Al meer produsente vind dit aanloklik om met intensiewe skaapboerdery te begin en selfs bestaande skaapprodusente wil na só ’n stelsel oorskakel. In die praktyk kan verskillende benaderings hiervoor gevolg word.
Soms word elke faset van die proses geïntensiveer, terwyl ander stelsels minder intensief is. Elke plaas is uniek en dit moet ook met intensiewe skaapboerdery in ag geneem word.
Daar is geen universele resep wat vir almal ewe goed werk nie. Elke boerdery moet binne die raamwerk van gesonde ekonomiese beginsels die resep vind wat vir hom die beste werk.
Waarom intensiveer?
Afgesien van die moontlikheid om die wins te verhoog, sien produsente die geleentheid om van sekere nadele van ’n ekstensiewe skaapboerdery ontslae te raak. Ekstensiewe stelsels het onder andere die volgende uitdagings:
- Sowat 20% van die nasionale lammeroes word deur roofdiere gevang. By intensiewe stelsels is dit meer beheerbaar en word hierdie risiko dikwels heeltemal uitgeskakel.
- In droogtetye is voerkoste die skaapboer se grootste uitgawe. Dit kan by intensiewe stelsels beter beheer word, aangesien die kos na die diere gebring word en hulle nie hoofsaaklik aangewese is op die beskikbaarheid van veldweiding nie.
- Veediefstal word beter beheer in intensiewe stelsels, aangesien die diere in die kraal gehou word en sekuriteit daar beter toegepas kan word.
- Siektebestryding is by sommige intensiewe stelsels byna nul. Wanneer behoorlike biosekuriteit toegepas word en die kudde so te sê geslote is, kom verskeie siektes feitlik glad nie voor nie.
- Skaapprodusente is prysnemers. Dit is veral waar by ekstensiewe stelsels waar die lammeroes as slagdiere of stoorlammers verkoop word. Intensiewe stelsels leen hulle daartoe om eindprodukte verder te verwerk en teen ’n beter marge te verkoop.
Verskillende benaderings
In die praktyk kan enige skaapproduksiestelsel in verskillende produksiefases verdeel word. Daar is lamtyd, laktasie, dektyd en dragtigheid (vroeg, middel en laat).
By ekstensiewe stelsels herhaal die fases hulself jaarliks, waar ramme op ’n spesifieke stadium by die ooie gebring word en ooie jaarliks op min of meer dieselfde tyd lam. Die ooikudde se produksie-omgewing word by intensiewe stelsels só gemanipuleer dat die maksimum produksie per ooi verkry word. Die klem is hier op hoër voedingspeile en versnelde, meer intensiewe lamstelsels.
Produksiefases stem meestal ooreen by intensiewe stelsels. Daar is egter etlike variasies in benaderings, veral met die dekfase. Hier vind ons stelsels waar ooie op ’n natuurlike wyse gedek word oor ’n tydperk van 36 dae, tot stelsels waar ooie gesinchroniseer en kunsmatig bevrug word (laparoskopie) en ’n hoogs gekompakteerde lamtyd tot gevolg het.
Sommige produsente hou streng by ’n agtmaandesiklus, waar ooie dan drie keer in ’n tydperk van twee jaar lam. Soms word die hele kudde (veral kleiner kuddes) op hierdie wyse bestuur, terwyl ander produsente hul ooikudde in kleiner kuddes verdeel (maksimum agt kuddes) en dan maandeliks of tweemaandeliks ’n groep laat dek.
Selfs hier vind ons variasies, waar sommige produsente die ooie sinchroniseer en kunsmatig bevrug, of ander sal die ooie sinchroniseer en dan deur handdekking in klein groepies natuurlik dek. Die een het die intensiewe skaapvertakking op slegs 5 hektaar, terwyl dit by ’n ander deel is van ’n groter boerdery met verskeie vertakkings. Elkeen se stelsel is uniek en verg daarom unieke bestuursinsette.
Beginsels by intensiewe skaapboerdery
In al hierdie stelsels is daar egter ’n stel fundamentele beginsels wat soos ’n goue draad daardeur loop en waarby gehou moet word.
BESTUUR EN EKONOMIE
Die beginpunt vir die intensivering van skaapboerderye is altyd presisieboerdery en maksimum wins – nie maksimum gemiddelde daaglikse toename (GDT) of reproduksie en omset nie. Die klem val dus nie op produksie per dier nie, maar op opbrengs per hektaar. Dikwels fokus produsente te veel op maksimum opbrengs per dier, terwyl maksimum wins per hektaar gereeld verkry word by laer as maksimum opbrengste per dier.
