Produsente moet ligloop vir sogenaamde sojaboorders wat slegs twee jaar gelede vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk is. Hierdie pes, wat nog nie eens ‘n wetenskaplike naam het nie, is vermoedelik die resultaat van klimaatsverandering en iets wat produsente toenemend sal moet trotseer in komende dekades.

Inteendeel, prof Johnnie van den Berg, ‘n entomoloog verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, waarsku dat, vir elke 1°C waarmee die aarde se temperatuur gaan styg, oesverliese weens insekte tussen 10% en 25% gaan wees. Herlewingslandbou kan egter help om hierdie effek teen te werk.
Johnnie was een van die sprekers by Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie wat op 10 Maart by Ottosdal se skougronde aangebied is.

‘n Plaag in Mpumalanga
Hy het die sojaboorder twee jaar gelede vir die eerste keer in lande naby Standerton in Mpumalanga opgemerk en dit hier as ‘n plaag beskryf. Tussen 50% en 60% van sojaboonplante in die betrokke landery in Standerton, het twee tot drie wurms in die oksels van die blare gehad.

Dié insek is ook intussen naby Dundee, Winterton en Bergville in KwaZulu-Natal gevind, asook naby Villiers en Vrede in die Vrystaat. “Dit is nog nie só erg dat ons dit moet beheer nie, maar produsente moet op die uitkyk wees daarvoor. Ons moet nuwe plae verwag, het hy gewaarsku.


Klimaatsverandering
Klimaatsverandering kan tot ‘n toename in plae lei. Eerstens verander plante se nutriënte onder warmer omstandighede. Wurms sukkel dan om genoeg voedingstowwe in te neem en eet gevolglik meer.
Plante ontwikkel ‘n ander biochemie onder temperatuurstres en die sekondêre stowwe wat insekte gebruik om plante te identifiseer, ruik gevolglik anders vir hulle en bring mee dat hulle ander plante as voedingsbronne verkies.
Die sinchronisasie wat oor miljoene jare tussen byvoorbeeld ‘n lieweheersbesie en plantluise ontwikkel het, word ook ontwrig. “Hulle kom dus óf te vroeg óf te laat in ‘n land aan om die luise te vreet,” verduidelik Johnnie.
‘n Geringe temperatuurstyging van slegs 0,5°C, sal tot gevolg hê dat die herfskommandowurm endemies tot Suid-Afrika word.
Biodiversiteit word bedreig
Volgens Johnnie beraam wetenskaplikes dat die mens sowat 200 000 jaar gelede van ongeveer
3 000 plantspesies geleef het. “Vandag verskaf vier plantspesies – koring, rys, mielies en aartappels – 60% van die wêreld se kalorieë. Ons is inderdaad op baie dun ys omdat biodiversiteit oral besig is om af te neem.”
Hy raai produsente aan om saam met die natuur te boer. Johnnie was nog altyd ‘n groot voorstander van wenakkers en sy navorsing het gewys dat daar tot 1 031 verskillende spesies insekte in hierdie stroke langs mielielande kan voorkom, met tot 373 spesies in wenakkers om sojaboonlande.
“Voor ons plae wil beheer, moet ons dink,” maan Johnnie. Hoewel talle produsente werk op ‘n ekonomiese drumpelwaarde, waarvolgens hulle insekdoders toedien om te verhoed dat insekgetalle ‘n sekere populasie bereik, is dit ‘n konserwatiewe riglyn,” het hy benadruk.
“Produsente is ekoloë wat ‘n ekostelsel en biodiversiteit bestuur. Hulle besluit watter saad hulle op ‘n bepaalde tyd plant. Gaan jy dit tussen-verbou sodat daar meer spesies is? Wanneer word dit besproei? Dan spuit ons onkruid- en insekdoders, want ons besluit watter plant- en insekspesies moet leef en nie leef nie. Jy besluit selfs watter diereras daar is en hoe lank hulle daar mag vreet.”
Herlewingslandbou is meer inklusief
Volgens Johnnie lê die sleutel tot biodiversiteit in ‘n landbou-omgewing in herlewingslandbou, wat grootliks steun op dekgewasse, die integrasie van vee, minimale versteuring van insekte en gewasrotasie. Dit alles lei tot verbeterde grondgesondheid en koolstofvastheid, wat uiteindelik biodiversiteit verhoog.
“Skep ‘n stabiele voedselweb met onder andere gewasresidu en plante soos kosmosse. Dit gee kos vir bestuiwing en huisves die natuurlike vyand van plae, wat ‘n belangrike aspek van plaagbestuur is.”
Hy het verwys na ‘n produsent tussen Potchefstroom en Ventersdorp – Jannie Kemp – wat sy raad tydens die Landbouherlewingskonferensie in 2019, ter harte geneem het. “Jannie het ‘n saadmengsel van onder andere radyse, mosterd en klawer in vlugoorde teen sy BT-mielies en sonneblomme geplant, wat ryk is aan biodiversiteit.
“Ek en my studente het daar gaan soek en ons kon nie een stamper in sy mielies kry nie,” het Johnnie vertel. Sogenaamde BT-mielies het ‘n insekbeskermende eienskap en hierdie vlugoorde help om insekte se weerstand teen dit te bestuur.
Dien gif omsigtig toe
Johnnie het gemaan dat insekdoders kilometers ver versprei kan word. “Onoordeelkundige spuit kan daartoe lei dat hierdie insekdoders in wenakkers of in bure se lande beland.”
Produsente skrik dikwels as hulle blaarskade aan byvoorbeeld sojabone opmerk, maar Johnnie meen dat hulle dit oorskat. “Sojabone kan tydens die vegetatiewe stadium tot 30% blaarverlies hanteer voor daar ‘n ekonomiese impak sou wees.
“Moenie net spuit as jy ‘n wurm sien nie, sy natuurlike vyand sal kom. Gee die natuur kans om sy werk te doen.”
