Die nuwe senior regsadviseur van NWK meen dat, hoewel die regstelsel alreeds eeue lank bestaan, dit teen ’n geweldige tempo ontwikkel en deurlopende studie verg. Dit is waarom Harm Bronkhorst (47) homself voortdurend akademies verder bekwaam en tans besig is met ’n MBA-kwalifikasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool.
’n Skuif na die korporatiewe wêreld
Harm het op 1 Desember by NWK se Korporatiewe Regsdienste aangesluit en was voor dit vir bykans ’n jaar die maatskappysekretaris van Precision Agri Africa (Edms) Beperk in Potchefstroom. Dié maatskappy moes egter weens operasionele redes en die heersende ekonomiese omstandighede noodgedwonge sy werksmag verminder.
“Ek was in elk geval op soek na ander werk in die korporatiewe omgewing, spesifiek na ’n werkgewer met ’n sterk korporatiewe kultuur, gegewe dat ek korporatiewe bestuur doseer en my MBA-skripsie daarop sal fokus,” vertel hy.
Harm het nog altyd daarvan gehou om probleme op te los en logies daaroor te redeneer. Hy meen die reg as wetenskap is logies en maak sin. Dit is ’n studieveld met talle vertakkings en dit is juis dié dinamiese aard wat hom aangetrek het. Kommersiële litigasie het hom van meet af opgewonde gemaak en hy het daarom hierin gespesialiseer. Dit sluit velde soos kontraktereg, deliktereg, prosesreg, kommersiële reg, insolvensiereg en mededingingsreg in.
Hy het in 2000 ’n B.Proc.-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy loopbaan as prokureur het by Bruce Loxton Prokureurs in Klerksdorp begin, en hy was vanaf Maart 2001 tot Maart 2003 in hulle diens. Hierna is hy na Gerrit Coetzee Prokureurs in Potchefstroom vanaf Maart 2003 tot September 2020, voordat hy na Precision Agri Africa is.
Harm was ook ’n dosent by die Regskool wat deur die Regsvereniging van Suid-Afrika bestuur word, wat praktiese opleiding aan voornemende regslui bied. Hier het hy onder andere landdroshofpraktyk, konstitusionele reg en insolvensiereg aangebied. Hy is tans ’n deeltydse dosent in korporatiewe bestuur by die NWU, waar hy dosente wat vir die nagraadse diploma in besigheidsadministrasie ingeskryf het, onderrig.
Hoekom NWK?
Sy verbintenis met NWK kom al ’n lang pad, aangesien hy heelwat regswerk vir NWK behartig het toe hy by Gerrit Coetzee Prokureurs werksaam was. “NWK het my nog altyd opgeval as ’n maatskappy wat met integriteit sake doen en dóén wat hulle sê. Dit is ’n skaars kombinasie en strook met my eie waardestelsel. Ek kan nie anders nie as om te glo dat my verbintenis met NWK vooraf bestem was.”
As NWK se senior regsadviseur is Harm se doelwit om bekend te staan as ’n persoon wat altyd behulpsaam is en bereid is om die ekstra myl te stap. “Al nalatenskap wat ek wil agterlaat, is dat my Hemelse Vader deur dit wat ek doen, verheerlik sal word.”
Die viswaters maak sy kop skoon
Harm is met Christine getroud en hulle het drie kinders – Stephan (19), Gustav (13) en Miné (12). Die gesin woon in Potchefstroom, en Harm pendel tans tussen dié studentedorp langs die Mooirivier en Lichtenburg.
Hy is ’n ywerige hengelaar, wat nie ’n kans deur sy vingers laat glip om lyn nat te maak nie. “Dis waar ek kop skoonmaak en ek verkies om dit alleen te doen, of andersins saam met iemand wat nie baie praat nie.”
Aksie- of fantasierolprente soos The lord of the rings, The Hobbit en die Jason Bourne-reeks is bo-aan sy lys van gunstelinge. Hoewel hy nie van romantiese komedies hou nie, kyk hy dit “noodgedwonge saam met die skoner geslag in die huis en maak of hy daarvan hou om die vrede te bewaar”.
Sy studies laat hom nie met veel vrye tyd om te lees nie, maar indien hy wel ’n tydjie kan afknyp, verkies hy die skryfstyle van Terry Pratchett en Robert Ludlum, asook Deon Meyer en Frans van Rensburg.