Dit is byna onmoontlik om selfs met die beste bestuur ’n speenpersentasie van 100 te behaal. Wanneer die speenpersentasie byvoorbeeld 80 is, beteken dit dus dat 1,25 koeie se koste aan elke kalf toegedeel moet word. Anders gestel, moet die koste van 125 koeie deur 100 kalwers gedra word. Die speenpersentasie het ’n groot invloed op ’n speenkalf se produksiekoste.
Verskeie kostes word vir die grootmaak van ’n speenkalf aangegaan. Een van die verskuilde kostes, wat dikwels nie in berekening gebring word nie, is die addisionele koste daaraan verbonde dat “meer as een koei” benodig word om een kalf te kan produseer.
Koste
Volgens Felix en Fairbairn (2023) behoort die volgende items by die meeste begrotings ingesluit te wees:
- Selfgeproduseerde en aangekoopte voer maak die grootste deel van die koste uit, soos by die meeste veevertakkings. Neem altyd sover moontlik alle uitgawes in ag, veral in die geval van selfgeproduseerde voere.
- Toerusting en voorraad soos voerders, omheiningsmateriaal, oprigtingskoste en store soos benodig om ’n kudde te onderhou.
- Herstel en onderhoud van toerusting soos kraalfasiliteite, heinings, mengers en implemente om voer te produseer.
- Bemesting en plaagbeheer, veral waar eie voer geproduseer word, probleemdierbeheer, koste vir die maak van voorbrande of om onkruiddoder langs heinings te spuit.
- Huur van toerusting of kontrakteurskoste, byvoorbeeld waar hooi of kuilvoer gemaak moet word.
- Koste verbonde aan die aankoop van spekulasievee, soos die aankoopprys, vervoer, permitte, kommissie en verwerking.
- Versekering en rente op lenings (finansieringskoste).
- Arbeidskoste aan werkers en bestuurders betrokke by die veevertakking, hetsy direk of indirek, byvoorbeeld met voerproduksie.
- Koste verbonde aan dieregesondheid, soos veeartseny-uitgawes, entstowwe en medikasie.
- Konsultasiefooie wanneer van konsultante gebruik gemaak word.
- Vervoer- en bemarkingskoste, veral in die geval waar eie vervoer gebruik word en dikwels nie teen die vertakking geboek word nie.
Gevallestudie
Ter illustrasie word die koste vir die produksie van speenkalwers vir twee verskillende studiegroepe aangedui (Tabel 1). Dit word beklemtoon dat dit nie die doel is om die twee studiegroepe met mekaar te vergelyk nie en daarom word hulle anoniem hanteer.
- Studiegroep 1 is ’n voorbeeld van gemengde boerderypraktyke en daar is twaalf produsente in dié groep.
- Studiegroep 2 bestaan uit agt produsente, met ’n aansienlik sterker fokus op veeboerdery en minder op akkerbou. Hierdie groep is dus ernstiger daarop gefokus om planne rondom hul veevertakkings te maak. Hul inkomste word deur ander aksies in die veevertakking, soos spekulasie met vee, gegenereer.
KOSTE PER KOEI
Dit is belangrik om daarop te let dat daar ’n gemiddeld van onderskeidelik 266 en 376 koeie per kudde was vir Groep 1 en 2 (Tabel 1). Daar was dus gemiddeld 110 koeie meer in die agt kuddes van die produsente in Groep 2, teenoor die twaalf kuddes van die produsente in Groep 1. Dit is ’n aanduiding daarvan dat die veefaktor in Groep 2 meer prominent as in Groep 1 se geval was. Volgens Tabel 1 was die gemiddelde produksiekoste per koei R4 295 vir Studiegroep 1 en R5 807 vir Studiegroep 2.
Die speenpersentasies van die twee groepe vir die spesifieke jaar was egter baie vergelykbaar, inteendeel byna identies op 85% en 86%. Dit is ook duidelik uit die relatiewe hoë speenpersentasies (Scholtz en Bester, 2010) dat, alhoewel die produsente in Groep 1 se boerderye meer gediversifiseer is as die produsente in Groep 2 s’n, albei groepe die bestuur van hul kuddes ernstig opneem.
Die koste wat in die produksiekoste van dié twee studiegroepe saamgevat word, sluit alle koste vir die gegewe jaar vir beide die kalf en die koei in. Die gemiddelde produksiekoste per speenkalf beloop onderskeidelik R5 053 en R6 752 vir Studiegroep 1 en 2 (Tabel 2).
Samevatting
’n Mens hoor gereeld hoe daar verwys word na die speenkalf se verkoopprys en dan word daar meermale ook ’n syfer “uit die lug” geneem oor die “koste” aangegaan vir die kalf se produksie, en die verskil word losweg geneem as die “wins” per kalf. Uit bogenoemde syfers is dit egter duidelik dat dit belangrik is om die kudde op die plaas as vertakking volledig te ontleed om die werklike beeld te kry. Maak ook seker dat alle inkomstes en uitgawes volledig in ag geneem word wanneer die vertakking ontleed word (Botha en Moodie, 2022).
Artikel geskryf deur: Pieter le Roux, NWK Landboubestuursdienste.
Bronnelys
- Botha P and Moodie M, 2022. The ins and outs of beef feedlot economics. SA Graan/Grain, 3 Mei 2022 (https://sagrainmag.co.za/2022/05/03/the-ins-and-outs-of-beef-feedlot-economics/)
- Felix TL and Fairbairn CA, 2023. Calculating the cost of beef production. Penn State Extension, Penn State College of Agricultural Sciences (https://extension.psu.edu/calculating-the-cost-of-beef-production)
- Scholtz MM and Bester J, 2010. Off-take and production statistics in the different South African cattle sectors. Results of structured survey. Appl. Anim. Husb. Rural Develop., 3(1):19-33