Dit is nou meer as ooit nodig vir produsente om ‘n gedeelte van hulle boerderywinste buite die boerdery te belê, maar Suid-Afrika is nié ideaal hiervoor nie.
Dit is die mening van Kobus Oberholster, hoof van TLU SA se finansiële welstandlessenaar. Hy het dié organisasie se kongres op Woensdag 1 September 2021 toegespreek, onder die tema: “Hoe pas my persoonlike finansiële beplanning in by die toekoms van my boerdery?”
NWK was ‘n goue borg van dié kongres, met die oorhoofse tema, “Laat landbou leef.”
Hy het verduidelik dat persoonlike beleggings ‘n kritiese oorweging van produsente se finansiële beplanning behoort te wees.
Kobus het uitgewys dat Suid-Afrika nie ‘n gunstige beleggingskeuse is nie, weens die volgende redes:
- Die huidige politieke situasie met ‘n ideologie wat produsente se eiendom bedreig.
- Arbeid en produktiwiteit.
- ‘n Gebrek aan innovasie.
- Die verval van infrastruktuur.
- Suid-Afrika se ekonomie het in 1994 sowat 1,2% van die wêreldekonomie beslaan, teenoor slegs 0,5% in 2021.
- Suid-Afrika se regeringskuld is tans 30% meer as die gemiddeld vir opkomende markte.
- Oor die afgelope 11 jaar, het die Suid-Afrikaanse rand sowat 48,5% van sy waarde teenoor die Amerikaanse dollar verloor.
- Daar is baie internasionale maatskappye wat baie beter vaar as dié op eie bodem.
- Sowat 70% van wêreldhandel vind in Amerikaanse dollar plaas.
“Gegewe dié droewige prentjie, waarom wil jy nie deel in internasionale geleenthede nie?”
Kobus het meer as 20 jaar se ervaring in die bedryf en het produsente gemaan dat hulle persoonlike finansies vervleg is met die res van hulle boerderye en daarom bydra tot die sukses daarvan, al dan nie.
Hy het enkele aspekte uitgelig waarop hulle moet let.
Finansiële beplanning
Die meeste produsente is vertroud daarmee dat roerende en onroerende bates teen risiko’s soos brand en diefstal in die vorm van korttermynversekering gedek moet word.
“Jy is egter self ‘n bate in jou boerdery. Jy het daarom beskerming nodig om te verseker dat die boerdery vanuit ‘n ekonomiese oogpunt so glad moontlik funksioneer, sou jy skade opdoen.”
Kobus sê dat almal dit vermy om aan die dood te dink, maar dat produsente moet oorweeg wat die finansiële impak van ‘n lewensveranderende gebeurtenis op hulle boerderye sou wees indien hulle, huweliksmaats of kinders voortydig sterf; ‘n ongeneeslike siekte opdoen of versorging ná ‘n ongeluk vereis.
“Sal geliefdes kan voortgaan sonder om bates te vervreem of skuld aan te gaan?”
Bly op hoogte van boedelkoste
Volgens Kobus word dit gereeld verwaarloos. “Dink aan eksekuteurs- en meesterskoste, kapitaalwins- en boedelbelasting en uitstaande skuld. Is daar voldoende kontant om hierdie koste te kan betaal?
“Is daar voldoende kontant om die volgende seisoen se insetkoste te dek? Is daar voldoende kontant om die gesin te onderhou tot die volgende oes of inkomste?” Kobus raai produsente aan om hierdie kosteberekening minstens elke twee jaar te hersien.
Belangrike oorwegings by lewenspolisse
Die mees kostedoeltreffende wyse om voorsiening te maak vir boedelkoste, uitstaande skuld en voldoende kapitaal, is ‘n lewenspolis.
Vra jouself die volgende vrae:
- Verstaan jy die bestaande polisstruktuur?
- Verstaan jy die bestaande voordeel-definisies en is dit voldoende?
- Het jy die mees toepaslike ernstige siekte voordeel?
- Het jy die mees toepaslike ongeskiktheidsvoordeel op die polis?
- Verstaan jy die polispremiepatroon en die impak daarvan op die toekoms? Hier is bekostigbaarheid ter sprake.
- Verstaan jy die termyn van die voordele? Dit is sinneloos om teen ernstige siekte gedek te wees, slegs tot en met die ouderdom van 65 jaar, want die risiko daarna is soveel groter.
- Wie is die begunstigdes en wat is die impak daarvan op die beplanning?
- Is die polis tans gesedeer en is dit nodig?
Lewensdekking kan buite jou boedel gestruktureer word, wat dus vrygestel is van boedelbelasting.
