Deel 2
Die meeste produsente is vertroud met konvensionele grondbewerking en het dit telkens deur die jare met groot welslae vir die produksie van graangewasse ingespan. Tog is daar verskeie voordele verbonde aan bewaringsbewerking wat produsente nie durf ignoreer nie.
Voedselproduksie het ’n wetenskap geword wat al hoe meer intensiewe bestuur vereis. Presiese bestuur en die verbetering van tegnologie stel elke produsent vandag in staat om die grond op sy plaas volhoubaar te bewaar, te verbeter en tot die volle potensiaal te benut. Rigiede en vaste oudmodiese bestuurstegnieke word al meer uitgefaseer soos wat daar na presisieboerdery en -toerusting oorgeskakel word om aan spesifieke vereistes te voldoen.
In Deel 1 van hierdie artikelreeks (wat in die Maart/April 2023-uitgawe verskyn het), is daar na die bekende konvensionele bewerkingstelsels, asook die voor- en nadele daarvan, verwys. Baie alternatiewe bestaan egter vir konvensionele bewerkingstelsels. Die alternatiewe kan egter in een begrip saamgevat word, naamlik bewaringsbewerking.
Bewaringsbewerking
Bewaringsbewerking is ’n bestuurspraktyk wat daarop gemik is om die tipe bewerkings en intensiteit daarvan te verminder, om sodoende meer omgewingsvriendelik (volhoubaar oor die lang termyn) en ekonomies te wees. Dit sluit verskeie bewerkingstrategieë met ’n gesamentlike doel in: Om die grond so min as moontlik te versteur.
Hierdie praktyk laat minstens 30% plantmateriaal op die grond agter (Foto 1). Voorbeelde sluit in:
- Geenbewerking: Dit behels die plant van gewasse direk op die vorige gewas se reste sonder dat enige meganiese voorbereidings aan die grond gedoen is (Foto 2). Geenbewerking is die mees ekstreme vorm van bewaringsbewerking.
- Minimumbewerking: Met dié tipe bewerking word sommige konvensionele tegnieke steeds gebruik, maar word daar gepoog om minimum bewerkings op die land te doen.
- Strookbewerking: Dit stem baie ooreen met geenbewerking, met die enigste verskil dat daar ’n smal strook bewerk word waarin die saad en kunsmis geplaas word.
- Rifbewerking: Met dié metode word ’n effense opgehefde saadbed gemaak waarop geplant word.
- Deklaagbewerking: Met hierdie tipe bewerking word sommige van die plantmateriaal in die boonste laag van die grond geïnkorporeer. Dit laat ten minste ’n derde van die materiaal op die oppervlak, waarin die opvolggewas dan geplant word.


Hoewel bewaringsbewerking verskeie voordele inhou, het dit ook nadele waarvan die produsent moet weet. In Tabel 1 word die voor- en nadele volledig gelys.
Ten spyte van al die voordele van bewaringsbewerking, is daar steeds aspekte soos moontlike grondchemiese regstellings, grondkompaksie, onkruidinfestasie, die gebruik van dekgewasse en gewasrotasie, asook implemente en toerusting, wat in ag geneem moet word.
BEWARINGSBEWERKING VERSUS KONVENSIONELE BEWERKING
Konvensionele en bewaringsbewerking kan met mekaar vergelyk word, soos in Tabel 2 uiteengesit. Herhaaldelike konvensionele bewerking kan tot die grootskaalse vernietiging en agteruitgang van landbougrond lei. Bewaringsbewerking poog om dit aan te spreek en reg te stel deur die volgende doelwitte na te streef:
(a) Vermindering van water- en winderosie.
(b) Die verbetering van grondgesondheid.
(c) Die verbetering van grondlewe.
(d) Verbetering van volhoubaarheid oor die lang termyn.
Gevolgtrekking
Met ’n vinniggroeiende bevolking word daar toenemende druk op die omgewing en beskikbare hulpbronne geplaas om voldoende voedsel te produseer en te voorsien. Die landbousektor is direk afhanklik van die natuurlike hulpbronne vir onder andere gewasproduksie. As konvensionele metodes aaneenlopend toegepas gaan word, sal produktiewe grond tot só ’n mate agteruitgaan dat insette al hoe hoër en opbrengste al hoe swakker gaan word. ’n Kopskuif is nodig om meer volhoubaar te produseer. Die antwoord lê waarskynlik in bewaringsbewerkingstrategieë.
Die toepassing van ’n alternatiewe strategie sal positiewe gevolge oor die lang termyn hê, wat sal verseker dat toekomstige generasies kan voortbou op goeie besluite wat voorheen geneem is en volhoubaar kan voortbestaan.
Bronnelys
- Cherlinka V, 2021. Conservation tillage farming: Practices to protect soil. https://eos.com/blog/conservation-tillage/ [8 February 2023]
- Institute of Agriculture and Natural Resources: University of Nebraska-Lincoln, 2023. Tillage: Advantages and disadvantages. https://cropwatch.unl.edu/tillage/advdisadv [8 February 2023]
- Stone C, 2018. To till or not to till? Understanding the pros and cons of tillage practices on your farm. https://radium.co.za/till-not-till-understanding-pros-cons-tillage-practices-farm/ [26 January 2023]
- UC Sustainable Agriculture Research and Education Programme, 2017. ‘Conservation tillage.’ What is sustainable agriculture? UC Division of Agriculture and Natural Resources. https://sarep.ucdavis.edu/sustainable-ag/conservation-tillage#:~:text=Conservation%20tillage%2C%20or%20minimum%20tillage,soil%20surface%20after%20tillage%20activities [8 February 2023]
- UNEP Copenhagen Climate Centre (UNEP-CCC), 2023. Conservation tillage. https://www.ctc-n.org/technologies/conservation-tillage [26 January 2023]