Geveerdes kry ’n tweede lewe
Verskeie reddingspogings het die Murrays van die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing gedurende die eerste tien dae van April besig gehou. Hier is net ’n paar:
Dié ses uilkuikens is by ’n laerskool in Ekangala naby Bronkhorstspruit ontdek toe opknappingswerk aan ’n klaskamer gedoen is. ’n Werker het hulle bo die plafon gevind en besluit om ’n vinnige geldjie te maak deur hulle aan ’n plaaslike sangoma te verkoop. Toe die personeel dit uitvind, moes hy teruggaan na die sangoma, die geld terugbetaal en die kleinspan weer terugbring, waarna die Murrays gekontak is.
’n Pragtige jong nonnetjiesuil is by ’n jeugsentrum (YMCA) in Orlando, Soweto, gered. Sy het waarskynlik by ’n oop venster ingekom en toe heel rustig die oggendkerkdiens wat daar aangebied is saam met ’n vol gemeente bygewoon. Nie seker of ander nonne ook die diens bygewoon het nie!
Tot die Russe moes die hulp van Brendan Murray inroep toe ’n uil nesgemaak het in die lugkanaal van een van hul myntrokke. Vyf uileiers is ontdek, wat binnekort vyf uilkuikens kan oplewer.
Dié dame het inkopies gaan doen in die Parkview-winkelsentrum in Pretoria, maar kon nie die uitgang kry nie. Dié reddingspoging was die Owl Rescue Centre se 60ste maatskappyreddingsgeval vir 2023.
Renosters se doen en late
Op Goeie Vrydag het die Care for Wild Rhino Sanctuary sowat 80 kinders van die plaaslike gemeenskappe by dié fasiliteit bederf. Die jongklomp was besig om sokker en netbal op die tydelike velde van die intensiewe beskermingsone te speel toe Storm, ’n renosterbul, kom ondersoek instel. Die 2 ton-renoster se teenwoordigheid het egter nie die kinders se geesdrif gedemp nie. Die besoek vorm deel van die sentrum se deurlopende opvoedkundige en uitreikprogramme, waar kinders meer oor renosters geleer word sodat hulle dié spesie sal respekteer.
“Klein” Daisy, ’n 16 maande oue renosterkalfie, het ’n nuwe kombers gekry. Haar beste maat, die sebra Modjadji, het kom seker maak dat dit die toets slaag. As die twee volwasse raak, sal hulle minder afhanklik raak van mekaar en die sosiale interaksies van hul eie spesie nodig hê. Maar vir nou is dié twee besties onafskeidbaar.
’n Paaseier met ’n verskil
Die span van VulPro kon nie hul oë glo nie toe die eerste aasvoëleier vir 2023 op Paassondag verskyn het. Dit het die viering van Paasfees vir die personeel ekstra spesiaal gemaak.