
As onder andere oudpresident van TLU SA vanaf 2004 tot 2008, het Paul van der Walt van Zoetmelksvallei naby Lichtenburg diep spore in landbou getrap. Hy is oortuig daarvan dat ’n produsent agteruit boer as hy nie by georganiseerde landbou betrokke is nie.
Paul van der Walt (69) is tydens NWK se algemene jaarvergadering op 1 September vanjaar met ’n spesiale oorkonde vir 50 jaar se lidmaatskap aan NWK vereer. Hy lê nou die tuig neer en verhuis binnekort saam met sy vrou van die afgelope 48 jaar, Alda, na Hartenbos waar hulle gaan aftree.
“’n Mens kom by ’n punt: Ek het nog nooit geglo om in die tuig dood te gaan nie. Ek is op ’n goeie stadium in my lewe – finansieel gaan dit goed. Ek het nie kans gesien om dit wat ons tot nou toe gemaak het, weer in boerdery te waag nie. Die risiko raak te hoog. Ons kan nou aftree en ons ding doen,” gesels Paul op sy plaas.
Leierskap is in sy bloed
Sy oupa was ’n direkteur van die destydse Noordwes Koöperasie en so ook sy pa. Dié het ernstig siek geword met emfiseem toe Paul besig was om hom as dieselwerktuigkundige te bekwaam. Dit het gelei tot sy besluit om in 1972 op die familiegrond te kom boer. “Ek is nie spyt oor die besluit nie. Ek sou in elk geval kom boer,” vertel hy.
Hy het die grond in 1978 gekoop en uit die staanspoor ’n gemengde boerdery gehad. Die jaar daarna het hy ’n melkery met Holstein-beeste gevestig. In 2006 het hy egter die diere op ’n veiling van die hand gesit weens die stygende koste van ’n volvoerprogram.
Paul het hierna daarop gefokus om sy kommersiële Beefmaster-tipe kudde te vergroot. In 1998 het hy ’n wildkomponent – wat bestaan het uit swartwitpense, rooihartbeeste, swartwildebeeste en blesbokke – op die plaas gevestig. Dié het hy egter stelselmatig laat gaan omdat die seuns nie ’n belangstelling in wild het nie.
Sy seuns – Paul, Danie en Douw – het nou volledig die leisels oorgeneem. Hulle huur die grond by hulle pa en het die trekkers en implemente oorgekoop.
’n Strewe om mense te dien
Paul was sedert 1978 by die bestuur van sy plaaslike boerevereniging betrokke. Hy het op verskeie komitees gedien wat getaak was met sake van belang vir die produsent – onder andere paaie, trekkerlisensies en -bande, landelike veiligheid en mineraalregte.
“Die strewe was nog altyd om mense te dien,” verduidelik Paul sy betrokkenheid by georganiseerde landbou. “Enige boer móét betrokke raak by ’n boerevereniging en spesialiteitskomitees en ook lid wees van ’n koöperasie, anders verloor jy voeling en kry nie al die nodige inligting om ’n sukses te maak van jou boerdery nie. Dan is jy nie relevant en op datum nie.”
Toe Paul begin boer het, het hulle wel trekkers gehad, maar nie stropers nie. “Later het ons oorgeskakel na sleepstropers, nou is daar al stropers met GPS. Die omwenteling was fenomenaal. Jy kan nie dink dat in een mens se leeftyd só baie goed kan verander nie.”
Hy was nog altyd leergierig. “My oupa het destyds ’n Afrikanerstoet gehad en die tegnologie van daardie tyd was ook nie vir hom vreemd nie. Hy was daarop ingestel om nuwe goed te probeer en te aanvaar.
“Daar is mense wat vandag nog ploeg, juis in ’n tyd wanneer die insetkoste-knyptang stadig maar seker nader kruip en winste marginaliseer. Regoor die wêreld moet bewerkings die planeet aarde ondersteun en nie vernietig nie. Daarom móét hulle by hul spesialiteitsorganisasies betrokke raak, anders raak hulle tegnologies gestremd.”
