Sedert ek in Januarie 2019 in Lichtenburg nesgeskrop het, was die verkeersligte by NWK Retail (waar Nelson Mandela-rylaan en Republiekstraat kruis) stukkend. Dit het al tot talle frustrasies op dié pad gelei.
Eerstens kry jy motoriste wat dit nié as ’n vierrigtingstop ag nie en bloot oorry. Dan kry jy diegene wat wel stop, maar vóór die een wat eerste gestop het, ry. Hierdie verskynsel word gewoonlik vergesel van hande wat verwoed swaai om motoriste se ergenis aan te dui. Soms duik daar selfs ’n middelvinger op – ’n vorm van nieverbale kommunikasie wat ek liefs nie inspan nie omdat jy nooit weet of die ontvanger van dié sein gewapen is al dan nie. Laastens kry jy motoriste wat redelik gelyk by die kruising tot stilstand kom en dan bykans ’n minuut in afwagting na mekaar staar om te kyk wie eerste gaan wegtrek.
Uiteindelik op Donderdag, 11 Augustus, was daar lig. Ligte! In groen, oranje en rooi. (Terloops, NWK het op eie onkoste – sowat R30 000 – die nodige installasies en arbeid verrig). Maar o wee, het dit nou vir jou tot ’n Babelse verwarring gelei. Die meerderheid motoriste het die kruising steeds as ’n vierrigtingstop geag.
Kyk, ek is vurig agter ’n stuurwiel, ek erken dit. Ek voeg uit die staanspoor 10 km by enige spoedgrens en ek is líéf vir my toeter om my misnoeë met mede-motoriste te kenne te gee. Ek is ook swaar op spuitverf en het daarom my nuwe Woerts Warts in ’n praktiese wit aangeskaf om sake vir paneelkloppers en myself makliker te maak.
Op hierdie einste Donderdagmiddag omstreeks 16:30, nader ek die groen verkeerslig by NWK Retail en dui aan dat ek vanuit Republiekstraat links wil draai in Nelson Mandela-rylaan. Die bestuurder van ’n ou donkerrooi Toyota Corolla, wat wel voor my by die “stopstraat” gestop het, ry reguit aan. Ek moet remme aanslaan en lê op my toeter. Woedend draai ek links, agter dié voertuig aan. Steeds blêr my toeter. Ek sien vaagweg deur sy getinte venters dat die bestuurder van die Corolla sy kop vasgryp.
Ons sit ons reis voort en stop langs mekaar by die kruising van Nelson Mandela-rylaan en Daniëlstraat. Albei bestuurders laat sak hulle ruite. Ek is dadelik op die aanval. “It is a working traffic light!” sis ek met krulle wat wip en sien tóé eers dat daar ’n verskrikte meisie in ’n skooluniform langs hom in die passasiersitplek sit. In Afrikaans antwoord hy: “Mevrou, ek is verskriklik jammer. Ek is só gewoond dat daardie robot nie werk nie. Ek was blind. Ek het dit regtig nie gesien nie.”
Ek knik my kop en die selfverwyt oorval my oombliklik. “Aarde, sluk my in,” dink ek by myself toe ons langs mekaar al verder ons reis in Nelson Mandela-rylaan voortsit. Ja, jy hét oorreageer, tugtig die Heilige Gees my. Ek dink aan Plato se woorde: “Be kind, for everyone you meet is fighting a hard battle.”
Suid-Afrikaners is vuisvoos van – én hulpeloos – teen wetteloosheid en is gedurig op soek na elke greintjie selfgelding wat ons kan kry. Hierdie voorval het my egter gedwing om opnuut my medemens meer gereeld die voordeel van die twyfel te gee: Daardie motoris is dalk laat vir ’n belangrike afspraak, onbekend met die dorp of bloot maar net ’n mens wat ’n vout (sic) maak.