’n Mieliekop se grootte word onder andere deur boerderypraktyke soos plantdigtheid en grond-vrugbaarheid beïnvloed, asook deur omgewingstoestande soos grond-vog en temperatuur.
Onder ideale groeitoestande het ’n mieliekop die potensiaal om 750 tot 1 000 pitte te produseer en kan dit tot 454 gram weeg. In die natuur kan ’n gemiddelde kop egter 112 gram tot 227 gram weeg, met ongeveer 450 tot 500 pitte. Volgens Geyer en Thomison (2007) het ’n mieliekop ’n eweredige aantal pitrye, wat algemeen van 14 tot 18 rye wissel. Die rygetal word hoofsaaklik deur genetika bepaal, terwyl die pitgetal per ry (koplengte) sterk deur groeitoestande beïnvloed word.
Abnormaliteite
Abnormaliteite by mieliekoppe ontstaan oor die algemeen as gevolg van omgewingstoestande soos hitte, droogte, voedingstekorte, insekte en siektes, of deur die verkeerde toediening van chemikalieë. In hierdie artikel gaan ’n paar van die algemeenste abnormaliteite by mieliekoppe bespreek word.
BAARDBOLVORMING
Simptome
Mielies wat baardbolvorming (baardknyp) vertoon, produseer gewoonlik koppe van ’n normale lengte met pitte wat slegs aan die basis van die kop bestuif en ontwikkel het. Baardknypende koppe bevat dikwels ’n massa baarde in die skutblare (Foto 1).
Baarde bly geheg aan ontwikkelende ovules totdat dié ovules suksesvol bevrug is. Hierdie ovules word afgebreek as hulle nie bevrug word nie. Die baard, wat dikwels in die skutblare kan bly tot die kop volwasse is, krul dan op tot ’n bal aan die kop se bokant sonder om by die punt van die kop uit te beweeg.
Oorsaak
Dit kom voor wanneer die baardverlenging belemmer word deur skutblare wat aan die punt van die kop te styf gespan is of wanneer ’n kultivar lang skutblare produseer. Volledige baardverskyning vind gewoonlik plaas binne vier tot agt dae nadat die eerste baard uit die skutblare verskyn het. Die mate van swak bestuiwing hang af van die tydperk waartydens baardblokkasie plaasgevind het. Hoe vroeër dit plaasvind, hoe erger is die skade.
Baardknyp word hoofsaaklik deur temperatuurwisseling veroorsaak, maar kan ook die resultaat wees van droogtestremming, hoë plantpopulasies en voedingstekorte. Hierdie verskynsel kom algemeen by kultivars voor met digte kopskedes, wanneer koue nagtemperature deur warm nagte tydens bestuiwing gevolg word. Indien die dag- en nagtemperature met meer as 10°C verskil, word die waarskynlikheid van baardknyping direk verhoog.
Bestuur
Hierdie abnormaliteit is algemeen onder plante met sekere genetiese agtergronde, maar by die meeste kommersiële kultivars word die voorkoms hiervan deur omgewingsfaktore veroorsaak. Vermy kultivars wat sensitief is vir baardknyp.
KOPKNYP
Simptome
Met kopknyp (bierbottelkop) kan die getal pitrye enige plek op die kop se lengte tot met die helfte (byvoorbeeld van 16 na 8 pitrye) verminder. Die koplengte is gewoonlik normaal, maar die aantal pitrye verminder skielik verder op in die kop, en die kop “knyp” in die vorm van ’n bottel (Foto 2). Die kop sal ’n tipiese bierbottelvorm aanneem.

Oorsaak
Hewige strestoestande tydens die kopontwikkelingstadium (V7 tot V10) kan tot ’n verminderde aantal pitrye lei. Tydens die normale groei en ontwikkeling van mielies word die aantal pitrye ongeveer op die V9-stadium verdubbel. Breedwerpige toedienings van ALS/sulfonielureum-onkruiddoders laat in die seisoen is hoofsaaklik die oorsaak van hierdie abnormaliteit.
Knypsimptome word ook toegeskryf aan interaksies van sulfonielureum-onkruiddoders en organofosfaat-insekdoders wat op die grond toegedien word. Die onkruiddoders word grotendeels deur die mielieblare onderskep, wat die verdubbeling van die aantal pitrye ontwrig en tot die knypsimptoom lei.
Bestuur
Vermy ná-opkoms toedienings van ALS/sulfonielureum-onkruiddoders nadat mielies die sesblaarstadium (V6) bereik het, asook die gelyktydige toediening van hierdie onkruiddoders met organofosfaat-insekdoders.
TERUGTREK VAN KOP
Simptome
Hierdie abnormaliteit word gekenmerk deur klein, misvormde koppe met swak pitontwikkeling (Foto 3). Die verminderde aantal pitte word gewoonlik geassosieer met minder pitrye en minder pitte per ry, swak bestuiwing en die beëindiging van pitontwikkeling.
Met swak of ongevulde koppunte, vind min of geen pitontwikkeling op die kop se punt plaas. Dit kan soms slegs die laaste paar pitte beïnvloed, maar kan dikwels meer as die helfte van die kop beïnvloed. Die beëindiging van pitontwikkeling tydens die melkdeegstadium word gewoonlik geassosieer met swak ovule-bevrugting by die mieliekop se punt. Onbevrugte ovules en/of getermineerde pitte kan beide verdroog en gekrimp lyk, maar getermineerde pitte het dikwels ’n effense geel kleur.

