Die proses van boogsweiswerk is deur die jare al só vereenvoudig dat groot industriële masjinerie nie nodig is om dié taak te verrig nie. Kleiner handge-drewe toestelle kan met die nodige voorsorgmaatreëls tuis ingespan word.
Boogsweiswerk is die proses waardeur metale aan mekaar geheg word deur middel van die hitte wat deur ’n boog of arc voortgebring word, sonder om druk toe te pas of vulmateriaal te gebruik.
Die kapasiteit van groter industriële tipes sweismasjiene wissel gewoonlik tussen 200 ampère
en 600 ampère, wat dit dus onmoontlik maak vir kragnetwerke by die huis, aangesien die wisselstroom-voorsiening (AC-voorsiening) te min is. Direkte stroomgedrewe (DC-gedrewe) sweismasjiene is ook beskikbaar. Vir huishoudelike of vir ligte industriële aanwending wissel die stroom tussen 20 ampère en 60 ampère.
’n Elektries-gedrewe boogsweismasjien
Tipies gemete stroomspanning oor die boog is tussen 15 volt en 40 volt, afhangend van die dikte van die metaal wat gesweis gaan word, sowel as die dikte en soort elektrode wat gebruik gaan word. Die sweisstroom wat voorsien moet word, is gewoonlik ietwat hoër.
Oopstroomvolts is gewoonlik laer as 50 volt op kleiner huishoudelike elektriese sweismasjiene en word gewoonlik met 6 m-sweiskabels gebruik. Geen spesiale toesighouding word dus vereis om die masjinerie te gebruik nie. Dit beteken egter nie dit is nie net so gevaarlik soos hul groter boeties nie. Soortgelyke gevare en risiko’s bestaan steeds, aangesien die proses of taak dieselfde bly.
Moontlike gevare
’n Paar gevare wat met boogsweiswerk gepaardgaan, wat net so belangrik is vir fabriekswerkers
as vir die doen-dit-selwer by die huis, word hier bespreek.
ELEKTRIESE SKOK
Dit kan onder die volgende omstandighede gevaarlik wees:
- Die sweiser kan aan die oop geleiers van die sweismasjien vat.
- ’n Elektriese probleem kom op die toevoerkabel en prop voor.
- ’n Bedradingsfout op die sweismasjien, veral die ouer metaaltipes.
- Beskadigde isolasie aan sweis- en toevoerkabels.
- Werkstuk of toerusting kom in kontak met reën of water.
- Indien die operateur warm kry en sweet, verhoog dit die moontlikheid vir elektriese skokke.
BESTRALING
Ultraviolet- en infrarooistrale word gedurende boogsweiswerk vrygestel. Ultravioletstrale het dieselfde uitwerking op die liggaam as sonbrand en die intensiteit hang af van die mate van blootstelling.
Die grootste probleem met infrarooistrale is dat dit nie as pynlik ervaar word nie, maar dit het ’n uiters nadelige uitwerking op die oë. Die bestraling kan die oë aantas en arc eyes veroorsaak. Dit is ’n pynlike toestand vir die operateur wat van korte duur mag wees, maar dit kan ’n verlies aan werksure beteken. Katarakte van die oë en skade aan die retina kan ook blywende gevolge wees.
Permanente oogskade kan veroorsaak word deur direk in die boog te kyk, waar die infrarooistrale uitgestraal word na die oë, hetsy die operateur of verbygangers s’n. Langdurige blootstelling aan die bestraling kan ook aanleiding gee tot velkanker en ander toestande, soos steriliteit.
TOKSIESE DAMPE
Gedurende die sweisproses word toksiese gasse, dampe en stof afgegee (byvoorbeeld lood, sink, stikstofoksied en koolstofmonoksied).
Dit hang af van wat gesweis word, sowel as die samestelling van die sweisstawe wat gebruik word. Afhangende van die tipe damp en blootstelling, mag respirators nodig wees om die operateur se longe teen toksiese damp te beskerm, veral waar die ventilasie beperk is.
