
Abrie Badenhorst (32) is die tweede jongste nie-uitvoerende direkteur wat nog verkies is – Rupert Richter was 31 toe hy in Augustus 2015 verkies is. Dié jongboer het tydens NWK se algemene jaarvergadering op 1 September die leisels by sy pa, Hentie Badenhorst, as direkteur vir wyk 7 oorgeneem.
Abrie Badenhorst was saam met baie van NWK se direksielede se kinders op skool – nou dien hy sáám met hierdie direksielede op NWK Beperk se raad. Hy lag oor dié gedagte, maar voeg by dat hy nog altyd hoë agting vir die direksielede gehad het. “Hulle is almal suksesvolle boere. Oom Heinrich (Krüger), oom Lemmer (Vermooten)… Hulle doen goeie werk op die direksie en is vernuftige sakemanne.”
Boerdery is in sy bloed
Hy het nog altyd ’n hartsbegeerte gehad om te boer en is die derde geslag Badenhorst om hom op die plaas tussen Geysdorp en Kameel te vestig. Abrie wou ná skool dadelik by sy pa en broer op die plaas aansluit. Sy ouers het egter volgehou dat hy homself eers verder moes bekwaam en hy het ’n B.Sc.Agric-graad met vee- en weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf voordat hy in 2012 voltyds by FH Badenhorst Bpk. aangesluit het.
Die Badenhorsts boer met mielies en sonneblom, en het ook ’n kruisbeesboerdery waar hulle hoofsaaklik Simmentalers en Brahmane met mekaar kruis om maksimum basterkrag te ontgin.
Hulle het tot 2018 ’n kommersiële melkery bedryf en het ook ’n klein wildkomponent.
Doen dit beter
Met sy aankoms op die plaas het Abrie besluit om hom op die melkery en die wildkomponent van die boerdery toe te spits, aangesien sy pa en broer hoofsaaklik met die saai- en beesboerdery gemoeid was.
Lede van familie-ondernemings, boerderybedrywe inkluis, stamp dikwels koppe. Hy erken dat sy pa aanvanklik huiwerig was oor die nuwe idees en tegnologie wat hy in die boerdery wou implementeer. Hiervoor het Abrie egter ’n strategiese oplossing gehad. “Die beste manier om die oueres te oortuig, is om dinge op húlle manier, so goed soos hulle, te doen. Dan doen jy dinge op jóú manier, maar beter,” glimlag hy.
“Jy moet op ’n goeie grondslag uitbrei. Begin by die basiese en wys jy kan dit doen. Moenie bestaande praktyke uit die staanspoor as sleg en verkeerd uitkryt nie. Verbeter dit eerder.”
Só het hy onder andere melkmeters by die melkery laat aanbring en verskillende voerrantsoene vir die koeie se onderskeie produksie- en groeistadiums uitgewerk en gevoer, met groot sukses.
Hy het blaarvoeding op die sonneblom begin toepas en proewe geplant sodat hy sy pa met die resultate kon oortuig.
Met die mielies het hulle uiteindelik oorgeskakel vanaf sewe voet na ’n drievoetstelsel.

’n Boer moet Job se geduld hê
“’n Probeerslag neem tot ’n jaar in ’n boerdery. Ander bedrywe het ’n vinniger siklus,” verduidelik Abrie. Hy meen dat ’n mens se jongste drie bulle 50% van die genetika op jou plaas verteenwoordig.
Abrie het aanvanklik eers getalle nagejaag, alle vroulike diere gehou en was nie streng met seleksie nie. “Sy moes net kon kalf. Toe ek uiteindelik op kapasiteit kom, kon ek met seleksie begin.” Hy sou mooi bulle by versies pas, maar dit neem tot 36 maande voordat die vrug van dié keuses sigbaar is.
Daar was die afgelope seisoen genoeg kos en Abrie kon streng selekteer. Hy is opgewonde oor die jong genetika tot sy beskikking. Hulle diere word hoofsaaklik op Noordkaap Lewendehawe se veilings in Stella aangebied en dit is gewoonlik dieselfde klante wat reeds vertroud is met die Badenhorsts se gehalte diere en handelsmerk, wat hulle hier opraap.
Sommige van Abrie se probeerslae het al klaaglik misluk. Hy het in 2014 bosbokkies aangekoop wat in daardie stadium ’n groot trekpleister vir jagters was. Hulle het egter gesukkel om aan te pas en bykans oornag uit hulle kamp verdwyn. “Dan moet jy eerlik kan wees, jou pa in die oë kyk en dit erken,” sê hy.
Sy vrou, Louise, vul aan: “Jy leer soms meer uit wat nié gewerk het nie, as uit dit wat wel gewerk het.” Hy beaam: “Om wins te maak is belangrik, maar om verlies te vermy, is belangriker.”