Oorsaak
Verskeie faktore, insluitend ernstige droogte vanaf middel-vegetatiewe groei deur vroeë tot middel-graanvulling, stikstof- en fosfortekorte, ’n hoë plantdigtheid, onegalige opkoms en ontblaring veroorsaak deur hael en siektes kan tot koppe lei wat terugtrek.
Bestuur
Volg die aanbevole riglyne vir die vermindering van gewasstres, insluitend die handhawing van die toepaslike grondvrugbaarheid, aanbevole kultivars, plantdigtheid en plantdatum. Vermy dit om té vroeg te plant in nat gronde en verminder onkruidkompetisie met doeltreffende onkruiddodertoediening en/of tydige bewerking.
Koppe wat terugtrek, is nie noodwendig ’n rede tot kommer nie. Gunstige groeitoestande kan lei tot ’n groter aantal potensiële pitte per ry as normaalweg. Dus kan die opbrengspotensiaal nie noemenswaardig beïnvloed word nie, selfs al is mieliekoppunte as gevolg van swak bestuiwing of beëindiging van pitontwikkeling nie heeltemal gevul nie aangesien die aantal pitte per ry steeds bonormaal kan wees. Koppe wat tot op die punt gevul is, kan eintlik aandui dat ’n hoër plantestand benodig word om opbrengste te optimaliseer. In baie ernstige gevalle kan die opbrengs egter benadeel word.
LOS PITTE OP DIE KOP
Simptome
Dit word deur ligte koppe met swak gevulde, gekrimpte pitte gekenmerk, met spasies tussen die pitte (Foto 4) wat op onvolledige pitvulling dui.

Oorsaak
Erge fotosintetiese stres tydens die sagtedeeg- (R4) tot vroeë hardedeegstadium (R5), byvoorbeeld rypskade, voortydige plantafsterwing weens droogte, ’n hoë plantestand, blaarsiektes, ’n ernstige kaliumtekort en hael, is van die hoofoorsake vir onvolledige pitontwikkeling en derhalwe los pitte op die kop.
Bestuur
Volg die aanbevole riglyne vir die vermindering van gewasstres, insluitend die handhawing van die toepaslike grondvrugbaarheid, aanbevole kultivars, plantdigtheid en plantdatum. Vermy dit om té vroeg te plant in nat gronde en verminder onkruidkompetisie met doeltreffende onkruiddodertoediening en/of tydige bewerking. Monitor die ontwikkeling van blaarsiektes om te bepaal of die toediening van ’n blaarswamdoder dit ekonomies regverdig.
VERPIENKING VAN MIELIEKOPPE
Simptome
Die kenmerkende simptoom is ’n algemene ligpienk, oppervlakkige verkleuring van die kop (Foto 5) as gevolg van die produksie van ’n rooi pigment, antosianien. Verkleuring is beperk tot die saadhuid en dit beïnvloed nie die kleur van die meel nadat dit gemaal is nie. Die pienk verkleuring kan verwar word met kopvrot weens Fusarium spp.

Oorsaak
Verpienking is ’n fisiologiese afwyking as gevolg van omgewingstoestande wat sporadies voorkom. Beperkte inligting is beskikbaar oor die spesifieke temperatuur en humiditeit wat koppe, veral witmielies, vatbaar maak vir verpienking. Sekere witmieliekultivars is meer geneig tot verpienking onder spesifieke klimaatstoestande. Graan kan soms by silo’s en meulens foutiewelik afgegradeer word, wat direkte finansiële implikasies het.
Bestuur
Hierdie abnormaliteit is meer algemeen onder witmielies. Vermy dus kultivars wat sensitief vir verpienking is.
SWAK PITONTWIKKELING
Simptome
Nie al die pitte op die kop het ontwikkel nie, met die gevolg dat daar kaal gedeeltes op die kop voorkom (Foto 6). Die pitte op die kaal areas is gewoonlik groot, rond en plat. As die toestand ernstig is, toon die koppe meestal kopweefsel met pitte wat rond en bont voorkom, met geen duidelike pitrye nie.

