Sojaboonproduksie in Noordwes het in die 2020/2021-seisoen aansienlik uitgebrei. Daar is in hierdie seisoen
122 100 ha meer sojabone as in die 2019/2020-seisoen aangeplant. Die groot vraag uit ’n ekonomiese oogpunt is egter wat die winsgewendste gewas is as daar tussen sonneblom en sojabone gekies moet word.
In die 2019/2020-seisoen is groot skade deur duiwe en Sclerotinia aan sonneblomaanplantings aangerig. Produsente het dringend begin soek na alternatiewe gewasse om hierdie probleem hok te slaan. Sodoende het heelwat produsente begin om sojabone by hulle produksieplanne in te sluit. Gelukkig was die 2020/2021-seisoen nie gunstig vir Sclerotinia nie, maar duiwe het nog steeds vir betekenisvolle verliese gesorg.
Met die skryf van hierdie artikel het produsente alreeds beplan om 108 350 ha sonneblom en 35 835 ha sojabone in die NWK-bedieningsgebied te plant.
Hektare geplant en opbrengs
Inligting vanaf 2016, rakende die aantal hektare aangeplant in Noordwes, word in Grafiek 1 getoon. Sonneblomaanplantings volg ’n dalende tendens, teenoor sojabone wat ’n stygende tendens toon. In 2016 was daar slegs 15 500 ha (minimum) sojabone geplant, teenoor die 69 500 ha (maksimum) in 2021. Sonneblomaanplantings het van 245 000 ha (maksimum) in 2016 tot 157 000 ha (minimum) in 2021 gedaal.
Albei gewasse se opbrengste het vanaf 2016 tot 2021 ’n stygende tendens gevolg, wat beteken dat beide gewasse se gemiddelde opbrengste ten spyte van droogtes steeds verhoog het (Grafiek 2).


Safex-pryse
In 2021 het produsentepryse die hoogte ingeskiet. Dit was veral in die geval van sonneblom, waar produsente vir twee agtereenvolgende seisoene beide goeie pryse en goeie opbrengste behaal het.
Sojaboonpryse het die sonneblompryse in 2016 en 2020 geklop. Die gemiddelde prys van 2016 tot 2021 vir sonneblom en sojabone was onderskeidelik R6 034/ton en R5 900/ton, met die grootste verskil tussen die twee gewasse in 2021. Dié vergelyking word in Grafiek 3 aangedui.

Veranderlike koste
Veranderlike koste word deur die uitgawes, wat direk verband hou met die aanplant van ’n gewas, opgemaak. Dit sluit items soos saad, bemesting, onkruid- en plaagdoder, blaarvoeding, los arbeid, brandstof, herstel en onderhoud in.
Vaste koste is bykomende uitgawes wat aangegaan word, ongeag of daar geplant word of nie. Dit is uitgawes wat moeilik toedeelbaar is aan ’n spesifieke gewas. Dit sluit in vaste arbeid, waardevermindering, versekering, lisensies en enige diverse uitgawes. Die vaste kostes word nie in berekening gebring in die verdere gewasvergelyking hieronder nie, omdat dit heelwat kan verskil van plaas tot plaas.
Die veranderlike koste van die afgelope ses jaar word in Tabel 1 aangedui. Sonneblom se veranderlike koste vir die 2021/2022-seisoen is R260/ha hoër as die gemiddeld van 2016 tot 2020, met die hoogste koste in 2018.
Sojabone se veranderlike koste vir die 2021/2022-seisoen is R543/ha meer as die gemiddeld vanaf 2016 tot 2020. Sonneblom en sojabone se veranderlike kostes het onderskeidelik met 10,7% en 16,0% gestyg vanaf 2020 na 2021.
Sonneblom se totale direk-allokeerbare koste is R3 561/ha vir ’n 1,5 t/ha opbrengsmikpunt, teenoor sojabone se R5 352/ha vir ’n 1,5 t/ha opbrengsmikpunt. Indien sojabone op mielielande geplant word wat goed bemes is, kan die bemestingsuitgawes verminder word. Saadkoste kan ook heelwat verlaag word indien teruggehoude saad gebruik word (Tabel 2.)
Kundiges moet verkieslik geraadpleeg word indien hierdie praktyke oorweeg word. Indien dit wel gedoen word, kan sojabone se veranderlike koste met soveel as R2 394/ha verminder word tot ’n totaal van R2 958/ha.
Inkomste
Die Mei 2022 Safex-pryse van R7 640/t (sakprys van R7 213/t) en R6 920/t (sakprys van R6 711/t) vir onderskeidelik sonneblom en sojabone is vir die berekenings gebruik. Indien ’n sonneblomopbrengs van 1,5 t/ha behaal word, kan ’n inkomste van R10 820/ha gemaak word. In die geval van sojabone met ’n opbrengs van 1,5 t/ha, kan ’n inkomste van R10 067 verwag word.
WINS
- Indien sonneblom geplant word, sal die produsent ’n wins van R7 259/ha maak. Indien sojabone geplant word, sal ’n wins van R4 715 behaal word.
- Indien sojabone geplant word en geen saad of kunsmis word aangekoop nie, en ’n opbrengs van 1,5 t/ha word steeds behaal, kan ’n wins van R7 109 gemaak word.
Soos voorheen genoem, is hierdie praktyk moontlik gewaagd en moet ’n kundige geraadpleeg word alvorens dit toegepas word.
Samevatting
Indien sojabone se insetkoste tot op ’n minimum beperk word en die opbrengsmikpunt sodoende vasgepen word op 1,5 t/ha, sal sonneblom gemaklik ’n groter wins maak as sojabone in bogenoemde scenario’s. Indien die produsent egter in ’n produksieplan belê waar die insetkoste verhoog word, maar daar dienooreenkomstig verhoogde opbrengste behaal word, kan die resultate anders wees.
Bronnelys
- NWK Beperk, 2021. GIS Potensiaal Verslag: Seisoen 2023 somer
- NWK Beperk, 2021. Opsommende begrotings van bedryfsvertakkings vir die 2021/2022-produksieseisoen
- SAGIS, 2021. Crop Estimates Committee. https://www.sagis.org.za/cec_reports.html [22 Oktober 2021]