BRANDE EN ONTPLOFFINGS
Sweiswerk hou as gevolg van die hitte wat gegenereer word ’n groot brand- en plofgevaar in. Die risiko word verhoog, afhangend waar en aan wat gesweis word. Wanneer gesweis word, word vuurwarm balletjies waarneembaar as vonke gevorm wat die wêreld vol spat. Flux en gesmelte metaal kan oppervlaktes verhit, in kontak kom met brandbare materiale of gasse, en sodoende primêre brande of ontploffings veroorsaak.
Kontak met die warm oppervlakke of die werkstuk kan ook brandwonde aan die operateur se vel tot gevolg hê, afhangend van die vlak van beskerming of blootstelling.
GEVAARLIKE AREAS
Wanneer gesweis word, is dit belangrik om te let op die omgewing, toerusting, dampe en gasse wat voorkom. Indien daar in ’n stowwerige omgewing gesweis word, waar plofbare dampe teenwoordig is, kan dit selfs aanleiding gee tot ’n stofontploffing. Die omvang van die voorval kan katastrofies wees, veral waar mense geskend, vermink of selfs doodgemaak kan word, soms met gepaardgaande skade aan masjinerie en geboue.
Só ’n klein ondeurdagte aksie kan die voortbestaan van ’n onderneming bedreig of die winsmarges grootskaals beïnvloed. Daar moet veral opgelet word waaraan gesweis word, byvoorbeeld ’n tenk of houer wat vlambare vloeistowwe en gasse bevat. Dis nie onmoontlik om aan sulke houers of tenks te sweis nie, maar spesiale voorsorgmaatreëls moet getref word om die binnekant deeglik skoon te maak, te ventileer en te toets vir enge dampe wat kan ontstaan.
ONVOLDOENDE OF GEEN OPLEIDING
Sekere vaardighede word vereis om te kan sweis, netjies te kan sweis of spesiale vorme van sweiswerk te kan doen, soos vertikale sweiswerk. In die bedryf word sekere vlakke van dié vaardighede vereis en daarom word gekwalifiseerde ambagslui opgelei om te kan sweis – nie net vir gewone boogsweiswerk nie, maar ook vir ander tipes sweiswerk.
Persone wat nie oor die nodige opleiding en vaardighede beskik nie, sal hulself onwetend en onnodig blootstel aan bogenoemde gevare, soms met tragiese gevolge. Hulle moet ook onderrig wees in basiese gevaaridentifikasie, veiligheid, werkinstruksies oor die taak en voorgeskrewe werkprosedures.
DIE BESKERMING VAN VERBYGANGERS
Indien sweiswerk ’n impak op omstanders of voetgangers kan hê, moet addisionele beskerming voorsien word, selfs in werkswinkels waar die spasie beperk is. Die algemene gebruik van stralingsbestande spatskerms moet verseker word.
VENTILASIE
Buite-sweiswerk is gewoonlik die beste, aangesien daar geen gebrek aan natuurlike ventilasie is nie, maar dit skep weer eiesoortige probleme soos blootstelling aan die klimaat en weerstoestande.
Binnenshuise sweiswerk lei gewoonlik tot ’n gebrek aan natuurlike ventilasie, waar gevolglike duur meganiese ventilasie voorsien moet word. Die aanwending is ook nie altyd prakties nie weens die area waar gesweis moet word.
In hierdie omstandighede is die identifisering van moontlike risiko’s noodsaaklik, asook kundigheid van die werker en toesighouer – nie net oor die sweiswerk nie, maar ook oor basiese veiligheidsmaatreëls wat gevolg moet word om probleme te voorkom.
PERMITTE EN INSPEKSIESTELSELS
Dit word gewoonlik benodig wanneer buite goedgekeurde werkswinkels, in gevaarlike omgewings of brandbare areas gesweis word. Die ontwikkeling en toepassing van werkspermitte is hier van die uiterste belang om lewens en eiendom te beskerm.
