“Uber” vir geveerdes
Die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing het in Augustus saamrygeleenthede vir twee beseerde geveerdes gesoek. Gelukkig het lede van die publiek nie gehuiwer om te help nie. As jy betrokke wil raak om koerier te speel vir diere, kontak hulle by info@owlrescuecentre.org.za of 082 719 5463.
Voer ’n uil
Al is die Owl Rescue Centre aanvanklik gestig om uile se lot te verbeter, het die lot van ander diere hulle genoop om tot verdere aksie oor te gaan. Dit veroorsaak egter dat hulle meer fondse benodig en die span is altyd besig om kreatiewe maniere uit te dink om geld in te samel.
Uilmaaltyd-koopbewyse is nou teen slegs R20 per maaltyd op die spyskaart. Vir elke koopbewys wat jy koop, voorsien jy een van die sentrum se pasiënte met ’n ete vir die dag. Deur deel te neem, kwalifiseer jy ook vir die gelukkige trekking om ’n Canon-kamera, ’n Rovos Rail-reis na die Victoria-waterval, ’n Toyota Starlet of ’n Toyota Land Cruiser-dubbelkajuit te wen. Jy kan soveel maaltydbewyse koop as wat jy wil, aangesien elkeen vir jou ’n nuwe inskrywing gee. Besoek die Owl Rescue Centre se Facebook-blad vir meer inligting.
Ons gesin brei uit
Tot dusver het VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, ’n ontsettende besige broeiseisoen met inkubasie wat so vroeg as April begin het en tot middel September gestrek het. Aan die begin van Augustus was 17 Kaapse aasvoël- en twee witrugaasvoëlkuikens reeds gebore, en nog drie het in Augustus gevolg. Die kuikens sal vrygelaat word as deel van die organisasie se Suider-Afrikaanse aasvoëlherstelprogram, wat daarop gemik is om die uitsterwing van Afrika-aasvoëlspesies te voorkom. Jy kan hierdie belangrike bewaringsprojek ondersteun deur een van hierdie kuikens “aan te neem”. Kontak Kerri Wolter by 082 808 5113 of kerri@vulpro.com vir meer inligting.
Groot opwinding het by VulPro geheers toe twee Kaapse aasvoëls wat vroeër vanjaar van die Detroit-dieretuin in die Verenigde State van Amerika (VSA) na Suid-Afrika gebring is, hul eerste eier gelê het. Die span is baie opgewonde oor die uitbreiding van hierdie spesie, wat deel vorm van hul pogings ter ondersteuning van bevolkingsherstelprogramme. Ongelukkig is die getalle ’n nekslag toegedien met die nuus op 11 Augustus dat 150 aasvoëls binne twee dae vir “muti”-doeleindes vergiftig is. Dié twee afsonderlike gevalle was in die Nasionale Krugerwildtuin en Chobe, Botswana. Sulke barbaarse gebruike het ’n groot impak op die aasvoëlgetalle omdat die kuikens nie sonder hul ouers kan oorleef nie.
Die ideale plek vir ’n unieke afspraak
As jy ’n unieke buitelugervaring wil beleef waar jy Suid-Afrikaanse uile in hul natuurlike omgewing kan waarneem terwyl jy ’n smaaklike aansitete geniet, is die Owl Sky Lounge die plek vir jou. Hier kan jy sien hoe verskillende uilspesies die voerplatforms besoek. Hierdie is nog ’n fondsinsamelingsinisiatief wat uil- en wildbewaring in Suid-Afrika ondersteun. Klik die op die skakel om die webblad te besoek en jou spesiale afspraak te bespreek, https://www.owlrescuecentre.org.za/Owl-Sky-Lounge/