Paul is ook passievol oor opheffing. “Ons sit in ’n land wat só divers is, dat die mense wat agter is, ’n reuse-agterstand het. Die enigste oplossing lê daarin om integriteit teenoor God en mekaar te toon en mekaar te steun.”

Uitdagings – toe en nou
Hy het hom al vantevore in media-onderhoude beywer vir die belangrikheid van ekonomiese skaal om volhoubaar te kan boer. “Die oumense het vir elke kind grond gegee. Die uitdeel of tipe regverdiging wat hulle gehad het, was egter nie haalbaar nie. Jy het met mense gesit wat wou boer, maar nie eintlik kon nie, want die eenheid was te klein. Dit het ’n sosio-ekonomiese probleem geskep omdat hulle nie lenings kon kry nie.
“Toe ons begin boer het, was ’n boerdery-eenheid 256 hektaar. ’n Boer wes van Lichtenburg, kan egter nie hier volhoubaar op droëlande van minder as 1 000 hektaar boer nie. Jou winsgrense het net só klein geword, jy móét groter boer om regtig te kan groei en alles te kan bekostig.”
In die 1980’s en vroeë 1990’s, kon produsente finansieel baie beter beplan, meen Paul. “Ek het vier, vyf jaar lank geweet dat 2 500 liter diesel my R80 sou kos. ’n Ploegskaar en kunsmis het ook jare lank dieselfde gekos. Toe kom inflasie en politieke onstabiliteit wat dit heeltemal uitmekaar geruk het.”
’n Produsent moet nou as’t ware met regerings van ander lande kompeteer wat uitvoerpariteite en wisselkoerse betref en juis daarom moet die eenhede al hoe groter raak. “Jy kan nie meer op 300 hektaar ’n ekonomiese eenheid bou nie. Jy moet nou op 1 000 plus staan om net lewensvatbaar te wees en tred te hou met wat gebeur.”
Dit is juis waarom grondonteiening sonder vergoeding, volgens Paul, sekerlik die grootste struikelblok nóg is wat Suid-Afrikaanse produsente moet oorbrug.
Grond is oorlewing
Die koek wat produsente onder mekaar moet verdeel, raak al kleiner. Hulle moet aanhou groei om te kan handhaaf wat hulle het. Paul waarsku dat dieselfde fout wat kort ná die Tweede Wêreldoorlog begaan is, nie herhaal moet word nie. Hy verwys na die Vaalharts-omgewing waar oudsoldate ná afloop van die oorlog op klein stukkies grond gevestig is om te boer.
Nie net was dié toegekende grond te klein om op ekonomies volhoubaar te boer nie, maar van hierdie oudsoldate het met geweldige post-traumatiese simptome gesukkel en was nie noodwendig in staat om te boer nie. Dit het verskeie sosio-maatskaplike probleme, soos armoede, laat ontstaan.
“Hier moet nog ’n groot werkswinkel deur boere gehou word oor die pad vorentoe. Dawie Roodt (ekonoom) het sy mening op TLU SA se jaarlikse kongres uitgespreek en gevra of dit nie tyd geword het dat boere die buiteland betrokke kry en grond oordra na maatskappye nie. Grondherverdeling gaan egter nie so maklik wees wanneer die buiteland betrokke is nie.”
Daar word verwys na ontwikkelde lande waar produsente grond op langtermyn vanaf die staat kan huur. “Daar karring hulle egter nie aan boere se huurpag nie. Plaaslik is die vertrouensverhouding tussen mense wat die ekonomie dryf, soos boere en die regering, op ’n baie lae vlak.
“Daar sal baie ernstig en omsigtig hieroor gepraat moet word. Die regering sal moet weet hulle gaan mense laat doodgaan van die honger.”