Kennis is mag
Ná afloop van sy studies het Abrie kursusse in onder andere teelbeginsels en -standaarde voltooi. Hy het in 2013 as jongboerverteenwoordiger by Agri Kameel gedien, is sedert 2017 die voorsitter van Agri Kameel en verteenwoordig ook dié organisasie by Agri Vryburg se boere-unie.
Hy meen dat ’n mens betrokke moet wees as jy op hoogte wil bly van die jongste boerderytendense en veranderings in die bedryf. “Daar is soveel dinge wat verander. Dis nie net tegnologie wat voortdurend verbeter nie, want nie eens twee seisoene is dieselfde nie. Dit is belangrik om op datum te bly. As jy moet opvang terwyl dinge verander en jy is rééds agter… Dit kan jou duur te staan kom.”
Hy beskou die lewe oor die algemeen as ’n voortdurende leerskool. “Nader iemand wat iets beter doen as jy en vra hom of haar daaroor uit. Moenie skaam wees nie. Daar is nie ’n tekort aan mense met ’n passie wat hulle kennis wil deel nie. Sy leuse is: ‘You cannot learn what you think you already know’.”
Abrie sien sy betrokkenheid by georganiseerde landbou as ’n gulde geleentheid om bepaalde werksaamhede en prosedures wat moontlik uitgedien is, te verander. “Jy kan dit aanspreek om beter aan jou behoeftes te voldoen. ‘If not us, who? If not now, when?’,” verduidelik hy.
Dit is ook waarom hy besluit het om homself as direksielid beskikbaar te stel.
Die tyd is reg
Al het Abrie reeds drie jaar gelede direkteurskap oorweeg, het hy tog daarteen besluit. Vandag is hy bly hieroor en meen die tyd is nóú ryp.
Hy besef produsente en ’n landboumaatskappy soos NWK is interafhanklik van mekaar. “Ek wil leer waarom seker besluite op ’n bepaalde manier geneem word. Ek wil weet wat by NWK aangaan. Verteenwoordiging kan nie net in die Lichtenburg-omgewing gesentreer wees nie. Ons moet ook gehoor word en toesien dat dinge hier reg funksioneer.”
Hy het op 2 September saam met nege ander jongmense afgeskop met NWK se Leiers in landbou – ’n ontwikkelingsprogram wat ten doel het om potensiële leiers in die landbou-omgewing met kennis en vaardighede in korporatiewe bestuur, leierskap, strategie en finansies toe te rus. “Dis deesdae ’n besigheid, eerder as ’n boerdery,” motiveer Abrie sy besluit om hierdie program te volg. “Landboukwalifikasies moet ook ekonomie-modules insluit.”
Hy meen ander jongmense is moontlik huiwerig om hieraan deel te neem en hulself as wyksdirekteure beskikbaar te stel – juis omdat hulle dit nié as ’n verbetering van hulself beskou nie en ook nie die voordele wat dit vir hulle boerderye inhou, besef nie.
Neem besluite in belang van die geheel
Volgens Abrie is ekonomie van skaal die grootste bedreiging vir die voortbestaan van kommersiële produsente. “Die vraag is nie hoekom boere die bedryf verlaat nie, maar eerder hoekom daar nie nuwe toetreders is nie. Jy het grond, implemente of beeste en geld nodig om te kan boer. Jy móét ten minste twee van die bogenoemde drie hê om te kan begin.”
Hy meen ook dat diegene wat nié op ’n plaas grootgeword het of daardie basiese kennis het nie, makliker misluk as diegene wat wel daardie voorreg gehad het.
Hoër insetkoste het ook groter risiko’s tot gevolg. “Besluite raak moeiliker. Waar jy voorheen ’n
R1 000/ha-risiko geneem het, beloop ’n risiko nou al R9 000/ha. Groot foute word dus soveel vinniger gemaak.”
Die gesprek keer terug na familieboerderye. “Voorheen was daar vyf gesinne op een stuk grond. Nou het één boer daardie stuk grond nodig om winsgewend te kan boer.”
Volgens Abrie vou boerderye ook soms wanneer ’n pa sterf en ’n seun nalaat wat nooit met belangrike of moeilike besluite vertrou is nie. “Begin deur eenvoudige besluite aan hulle (die seuns) oor te laat. As dit die regte besluit was, kweek dit selfvertroue en kan hulle mettertyd by meer riskante besluite betrek word.”
Abrie kan nie noodwendig ’n besluit dadelik implementeer of arbeid op ’n bepaalde tydstip aanwend soos hy wil nie, omdat sy pa en broer hul eie boerderypraktyke het om te volg en dit dan bloot nie prakties is nie. “Dit is ’n belangrike les wat jong lede van ’n familieboerdery moet leer: Jy neem besluite in belang van die boerdery, nié die individu nie.”