VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, het sedert 2007 leiding geneem om bewustheid oor aasvoëlbewaring in Afrika te vestig en regoor die wêreld aan belangrike aasvoëlnavorsingsprojekte deelgeneem.
Detroit Zoo, gebaseer in Michigan, Amerika, staan al vir jare aan die voorpunt van die bewaring en opvoeding van aasvoëls deur Afrika-aasvoëls in hul versameling aan te hou. Ná etlike jare se beplanning het een swart aasvoël (lappet-faced vulture) en vier monnikaasvoëls (hooded vultures) van dié dieretuin nou by die VulPro-familie aangesluit.
Ná ’n trans-Atlantiese vlug en meer as 60 dae in kwarantyn, het hierdie voëls teruggekeer huis toe en het hulle nou die geleentheid om by te dra tot hul spesie se voortbestaan. Hulle sal kan paar en teel, en hul nageslag sal dan in die natuur vrygelaat word.
Raak betrokke en red ’n uil (of iets anders)
- Indien jy ’n voertuig besit en ’n goeie sin vir humor én ’n passie vir die natuurlewe het, raak betrokke by die Owl Rescue Centre se vrywillige koeriergroep. Vrywilligers word een of twee keer per maand ingespan om ’n “pasiënt” iewers te gaan oplaai en na hul naaste diere-rehabilitasiesentrum of veearts te neem – of selfs na die Owl Rescue Centre in Hartbeespoort. Indien jy belangstel om deel te word van dié unieke groep, stuur ’n WhatsApp-boodskap aan Danelle Murray by 082 579 3017.
- As jy hierdie jaar vir iemand spesiaal ’n spesiale geskenk vir hul verjaarsdag of Kersfees wil gee, dink daaraan om een van die Owl Rescue Centre se pasiënte (wat alle vorme van wild insluit) aan te neem. Die aannemingsfooi is R600 elk en dié fondse word gebruik vir die reddings- en rehabilitasiekoste. Alle aangenome pasiënte bly by die sentrum gedurende hul rehabilitasieproses totdat hulle weer in die natuur vrygelaat kan word. Stuur gerus ’n e-pos aan info@owlrescuecentre.org.za of besoek hul Facebook-blad.