Produsente gaan tans gebuk onder van die hoogste kunsmispryse wat al ooit plaaslik beleef is. Aangesien kunsmis ’n groot komponent van ’n produsent se insetkoste ver – teenwoordig, plaas dit geweldige druk op produsente om die beste waarde uit toegediende kunsmis te verkry.
Die jaar het begin met ’n afname in die voorkoms van ’n wêreldwye pandemie en ’n moontlike terugkeer na “normaliteit”. Wat die wêreld egter nie voorsien het nie, was die ontstaan van konflik tussen Rusland en Oekraïne, wat tot kostestygings van feitlik alle landbou-insette gelei het.
Verbruiksdoeltreffendheid van voedingstowwe
Grondontledings is ’n waardevolle hulpmiddel om te bepaal watter elemente plantbeskikbaar is en waar voedingstoftekorte voorkom. Volgens hierdie resultate word dan vir ’n spesifieke gewas se behoeftes bemes.
Deesdae, met die uiterste hoë insetkoste sowel as optimale opbrengsverwagtings, is ’n grondontleding alleen nie voldoende nie. Bykomende hulpmiddels is beskikbaar om te verseker dat gewasvoeding regdeur die seisoen optimaal bestuur word.
Oplossings en dienste wat fokus op voedingstofverbruiksdoeltreffendheid (VVD) is van kardinale belang. Hierdie beginsel verwys na hoe doeltreffend ’n plant die opneembare voedingstowwe benut. Die plant kan dus die nodige voedingstowwe op die regte tyd opneem sonder dat enige voedingstowwe verlore gaan. Deur dié beginsel toe te pas, word optimale insette en ’n maksimum oes nagestreef.
Die volgende dienste kan gebruik word om ’n beter VVD na te streef:
- Blaarontledings.
- Plantsap-ontledings.
- Satellietbeelde vir gewasmonitering.
BLAARONTLEDINGS
Blaarontledings gebruik ’n metode waardeur chemiese evaluasie van noodsaaklike elementkonsentrasies in plantweefsel gedoen word. Dit is egter belangrik om daarop te let dat blaarmonsterneming gedurende ’n spesifieke tyd in die groeiseisoen plaasvind.
’n Blaarmonster word op ’n spesifieke posisie en ouderdom van die plant geneem. Hierdie protokol is in plek sodat die waardes wat verkry word ooreenstem met die blaarnorme wat in die literatuur beskikbaar is. Dit verseker dat akkurate afleidings gemaak kan word.
’n Blaarontleding skets dus ’n “prentjie” van reaksies wat gedurende ’n spesifieke tydperk in die groeiseisoen in die blaar plaasgevind het. Die beskikbare voedingstowwe is deur die plant opgeneem en dan in die plantweefsel “ingebou”. Hiervolgens kan die kunsmisaanbeveling geëvalueer word.
Wanneer die evaluasie van die blaarmonster dan met die kunsmisaanbeveling en die uitslag van die grondontleding vergelyk word, kan aanpassings vir die nuwe seisoen gemaak word. Sodoende kan optimale insette nagestreef word.
PLANTSAP-ONTLEDINGS
’n Sap-ontleding is waar die sap in die blare en petiole van die gewas onder hoë druk uitgepers, gefiltreer en ontleed word. Daar kan hierna verwys word as ’n “bloedtoets vir die plant”. Die resultate gee ’n aanduiding van die voedingstowwe wat op daardie spesifieke groeistadium vir groei beskikbaar is (Figuur 1). Dit is met ander woorde ’n intydse ontleding.

Die verskil tussen ’n blaarontleding en sap-ontleding is in terme van wat ontleed word en waarvoor dit gebruik gaan word. ’n Blaar is ’n “geskiedkundige” oorsig, terwyl ’n sap-ontleding as ’n regstreekse opdatering gesien kan word.
Plantsap-ontledings bied die geleentheid om gewasse en elemente gedurende die groeiseisoen te monitor soos wat die plant deur die groeistadiums ontwikkel. So ’n ontleding kan dus gebruik word om te bevestig of toegediende elemente wel plantbeskikbaar is. Dit word ook met groot sukses gebruik om sekondêre probleme, soos grondkompaksie, te identifiseer. Voedingstoftekorte kan dan gedurende die seisoen aangespreek en reggestel word.
