Bastion belê elke jaar swaar in sy aanlegte om by te bly met die groeiende vraag na twee gesogte landboukalkprodukte – dolomiet en kalsiet. Daar is die afgelope paar jaar ’n groot bewuswording by produsente oor die kar-dinale rol wat bekalking in die graanproduksiestelsel speel.
Bastion se span het op 28 Februarie 2022 NWK Kunsmis se bemarkingspan, asook die span landboukundiges van NWK Landboubestuursdienste, by Bastion se Marico-aanleg en Buhrmansdrif-kalkmyn ontvang.
NWK se kundiges beskou kalk as die hoeksteen van goeie graanopbrengste. Die span kundiges gebruik presisie-opnames om die status van produsente se lande te bepaal en sodoende te verseker dat die grondslag reg is voor enige seisoen aangepak word.
Meer oor kalk
Tydens die besoek het Dons Jordaan, bemarkingsbestuurder van Bastion, die verskille tussen kalksuiwerheid, kalkreaktiwiteit en kalk se reaksie in die grond aan die NWK-span uitgewys.
Kalk se suiwerheid word aangedui deur die KKE(HCl). Hierdie waarde gee ongelukkig nie duidelikheid oor die produk se reaktiwiteit nie en dui slegs die CaCO3-inhoud aan. Die KKE(hars)-waarde is ontwikkel om die produk se reaktiwiteit aan te dui. Kalk se oorsprong en fynheid beïnvloed hierdie waarde.
Amorfiese kalkbronne se KKE(hars)-waarde is in die meeste gevalle beter as dié van kristallyne-kalkbronne. Só is kalk ook met ’n beter deeltjiegrootteverspreiding onder 250 mikron se KKE(hars)-waarde beter as ’n bron met ’n lae 250 mikronwaarde.
In onlangse inkubasieproewe wat Bastion laat doen het, kan duidelik gesien word dat KKE(HCl) nie die bepalende faktor in terme van pH-reaksie is nie.
Grafiek 1 wys duidelik hoe goed Marico-dolomiet doen in terme van reaksie in hierdie spesifieke grond. Die twee ander kalkbronne in hierdie proef het hoër KKE(HCl)-waardes, maar hulle reaksie in hierdie grond strook nie met hul hoë KKE(HCl)-waardes nie. Dit bevestig dat produsente nie kan bekostig om kalk toe te dien sonder dat inkubasieproewe op die gronde en die spesifieke kalkbron gedoen is nie.
Buhrmansdrif-kalsiet se pH-reaksie is ook in hierdie proewe gemeet (Grafiek 2). In hierdie geval kan dié kalsiet se goeie reaksie toegeskryf word aan die amorfe aard en die fynheid van die produk.
Dit is baie belangrik dat landboukundiges inkubasieproewe met verskillende kalksoorte op ’n produsent se grond doen. Die doel hiervan is om die presiese reaksie van ’n spesifieke kalk in die produsent se grond te kan bepaal.
Die reaksie van dieselfde kalk op verskillende gronde (verskillende klei-, sand- en organiese materiaal-inhoud) is uiteenlopend, en dus is inkubasieproewe van kardinale belang. Hierdie werk word een keer op ’n produsent se verskillende tipes gronde gedoen. Hierna sal die landboukundige ’n meer oordeelkundige besluit oor die presiese toediening kan neem.
Na aanleiding van die besoek, is NWK se kundiges dit eens dat Bastion steeds hulle voorkeurkalkvennoot is. Bastion sal aanhou om te belê in toerusting en prosesse om die aankope van hoogstaande gehalte landboukalk so maklik en bekostigbaar as moontlik te maak.
Vir enige navrae, skakel gerus vir Bastion by 018 464 7828 of besoek hulle webblad, www.bastionlime.co.za.