Hy verduidelik dat, toe hy president van TLU SA was, ’n afvaardiging van dié organisasie Zimbabwe besoek het. “Daardie mense… Party van hulle het gras geëet as gevolg van plase wat net gevat is en daar was net nie meer kos nie. Dit in ’n land wat voorheen uitgevoer het. Dis nie die pad wat ons moet loop nie.”
Die onsekerheid rondom grondonteiening sonder vergoeding, laat die land se produsente stagneer, sê Paul. “Hulle vra: ‘Moet ek nog hierdie stoor opsit?’ Jou uitbreiding het baie laer vlakke bereik.”
Sou landbou hierdeur benadeel word, sal dit ’n verwoestende rimpeleffek hê. “As jy nie kos het om te eet nie, gaan mynbou byvoorbeeld, nie ontwikkel nie. Landbou en die ekonomie móét altyd gesond wees vir ’n land om vorentoe te kan gaan.”
Paul het nie die antwoord op dié politieke vraagstuk nie, maar voeg by dat dit hom diep bekommer. “Ek weet wel ons het mekaar nodig. Ons moet ’n eenheid wees om Suid-Afrikaanse mense te voed en dit moet landbou se grootste doel wees.”
Wink daar dan nog ’n toekoms?
“Daar is altyd hoop,” glimlag Paul. “Die boere wat vandag nog daar is, is positief en wil steeds boer. Hulle ken Suid-Afrika en het ’n sukses gemaak tot waar hulle vandag staan. Hulle sal steeds Suid-Afrika voed.
“Ons is nog baie plattelands en nie so baie verstedelik nie. Elkeen wat ’n stukkie grond kry, het die hunkering om te boer. Gun net die boere wat tans daar is, dat hulle kan produseer en die land voed.”
Wéér noem hy dat voedeselsekerheid die kern tot die opheffing van ’n samelewing is. “Dan gaan jy mense hê wat hul nie elke dag bekommer oor wat hulle moet eet nie. In hierdie stadium is die oorgrote meerderheid van Afrika-nasies net besig om te kyk hoe hulle kan oorleef.”
Daar word gesteel om in basiese behoeftes soos kos te voorsien en hierdie misdade eskaleer na moord. “Kom ons draai die prentjie om… Jy moet kos kry om verstandelik en geestelik te ontwikkel.”
Van koöperasie tot landboumaatskappy
Paul het nog altyd in die beginsel van koöperasies geglo – naamlik dat dit produsente moes bemagtig. “Met die ontstaan van koöperasies kon boere hul produkte gesamentlik bemark. Boerdery het meer stabiliteit geniet en dit het baie vir die land se voedselvoorsiening beteken. Jy het pryse gekry wat vir baie jare sywaarts beweeg het.”
Die destydse egalisasiefonds wat pryse geëgaliseer het om erge prysskommelinge te vermy, het volgens Paul ook baie goed gewerk. “Dit was ’n baie goeie stelsel deurdat dit nie net boere se pryse geëgaliseer het nie, maar ook dié van die verbruiker.”
Hy was destyds gekant teen die oorskakeling van Noordwes Koöperasie na ’n maatskappy, omdat hy meen dat ’n maatskappy eerder na ’n aandeelhouer se belange omsien, teenoor ’n koöperasie wat sy lede se belange en ook dié van die breë gemeenskap bevorder.
“Ledebelang het ’n groter invloed op die onmiddellike omgewing,” verduidelik Paul en verwys na handelswinkels in die verafgeleë platteland, soos byvoorbeeld Gerdau, Piet Plessis en Kameel. Dit bied produsente, hul gesinne én werkers nabye toegang tot gereedskap en verbruikersgoedere.
Tog erken hy dat dit weens politieke omwentelinge in die land wel nodig was om Noordwes Koöperasie se posisie te heroorweeg. “Dis jammer dat stelsels wat gewerk het onder politieke druk gekom het. Ek sou wou hê dat boerdery meer onafhanklik funksioneer, soos die mynwese.
