Daar is gemengde reaksies op die aankondiging dat die minimum loon vanaf 1 Maart 2022 ’n bedrag van R23,19 per uur sal wees – dít nadat dit alreeds verlede jaar met 16% tot R21,69 per uur verhoog is.
Georganiseerde landbou, en spesifiek Agri SA, het in ’n verklaring gesê dat, hoewel werkers se salarisse tot die verligting van armoede moet bydra, dit boerderye se winsgewendheid bedreig en hulle vermoë om tot werkskepping by te dra, bedreig.
Nog méér dramaties was verbruikers se reaksie toe arbeidsfirmas hulle daaraan herinner het dat dié minimum loon toelaes vir vervoer, kos en uniforms uitsluit. “Ek kry dan nie ’n toelae by my werk vir middagete of vervoer nie. Hoekom moet my bediende dit kry?” is een van die kommentare wat ek op sosiale media raaklees.
Dit is duidelik dat perspektief oor hierdie onderwerp nodig is. Veronderstel jy betaal jou huishulp die nuwe minimum loon vir agt ure se werk per dag, vyf dae per week. Dit laat haar met ’n salaris van R4 638 aan die einde van ’n maand met vyf weke.
Sy moet elke dag ’n taxi van byvoorbeeld Boikhutso na Lichtenburg neem teen R20 retoer. Dit kos haar dus R500 per maand aan vervoer. Kom ons hou haar kosblik per dag konserwatief met ’n brood per dag teen R13. Dit is ’n verdere R325.
Dan laat dit haar met R3 813. Volgens die jongste beskikbare data wat ek kon kry, het dit in Maart 2021 ’n bedrag van R2 788,48 gekos om ’n gesin van vier met die basiese te voed (3 Maart 2021, Netwerk24). Dus het sy R1 025 beskikbaar vir klere en skoolbenodighede.
Het jy al ooit gewonder waarom jou huishulp dan nie die 50 kg sak mieliemeel teen R345 koop nie? Dit gaan haar mos goedkoper uitwerk as twee sakke van 25 kg teen R182 elk. Nie net is dit omdat sy dit nie al die pad tot by die taxistaanplek sal kan dra nie, maar omdat sy in alle waarskynlikheid eenvoudig nie die kontant daarvoor beskikbaar het nie.
Ja, produsente is prysnemers wat die afgelope paar jaar onder stygende insetkoste steier en om aan byvoorbeeld tien arbeiders die nuwe minimum loon te moet betaal, gaan ’n maandelikse verhoging van R3 000 aan salarisrekeninge behels, wat wesenlik is.
Ek het nie ’n oplossing nie, maar ons moet in gedagte hou dat ons plaasarbeiders en huiswerkers se salarisse óók stygende brandstofkoste en voedselpryse moet kan absorbeer.
My Christen-hart sê vir my dat ek nié hierdie nuwe minimum loon as net nóg ’n saketransaksie kan benader en soos met elke ander uitgawe kan kyk waar ek kan sny nie. Dit vestig opnuut my aandag op die pleidooie van die armstes onder die armes en noodsaak my om eerder te kyk waar ek nóg kan help.