Oorsaak
Swak bestuiwing van koppe en onvolledige pitontwikkeling kan veroorsaak word deur verskeie faktore, insluitend hewige droogte en hoë temperature (tydens stuifmeelstorting en baardvorming), onvoldoende stuifmeelvoorsiening as gevolg van onegalige gewasontwikkeling, fosfaattekorte en onkruiddoders.
Bestuur
Volg die aanbevole riglyne vir die vermindering van gewasstres, insluitend die handhawing van die toepaslike grondvrugbaarheid, aanbevole kultivars, plantdigtheid en plantdatum. Vermy dit om té vroeg te plant in nat gronde en verminder onkruidkompetisie met doeltreffende onkruiddodertoediening en/of tydige bewerking. Monitor die ontwikkeling van blaarsiektes om te bepaal of die toediening van ’n blaarswamdoder dit ekonomies regverdig.
Vermy laat ná-opkoms toedienings van glifosaat op glifosaat-verdraagsame kultivars, asook die oordrag van imazethapyr en imazapyr vanaf die vorige gewasse waarop dit toegedien is.
PIESANGKOP
Simptome
Algehele pitrye of dele van pitrye is afwesig (Foto 7). Dit kom gewoonlik voor aan die onderkant van die kop en is hoofsaaklik as gevolg van die beëindiging van pitontwikkeling. Koppe is dikwels misvorm en gebuig (piesangvorm) as gevolg van oneweredige pitvorming langs die kop.

Oorsaak
Sommige oorsake van hierdie abnormaliteit by mieliekoppe is steeds onbekend. Die gebrek aan pitvul kom meestal voor wanneer die aangetaste deel van die kop na onder wys. Baarde wat aan hierdie pitte geheg is, word deur ander baarde bedek en word eenvoudig net nie bestuif nie. Dit word ook geassosieer met erge droogtestremming, ontblaringsbeserings ná bestuiwing, ’n hoë plantdigtheid en bolwurms, asook stronkboorders wat die baard aan die een kant van die kop afvreet, wat bestuiwing verhoed.
Bestuur
Volg die aanbevole riglyne vir die vermindering van gewasstres, insluitend die handhawing van die toepaslike grondvrugbaarheid, aanbevole kultivars, plantdigtheid en plantdatum. Vermy dit om té vroeg te plant in nat gronde en verminder onkruidkompetisie met doeltreffende onkruiddodertoediening en/of tydige bewerking. Monitor die ontwikkeling van blaarsiektes om te bepaal of die toediening van ’n blaarswamdoder dit ekonomies regverdig.
Gevolgtrekking
Dikwels kan nie veel gedoen word om hierdie mieliekop-probleme reg te stel nie, maar ’n akkurate diagnose van abnormaliteite kan help om toekomstige probleme te voorkom en sodoende gewenste opbrengste te lewer. Aan die ander kant is die bestuurbare plantstres dikwels die hoofoorsaak van ’n aantal abnormaliteite. Goeie produksiepraktyke wat gewasstres minimaliseer en opbrengste optimaliseer, is die aanbevole bestuurspraktyke om abnormaliteite te bestuur.
In deel 2 van hierdie reeks, wat in die Julie/Augustus-uitgawe van NWK Arena gaan verskyn, word daar op mieliekopsiektes gefokus.
Bronnelys
Editors FJ, 2015. Abnormal corn ears. AGWEB. https://www.agweb.com/news/crops/corn/abnormal-corn-ears [3 Maart 2022]
Geyer A and Thomison P, 2007. The Ohio State University. Troubleshooting abnormal corn ears. https://u.osu.edu/mastercorn/# [3 Maart 2022]
Illini FS, 2018. Corn ear malformations: A briefing on the possible causes. https://www.illinifs.com/Products-Services/Resource-Center/Resource-Detail/corn-ear-malformations-a-briefing-on-the-possible-causes [3 Maart 2022]
PANNAR Sprout, 2021. ’n Veldgids vir die identifikasie van siektes. www.pannar.com [3 Maart 2022]
Specialty, 2018. Abnormal corn ear development. https://www.specialtyhybrids.com/en-us/agronomy-library/abnormal-corn-ear-development.html#accordion-600746-5[2 Maart 2022]