
‘n Privaatspeurder is aangestel om die uitbreking van bek-en-klouseer in die Potchefstroom-omgewing te ondersoek. Nico Killian, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in Noordwes, het dit Donderdag (25 Augustus 2022) by ‘n inligtingsvergadering van die RPO in Lichtenburg bekendgemaak.
Dié uiters aansteeklike virale siekte is in Maart vanjaar op ‘n plaas tussen Ventersdorp en Potchefstroom gediagnoseer, nadat ‘n bees vanuit die Vhembe-distrik in Limpopo na bewering hierheen verskuif is.
“Die ondersoek is ver gevorder,” het Nico bygevoeg. Die vergadering is deur beesboere van so ver as Delareyville en Botswana bygewoon.
Dit volg nadat ‘n verbod op die vervoer van beeste vir 21 dae vroeër hierdie maand deur die minister van landbou, Toko Didiza, aangekondig is, in ‘n poging om die siekte se verspreiding te stuit, nadat nóg 15 uitbrekings in twee weke in voerkrale in Marquard, Bethlehem en Senekal in die Vrystaat aangemeld is. Dit sluit die vervoer vir slagdoeleindes uit.
Die verbod kan ná die verspreiding van die 21 dae, op prerogatief van die departement, weekliks verleng word. Hoewel ‘n mediaverklaring oor die verbod op 16 Augustus uitgereik is, is dit eers twee dae later in die staatskoerant afgekondig. Dit is dus nog onduidelik of die verbod op 5 of 7 September sal verstryk.
Veilings kan voortgaan, maar…
Hoewel veilings mag voortgaan, sal diere nie in hierdie tydperk na kopers se plase vervoer mag word nie.
Marius Freeman beplan ‘n produksieveiling van sy Santa-beeste op 15 September op die plaas Joubertsrus naby Sannieshof, waar hy 30 bulle, 35 stoetverse en 50 kommersiële verse wil aanbied. Hoewel dit ná die verbod van 21 dae plaasvind, loop Marius die gevaar dat dié weekliks nog verleng kan word.
Hy het vertel watter implikasies hierdie verbod vir veilings inhou. Die voorbereidingskoste is astronomies, het hy verduidelik. “Om diere veilingsgereed te voer, kos sowat R100 000 per maand. ‘n Veearts moet 28 dae vóór die veiling die diere vir besmetlike misgeboorte (BM) kom toets, bulle en koeie se persentasie vrugbaarheid toets, asook bulle se skrotum-omtrek meet. Daar word op die dag van die veiling wéér vir BM getoets.
“Ek het reeds verskeie borde so ver as Vryburg, Lichtenburg en Kroonstad laat oprig om die veiling te adverteer. Bemarkingsmateriaal is gedruk en versprei. Deposito’s is reeds betaal aan FarmSpace en Landbouweekblad, vir spyseniering en akkommodasie…”

Hy vertel van ‘n ander Santa-boer by wie se produksieveiling daar verlede week slegs sowat tien mense opgedaag het. Hy verstaan egter presies waarom produsente traag is om nou diere aan te koop.
“Die boer het die bul (wat hy op ‘n produksieveiling koop) nóú nodig. Die koeie het klaar gekalf, so jy jaag nou weer jou bulle by hulle in. Jou kalfseisoen gaan vertraag word as jy nie nou bulle kan aankoop soos jy wil nie. Op tyd kalfseisoene is baie belangrik ten einde dit doeltreffend te kan bestuur.
Marius het boonop 22 diere makgemaak vir die Landbouskou wat tussen 5 en 10 September op Parys aangebied sou word. “Hulle prestasies op hierdie tipe skoue word ingespan as bemarkingselement op produksieveilings, wat pryse kan opstoot. Nou moet ek hulle maar veld toe jaag,” sug hy.
Intussen berei hy voor vir die produksieveiling asof dit wel voortgaan.
Abattoirs ervaar reeds tekorte
Marius is ook mede-eienaar van die abattoir op Schweizer-Reneke en vertel dat hulle reeds sukkel om super- en C-graad beeskarkasse aan slaghuise te verskaf.
Daar is nie baie staatsveeartse nie en elkeen het ‘n hoë werkslading. Sou ‘n beesboer nie een kon kry om na sy plaas te kom nie, moet hy op eie onkoste ‘n privaatveearts ontbied om die diere te ondersoek en ‘n sogenaamde rooikruispermit uit te reik wat verklaar dat die diere nie bek-en-klouseer het nie.
Die rookruispermit, tesame met ‘n vervoerpermit en ‘n verklaring van gesondheid vanaf die boer – wat meld wanneer die diere teen bepaalde siektes gespuit is – moet die diere na die abattoir vergesel.
Die veearts sit ‘n rooi seel op die vragmotorbak of wa wat eers by die abattoir gebreek mag word. Die vragmotor mag ook nie onderweg na die abattoir op ander plekke stop nie.
“Boere is tans traag om hierdie bykomende uitgawes aan te gaan en wil eerder wag totdat die 21 dae verby is,” sê Marius.
Boonop mag hulle ook nie ‘n vyfde kwart (afval wat die kop, pote en binnegoed) insluit, verkoop nie. “Dit het groot verliese tot gevolg.”
Dit gaan onvermydelike vleisprysstygings tot gevolg hê en Marius vrees dat, sou die verbod verleng word, dit kan lei tot vleistekorte en reusestygings in pryse in Desember.
Produsente moet eienaarskap neem
Nico het tydens die vergadering beklemtoon dat produsente streng biosekuriteitsmaatreëls op hulle plase moet handhaaf.
“Spuit die wiele van voertuie wat op jou plaas kom en laat besoekers hulle skoensole ontsmet. Jy weet nie waar hulle vooraf was nie,” het hy gemaan. Nuwe diere moet ook 28 dae in kwarantyn deurbring voordat hulle by bestaande kuddes gevoeg word.
Produsente wou egter by Nico weet wat ná afloop van die 21 dae sou gebeur om verdere verspreiding van die siekte hok te slaan. “Elke boer moet self verantwoordelikheid vir biosekuriteit aanvaar. Ons kan dit nie afdwing nie.”
Produsente wou ook weet hoe hul opkomende kollegas gereguleer word en het hul kommer uitgespreek oor beeste wat vrylik in informele nedersettings rondloop.
James Faber, voorsitter van die RPO, het in antwoord hierop gesê dat dit die regering se verantwoordelikheid is. “Die nodige regulasies is in plek, maar die toepassing is problematies.”
Hoewel die RPO nie die verbod aangevra het nie, is hulle positief oor die uitwerking daarvan. “Daar is sedertdien nie nuwe uitbrekings van die siekte aangemeld waarvan ons bewus is nie. China het ook reeds sy verbod op die uitvoer van wol gelig,” het Nico gesê.