‘n Geldige testament is ononderhandelbaar
‘n Geldige testament bepaal die erfgename en onder watter voorwaardes hulle sal erf. Indien jy nie ‘n geldige testament het nie, bepaal die Wet op Intestate Erfreg wie jou erfgename is en daar is geen voorwaardes aan gekoppel nie.
“Meer as 70% van individue het nie ‘n geldige testament nie,” waarsku Kobus. In só ‘n geval, word minderjariges se erfenisse by die voogdyfonds inbetaal. “Die voogdyfonds word deur die staat beheer en bestuur. Dit hou slegs kontant en bates wat minderjariges erf, sal verkoop word om die kontant te genereer.”
As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, is jy en jou gade die mede-eienaars van die gesamentlike boedel. Egpare moet ‘n gesamentlike testament opstel om te verseker dat hulle gemeenskaplike bates bemaak sonder om konflik tussen erfgename te veroorsaak.
As julle buite gemeenskap van goedere getroud is, met insluiting van die aanwasbedeling, moet die helfte van die verskil in waarde tussen die grootste en kleinste boedels, deur die grootste aan die kleinste boedel betaal word.
“Is jy voorbereid as jou vrou eerste sou sterf? Daar word aanvaar dat mans gewoonlik eerste sterf. Jy moet egter voorsiening maak vir ‘n eis vanaf die vrou se boedel aan dié van die man, sou sy eerste sterf,” maan Kobus.
Voorafbeplanning van die buiteboedel en die buitestrukturering van die testament kan verhoed dat die man met ‘n enorme eis teen sy boedel sit, sou die vrou sterf en haar boedel weens die aanwinsbedeling, ‘n eis teen syne instel.
Die opbrengs van polisse word dikwels aan minderjarige kinders begunstig. Maak seker dat daar ‘n trust gestig is waar die opbrengs van die polis namens die kind bestuur kan word. “Die polis kan ook aan ‘n kind bemaak word en in ‘n trust gehou word totdat hy/sy minstens 18 jaar oud is. Indien daar geen voorsiening vir ‘n trust gemaak is nie, sal die opbrengs van die polis waarskynlik aan die voogdyfonds oorbetaal moet word.”
Kies ‘n geloofwaardige eksekuteur
- Is hy/sy ‘n kundige boedelberedderaar wat deur die meeste hoër howe geakkrediteer is om die administrasie van ‘n boedel te hanteer?
- Indien jy ‘n familielid of vriend hiervoor aanwys en hulle het nie die kennis of die ondervinding om die boedel te beredder nie, dan sal daar waarskynlik versoek word dat hulle van ‘n goedgekeurde agent gebruik maak om die bereddering te hanteer.
- Jou eksekuteur word by SARS geregistreer as die belastingpligtige van die boedel vir die duur van die bereddering van die boedel. “As hy/sy nie ‘n skoon rekord by SARS het nie, dan sal hy/sy waarskynlik nie die aanstelling kan aanvaar nie,” waarsku Kobus.
- Die beredderingsproses van ‘n boedel is omvattend en begin reeds by afsterwe. Dit kan enigiets tussen tien en twaalf maande duur weens oponthoude en vertragings by die meester se kantoor, SARS, aktekantoor en ander plekke.
Trusts is, volgens Kobus, al vir baie dekades deel van produsente se beplanning. “Bestaande trusts bied die meeste probleme en verg dikwels intense ontleding en regstelling om reg te bestuur.”
Dit kan egter baie doeltreffend binne ‘n boedelbeplanningstruktuur gebruik word, mits dit ‘n geldige trust is wat voldoen aan die vereistes. “Maak seker dat die trustakte op datum is met wetwysigings en/of -uitsprake, wat oor die afgelope sewe tot tien jaar dramaties toegeneem het.”
Maak ook seker jou trustadministrasie is bo verdenking. “Dit help nie jou trust besit die plaas ter waarde van miljoene rande, maar dit het nie ‘n bankrekening nie. Dan is dit nie ‘n trust nie en is die plaas effektiewelik in jou boedel.
Oorweeg ander opsies as ‘n pensioenfonds
Die gesamentlike waarde van pensioene in Suid-Afrika is R5 triljoen en is een van die tien grootste pensioenwaardes ter wêreld.
“Die aanslag hierop neem in felheid toe. Maak dit enigsins sin om verder geld in hierdie risiko te belê? Oorweeg eerder ander opsies,” is Kobus se raad.
Hy maan ook teen mediese fonds-opsies waarvoor gesinne te veel opdok. “Hoeveel van die voordele gebruik julle werklik? Hoe kan ons anders daaroor dink? Kan ons beter waarde vir ons geld bewerkstellig, sonder om gehalte in te boet?”
Kobus het afgesluit met dié vermaning: “Dis van kardinale belang dat die bates wat opgebou is oor geslagte heen, beskerm moet word vir waar dit hoort – by die gesin.”