Rekordhouding is van uiterste belang. Swak of geen rekordhouding maak die stelsel onbestuurbaar. Rekords van diereprestasie beteken ook nie veel as dit nie jaarliks ontleed en alle aksies heroorweeg word nie. Aksies wat winste beperk, moet aangepas word.
Gebruik alles tot jou beskikking, soos die sinchronisasie van ooie, rekenaarprogramme vir rekordhouding, laparoskopie en die skandering van ooie vir dragtigheid. Tegnologie plaas intensiewe skaapboerdery op ’n ander vlak, maar die basiese aspekte van kuddebestuur en voeding moet in plek wees. Net so is die gebruik van ’n weegskaal nie onderhandelbaar nie, want “om te meet, is om te weet”.
Die relatiewe verwantskap tussen produkpryse en insetkoste wissel voortdurend. ’n Praktyk wat nou werk, gaan dalk oor ’n jaar nie meer lonend wees nie. Byvoorbeeld, kruipvoerkoste kan van een jaar na ’n volgende jaar vinniger as die lamprys styg. Dan sal die mate waartoe kruipvoer in die tweede jaar die wins verhoog, minder as die vorige jaar wees.
Waardetoevoeging kan gebeur deur eindprodukte self te verwerk en aan die eindverbruiker te bemark. Dit kan byvoorbeeld deur jou eie vleisverwerking wees of deur verbeterde genetika in die vorm van ’n stoet.
Wees nougeset wanneer dit kom by insetkostebestuur. Byvoorbeeld, die aankoop van lekke moet op spesifieke voedingsbehoeftes berus om bepaalde tekorte op te hef. Diere se behoeftes verskil van seisoen tot seisoen, tussen fisiologiese stadiums, met ouderdom, ensovoorts. Kyk na die voedingswaardes op die etiket en moenie produkte bloot op ’n gewigsbasis vergelyk nie.
Nog ’n voorbeeld is die ekonomiese aanwending van kruipvoeding deur dit volgens die voeromsetpotensiaal van die lam aan te pas. Die voeromset is hoër vir jong lammers tot op 30 dae en lammers ouer as 60 dae behoort nie meer kruipvoer te ontvang nie. Net so is dit is meer ekonomies om ’n ooi se kondisie tydens die tweede trimester van dragtigheid te korrigeer as om dit ná lamtyd tydens laktasie te probeer doen, wanneer dit duur en haas onmoontlik is.
Spandeer tyd om ’n behoorlike bemarkingstrategie in plek te kry. Maak die maksimum gebruik van geleenthede en vestig ’n nismark vir jou verwerkte produk (indien moontlik), wat dan teen beter marges aan eindverbruikers gebied kan word. Kom so na as moontlik aan klaargaar voedsel in die eindverbruiker se bord en lewer hoë gehalte produkte teen die beste pryse.
AANPASBAARHEID EN GENETIKA
Meerlinge en uitstekende groei vorm die basis van ’n intensiewe skaapboerdery. Maak dus gebruik van die beste genetika. Daar word van ooie verwag om drie keer elke twee jaar te lam en daarby twee uit die drie keer tweelinge te produseer (’n lampersentasie van 250%). Daar is nie kortpaaie nie. Die kudde moet aangepas wees om by die hoër eise van die intensiewe stelsel te kan aanpas.
Pas streng seleksiedruk toe vir vrugbaarheid. Die stelsel is gebou op hoë fekunditeit. Daar moet nougeset teen swak reproduktiewe presteerders geselekteer word.
Waar beoog word om ’n bestaande ekstensiewe kudde na ’n intensiewe een om te skakel, is dit dus belangrik om seker te maak dat die bestaande kudde oor die genetika beskik om suksesvol te produseer onder die hoër druk van ’n intensiewe stelsel. Indien met intensiewe skaapboerdery begin word, is dit ewe belangrik om diere vanuit aangepaste kuddes te koop.
Reproduksieprestasie met ’n ooi se eerste dragtigheid is baie sterk gekorreleer met reproduksieprestasie tydens die res van haar lewe. Streng seleksie vir vrugbaarheid met ’n jong ooitjie se eerste lamsiklus is dus van kardinale belang.
Die doelwit vir besetting behoort 80% te oorskry, maar met 90% as einddoel. Sorg dat ooie in die regte kondisie is met dektyd. Maak gebruik van prikkelvoeding en sorg dat ooie teen dektyd op ’n kondisiepunt van 3,5 uit 5 is. Ooie moet in ’n positiewe energiebalans wees – hulle moet dus matig in gewig toeneem en nie afneem nie. Ooie moet egter nie oorvet wees tydens dektyd nie.
VOEDING
Voeding is ’n gespesialiseerde veld en is uiters belangrik in intensiewe stelsels. Maak gebruik van ’n goed deurdagte voedingsprogram wat vir elke fisiologiese fase van produksie voorsiening maak. Te veel is net so nadelig as te min. Dié fyn balans kan egter nie in die bestek van hierdie artikel volledig bespreek word nie.
