’s life. Dan slaap jy só lekker.
“Ek kan nie moeg raak nie, want ek is die mondstuk vir die vroue. Ek moet hulle hande oplig as dit geval het en sê daar is ’n lig in die tonnel.”

Verander die probleem
Christina sê in plaas daarvan dat die blaam op slagoffers geplaas word, gemeenskappe eerder moet poog om voornemende oortreders se motiewe te verander.
“Jongmense het ’n reg om jonk te wees. Hulle is nog teenagers. Moet ’n teenager nou ’n lang rok aantrek? Gelukkig vestig hulle nou forums vir mans om hulle te leer hoe om vroue te behandel en hulle nie net as ’n seksuele voorwerp te sien nie.”
Tog maan sy ouers ook om streng te wees en die nodige verantwoordelikheid te aanvaar. Sy raai hulle aan om grense te stel vir hoe laat hul tieners snags tuis moet wees. Ouers moet ook gedragsveranderinge ernstig opneem en die moontlikheid van dwelmgebruik of mishandeling oorweeg.
“Ek kan dit nie hanteer as ’n kind verkrag is nie. Dit vat aan my. Dis dieselfde met ’n bejaarde ouma wat hier inkom wat verkrag is. Ek hardloop uit en gaan staan op die werf – hulle weet al, dan huil ek klaar. Ek kan dit net nie verwerk nie. En as ek klaar gehuil het, word ek kwaad,” vertel Christina.
Skenkings ’n lewensaar
Thusanang het vandag elf mense in diens en hulle salarisse word deur die departement betaal. Die Nasionale Lotery dra ook by en hulle is afhanklik van skenkings deur maatskappye soos OK en NWK.
Met die R100 000 wat hulle in 2017 by NWK gekry het, is ’n voertuig aangeskaf waarop NWK se logo pryk. “As ons met die departement vergader, praat ons breëbors van NWK. Ek het groot respek vir NWK, want hulle het ’n groot verskil gemaak met daardie karretjie wat hulle vir ons gegee het en die aantal plekke wat ons daarmee kon bereik.
“Ons kon talle mense help met daardie rooi karretjie en talle vergaderings bywoon. Ek noem haar ons rooi babatjie. Ná vyf jaar wil ek vir meneer gaan roep en vir hom sê om te kom kyk hoe lyk hierdie babatjie, dan moet die babatjie nog net so mooi lyk,” gesels sy.

Toekomsplanne
Christina voel sterk oor die feit dat vroue finansieel onafhanklik moet wees en sal graag opleidingsprogramme wil vestig waardeur hulle spesifieke vaardighede kan aanleer.
Sy wil ’n groentetuin in Thusanang se tuin aanlê, waarin slagoffers van geweld kan werk en dan die groente kan huis toe neem om hulle gesinne te voed.
Thusanang bedien ’n groot gebied wat Itsoseng, Sheila, Madibe, Verdwaal, Bakerville en Springbokpan insluit. ’n Satellietkantoor in Itsoseng sal ideaal wees om aan die talle slagoffers van geweld ’n veilige tydelike heenkome te bied.
“Ek soek ook satellietkantore in Welverdiend, Bakerville en Grasfontein, en dan ook in Biesiesvlei,” droom Christina. “Daar is baie maatskaplike probleme omdat die plaasmense gaan baklei in die lokasie. “As ek dit gedoen het, kan ek maar huis toe gaan. Dan kan ek maar aftree.”
Vir meer inligting oor Thusanang Trauma Centre of om ’n skenking te maak, skakel 082 728 4036.