“Vat VKB wat ’n koöperasie gebly het. Dié het gesond gebly en nie in die warboel beland waar NWK en Senwes vervreemd geraak het van sy kliënte nie. Hulle het altyd vorentoe gegaan en dit bring my terug by stabiliteit – om stabiliteit in die platteland vir sy mense te bring. Gelukkig het die direksie en personeel geluister na die boere oor ’n lang tyd. Al was daar harde woorde… Ons is nou terug en kan weer stabiliteit bring.”
Onder andere het NWK se sakebelange elders in Afrika dié maatskappy duur te staan gekom. “Ek is egter nou baie rustig. NWK het omgedraai en is op die regte pad vandag.”
Leiers mag maar koppe stamp
Een van die spesiale besluite wat tydens die jaarvergadering voorgehou is, behels dat 75% van die direksie uit wyksdirekteure moet bestaan en 25% uit gekoöpteerde direkteure, uitgesluit die maksimum van twee onafhanklike direkteure. Voorts is ’n besluit deurgevoer waarvolgens direkteure ná drie jaar moet uittree. Hulle kan hulself egter weer ná afloop van dié termyn, herverkiesbaar stel.
Paul voel sterk daaroor dat produsente wat eerstehandse ervaring van die bedryf het en leiersposisies in boereverenigings beklee het, as direkteure van NWK moet dien. “Vóór hy sy voet op ’n plaas sit, moet hy lid word van ’n boerevereniging.”
Hy meen daar is twee snykante daaraan om leierskap te vernuwe. “Jy verloor stabiliteit aan die een kant, maar as jy nie jaarliks herkies nie, kan jy ook verkeerde goed wat besig is om plaas te vind, nie dadelik regstel die volgende jaar nie.
“Daar is ook ’n ander deel wat kontraproduktief is: Die ondervinding en skakeling wat ’n direkteur reeds met mense het, word ingeboet die dag as hulle uittree. As jou balans tussen amptenary en die direksie reg is, behoort dit egter nie só ’n groot impak te maak nie.
“Jy moet vars gedagtes inkry, soos die jongboere wat nou daar is. Gebruik hulle kennis. Ons het genoeg ouer mense wat die stabiliteit benut. Jy kan só verkeerd raak dat jy heeltemal verkeerd raak, of só reg dat jy reg bly,” glimlag hy.
Hoewel Paul ten gunste daarvan is dat jongboere opgelei word om eendag as direkteure te dien, soos tans met NWK se “Leiers in landbou”-program, meen hy dat opleiding nie die enigste voorvereiste moet wees om as direkteur te kan dien nie.
“Anders kan ons die kiesstelsel tot niet maak. My gerustheid lê daarin dat die ou wat uit die boerevereniging kom, juis die finesse het vir landbou. Jou beste plan begin by ’n boerevereniging en word verfyn deur al die strukture op na bo.”
Hy waarsku dat direkteure nooit hulle wil moet probeer afdwing nie. “As iets heeltemal teen jou grein gaan, moet jy bereid wees om opsy te staan, eerder as om by die groep aan te pas.” Dit is onvermydelik dat hulle meningsverskille sal hê. “As julle nie groot genoeg is om van mekaar te verskil nie en julle wil mekaar oortuig en daar uitloop as ’n eenheid, maar een ou voel steeds gebelg omdat hy nie sy punt kon oorkry nie, is daar ’n siekte en moet dit uitgepraat word. Ons móét kan verskil van mekaar, maar ook die gerustheid hê dat alles ten goede sal meewerk.”

Wyshede vir ’n volgende generasie
Paul sluit af: “Omdat ons in ’n boerdery is, moet ons ons afhanklikheid van God erken. Van God drie-enig. Jy moet dit só erken dat jy ook ander mense in die proses sáám met jou neem en opbou.
“Tweedens – luister na raad. Kyk na nuwe tegnologie en ontwikkelinge. Beproef dit, sif dit en gaan vorentoe daarmee as dit werk. Jy bly rentmeester van dit wat jy het. Dis nie joune nie. Hanteer dit alles met respek.”