Daar is wel enkele riglyne wat uitgelig kan word:
- Oor die algemeen lei die beste gehalte voeding tot die beste produktiwiteit. Voer die beste voer wat jy kan bekostig en verseker gebalanseerde formulerings wat vir elke fisiologiese fase benodig word.
- Gee spesiale aandag aan meerlingooie. Bykomende voer en beskutting is belangrik. Hou hierdie ooie langer in klein kampies om te verseker dat hulle ’n hegte band met die lammers vorm. Verseker dat hul voeding van die hoogste gehalte is en bied kruipvoer aan vir die lammers tot speentyd.
- Doen voerontledings om seker te maak dat selfgemengde rantsoene behoorlik gebalanseerd is. Kuilvoer, hooi, lusern en oliekoek is slegs enkele voorbeelde van ’n wye verskeidenheid roumateriale wat in rantsoene gebruik word en waarvan die voedingswaardes bekend moet wees. Wanneer grondstowwe uit voorraad raak, word daar dikwels alternatiewe aangewend – hierdie bronne moet telkens weer ontleed word.
INFRASTRUKTUUR
Die eerste en belangrikste beginsel oor infrastruktuur is om matigheid voor oë te hou – hou die koste van infrastruktuur so laag as moontlik. Duur lamskure en geoutomatiseerde stelsels gaan onnodige druk op die kontantvloei sit en te lank neem om af te betaal. Maak waar moontlik gebruik van tweedehandse materiaal en gebruik ook wat op die plaas beskikbaar is. Verbeterings kan mettertyd aangebring word.
Lamhokke bly ’n belangrike hulpmiddel om mortaliteit te verlaag. Die belangrikste is om deurlopend droë beddegoed, skoon drinkwater en voerbakke, asook skuiling teen son en wind, vir beide ooie en lammers te voorsien.
Verseker dat daar voldoende kripspasie is om ook vir skaam vreters voorsiening te maak. Diere se prestasie word beperk wanneer hulle moet sukkel en/of kompeteer om te vreet of te drink omdat die krippe moeilik toeganklik is (byvoorbeeld modder, onvoldoende spasie of gruis met skerp klippies).
Waar moontlik moet krale teen ’n helling opgerig word om die afloop van reënwater te bevorder. Indien dit nie moontlik is nie, is dit belangrik om deur afleibane afloop te verkry of om krale op te vul om hulle effens hoër as die omliggende gebiede te maak.
Algemene advies
- Begin klein en groei in die stelsel in. Daar is ’n aantal prosesse waaraan die produsent sowel as werknemers gewoond moet raak en moet leer om by aan te pas.
- Bestuursaksies moet nougeset en op tyd uitgevoer word. Dit verg toewyding en passie. “Af naweke” of vakansiedae is skaars of bestaan nie – dit is ’n voltydse verbintenis.
- Wees bedag daarop dat die kontantvloei moeilik gaan wees, veral aan die begin. Maak voorsiening om vir minstens die eerste jaar uitgawes te kan dra, tot die eerste wesenlike inkomste gegenereer word.
- Dit is nie die moeite werd om op veeartseny- en lekkostes te bespaar nie. Volg die voorgeskrewe dosisse noukeurig en moenie oor- of onderdoseer nie.
- Intensiewe boerdery verg deeglike kennis oor die produksiefaktore en -insette wat tot optimale produksie en maksimum wins lei. Hiermee saam moet dieselfde produksiefaktore deurlopend bestuur, gemeet en ontleed word, terwyl tydige aanpassings waar nodig gemaak word.
- Daar is nie ’n algemene “resep” wat vir almal en vir altyd werk nie. Wat een jaar werk, kan die volgende jaar te duur wees en nie meer winsgewend wees nie. Detail is belangrik. Byvoorbeeld, met die maal van lusern gaan baie voedingswaarde in die stof verlore. Voorkom dus dat dit gebeur.
- Handhaaf ’n hoë vlak van biosekuriteit. Geen vreemde diere of mense van buite mag sonder voldoende sanitasie toegelaat word nie.
- Wolverdienstes maak dit die moeite werd om ’n dubbeldoelras te gebruik.
Bronnelys
Du Pisani L, 2022. The fundamentals of intensive and precision farming. Stockfarm, Februarie, 2022. Vol. 12 No. 2. Plaas Media, Centurion
Groenewald A, 2018. Kyk: 500 skape op 5 ha – en geen siektes. Landbouweeblad, 23 Mei 2018
Hofmeyr I, 2021. Intensiewe skaapboerdery vir beginners: Basiese beginsels. Veeplaas, 21 Oktober, 2021