’n Sap-ontleding moenie gesien word as ’n plaasvervanger vir ’n blaarontleding nie, maar eerder as die skakel tussen ’n grondontleding en ’n blaarontleding. Tradisioneel word ’n bemestingsprogram na aanleiding van ’n onlangse grondontleding en opbrengspotensiaal bepaal, maar ná opkoms bied ’n sap-ontleding die geleentheid om intydse regstellings te maak soos wat die gewas groei en ontwikkel.
Sap-ontledings bied dus die geleentheid om plantvoeding en groeikragtigheid gedurende die seisoen te monitor en tydige regstellings te maak.
SATELLIETBEELDE
Satellietbeelde op sigself is nie nuwe tegnologie nie, maar die toepassings van hierdie beelde in presisieboerdery is nie alombekend nie. Daar word na satellietbeelde verwys as die afstandwaarnemende been van presisieboerdery omdat inligting vanuit landerye bekom kan word sonder om in die land teenwoordig te wees.
As ’n mens na ’n satellietbeeld kyk wat vir landboudoeleindes gebruik word, sal jy dikwels sien dat die beeld uit skakerings van rooi en groen bestaan. Die algemene vorm van die beeld is ’n normalised difference vegetation index (NDVI). ’n NDVI-beeld word saamgestel uit die naby-infrarooi en rooi ligspektrums. Prakties beteken dit dat die konsep gebaseer is op die verhouding waarteen bogenoemde twee ligspektrums opgeneem en weerkaats word.
Hierdie verhouding verskaf dan ’n “prentjie” van plantgesondheid in terme van groen en rooi. Dié beelde visualiseer wat in die plant plaasvind voordat dit met die blote oog gesien kan word. Daar is ook meer gevorderde beelde wat kan kyk na die blaaroppervlak, vogstremming, fotosintese-aktiwiteit, die plant se groeikragtigheid en afsterwing (Figuur 2).

Die gebruik van hierdie beelde gedurende die seisoen help die produsent om ’n oorsig van die land se plantlewenskragtigheid te kry.
- Probleemgebiede in landerye kan vroegtydig geïdentifiseer word. Op grond van só ’n verslag kan stikstof onder andere aanbeveel word indien daar tekorte voorkom.
- Siektes soos Sclerotinia kan selfs bespeur word voordat dit te ver versprei. Gefokusde ondersoeke kan dan plaasvind deur fisies deur die landerye te stap. Die probleem kan vervolgens aangespreek word, of ’n grondmonster en/of plantsapmonster kan bykomend geneem word om die oorsaak te bepaal.
Samevatting
Deur gebruik te maak van ’n kombinasie van verskillende dienste/oplossings, kan produsente ’n holistiese “prentjie” verkry van wat in die lande aangaan. Probleme kan betyds geïdentifiseer word en regstellings kan op ’n meer akkurate manier gedoen word. Sodoende word gemoedsrus verseker deur onnodige insetkoste en opbrengsverliese te beperk.
Bronnelys
- Hatfield J en Prueger J, 2010. Value of using different vegetative indices to quantify agricultural crop characteristics at different growth stages under varying management practices. Remote Sensing, 2(2): 562-578
- Heppell WC, 2019. Chlorophyll-a fluorescence and NDVI as indicators of plant health. Bloemfontein. UFS. (Thesis – MSc)
- Jonker W, 2017. Plantsap-ontledings maak pasgemaakte bemestingsprogramme moontlik. SA Graan, Julie 2017
- Majumder M, 2010. A brief introduction to remote sensing and GIS. Dordrecht: Springer
- Opperman H, 2015. The impact of different industrial-related abiotic stresses on maize photosynthesis. Potchefstroom: NWU. (Thesis – PhD)
- Peyper J, 2013. Blaarontledings as bestuurshulpmiddel. SA Graan, Julie 2013.
- Vercueil C, 2022. Kunsmispryse verdubbel byna in een jaar. SA Graan, Mei 2022: 63-64