Persoonlike beskerming
Die mees geskikte manier om ’n werker teen die basiese gevare van boogsweiswerk te beveilig, is die uitreik en dra van die korrekte SANS-goedgekeurde veiligheidstoerusting. Hier is ook spesifieke vereistes soos voorgeskryf deur wetgewing.
HOOFBESKERMING
Vir persone wat bo hul koppe moet sweis, sowel as vir die helper, is ’n geskikte kopbedekking of brandbestande mus noodsaaklik.
GESIG- EN OOGBESKERMING
Die korrekte sweishelm met die korrekte filter om te waak teen bestraling en moontlike vonke of spatsels, gevaar vir die oë of brandwonde aan die gesigvel is noodsaaklik. Die helper se oogbeskerming sal ook afhang van hoe naby hy aan die operateur werk, of hoe naby hy aan die boog vashou. Korrekte filterlense beskerm die operateur en helper se oë teen die newe-effekte van bestraling.
KLERASIE
Die tipe klere wat benodig word, sal van die hitteblootstelling afhang. Gewone omstandighede vereis die dra van ten minste ’n 100%-katoen oorpak wat tot ’n redelike mate hitte- en brandbestand is. Ongelukkig beskerm dit nie die werker teen bestraling nie.
ADDISIONELE STRALINGS- EN HITTEBESKERMING
’n Stralingsbestande leervoorskoot om die liggaam te beskerm, asook ’n leerbedekking vir die arms en skouers, is wenslik. Soms benodig die omvang van hitteblootstelling egter die dra van ’n vuur- en hittebestande oorpak.
HANDE EN VOETE
Die voorsiening van goeie stewels en kamaste om die voete, bene en enkels teen swaar voorwerpe en stampe te beskerm, word aanbeveel. Handskoene wat hitte- en stralingsbestand is, word ook voorgeskryf om die hande en gewrigte te beskerm.
Mediese waak-toesigprogramme
Daar is spesiale mediese waak-toesigprogramme spesifiek vir nywerheidswerkers, soos voorgeskryf deur wetgewing. Jaarlikse mediese ondersoeke, wat uitgevoer word deur ’n geregistreerde mediese nywerheidspraktisyn om die blootstelling aan werkers te bepaal, word deur wetgewing vereis. Dit sluit normaalweg X-strale vir die longe en ’n longfunksietoets in.
GOEIE PRAKTYKE
Artikel 8 van die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid spreek die volgende aan wat die werkgewer moet doen:
- Identifisering van alle gevare waaraan die werker blootgestel kan word wanneer hy ’n taak verrig.
- Die opstel van gevaaridentifikasie, risiko-assessering en werksprosedures vir dié tipe take of take wat hiermee verband hou.
- Opleiding van alle betrokkenes, van werker tot toesighouer.
- Die identifisering, uitreiking en opleiding in die aanwending van veiligheidstoerusting.
- Toepassing van goeie huishouding in die werksgebied.
- Die toets en inspeksie van sekere gevaarlike atmosfere alvorens werk begin, selfs tydens die taak.
- Voltooiing van die nodige inspeksiepermitdokumentasie alvorens werk kan begin.
Laastens, ná afloop van enige werk in gevaarlike omgewings, wees bedag op enige agtergeblewe ontstekingsbronne of moontlike rook ter aanduiding van ’n brand en moontlike reuke wat smeulende materiaal verklap. Soms noodsaak sulke inspeksies die gebruik van infrarooi-toerusting om hittebronne te verklap.
Samevatting
Wees bewus van die omgewing waar jy gaan sweis. Let op ventilasie, vlambare vloeistowwe, brandbare materiale en verbygangers. Vermy nattigheid en dra die korrekte, voldoende veiligheidstoerusting. ’n Klein oorsigfout kan ernstige nagevolge inhou. Kom alle veiligheidsprosedures en reëls nougeset na.
Bronnelys
National Safety Council, 1980. Arc welding and cutting, 492
South Africa, 1993. Occupational Health and Safety Act (Act 85 of 1993)