’n Reuse-eer het ’n beesprodusent van die Stella-omgewing te beurt geval toe nie net één nie, maar twéé van sy koeie vanjaar deur SA Stamboek as die elite-koeie van onderskeidelik die Santa Gertrudis- en Romagnola-rasse aangewys is. Hy is die enigste teler wat tot dusver dié prestasie met twee rasse kon behaal.
Dail van Rensburg (63) van die plaas Kalkpan tussen Delareyville en Stella bedryf die Rensbou Santa Gertrudis-, Romagnola- en Ankole-stoeterye, waarvan sy Santa Gertrudis- en Romagnola-stoeterye tans die grootste in die land is. Hy het ook onlangs ’n Beefmaster-stoet begin.
Sy spogkoei van die Santa Gertrudis-ras wat aan hom dié eerbewys besorg het, is DT 12-0130. Sy het op 34 maande die eerste keer gekalf en sedertdien al agt kalfies gehad. Haar interkalfperiode (IKP) is 364 dae en sy handhaaf ’n speenindeks van 109 (dus 9% beter as die ras se gemiddeld).

“Toe ek hoor sy is die beste koei, het ek nie eens geweet hoe sy lyk nie,” lag Dail. “Sy loop op ’n plaas wes van Stella en is nooit gepamperlang nie.”
DT 12-0072 van sy Romagnolas het op 35 maande die eerste keer gekalf en ook al aan agt kalfies geboorte geskenk. Haar IKP is 365 dae, met ’n speenindeks van 102.

Dail het reeds verskeie vorige jare hierdie eerbewyse in-gepalm. Net verlede jaar het die Landbounavorsingsraad (LNR) ook sy Romagnola DT 10-0102 as die nasionale elite Ramognola-koei bekroon.
Beide Dail se Santa Gertrudis- en Romagnola-kalwers speen op sewe maande teen ’n gemiddeld van 260 kg.
’n Liefde vir die ongewone
In ’n wêreld waar Bonsmaras volop is, boer Dail met rasse uit Amerika (Santa Gertrudis), Italië (Romagnolas) en diep op in Afrika (Ankoles uit Uganda en Rwanda), wat fantasties in hierdie geweste aard.
Die eintlike doel van NWK Arena se besoek aan Dail op 28 Maart was juis om sy pragtige trop Ankoles van nader te bekyk, toe dié publikasie van bogenoemde eerbewyse, wat op 1 Mei aan hom toegeken sou word, te hore kom.
Dail vertel uit die staanspoor dat hy van kleins af lief was vir beeste en dit word vinnig duidelik terwyl ons na die kamp met Ankoles ry. Op pad soontoe stop hy eers by ’n Romagnola-koei wat al 18 jaar oud is. “Sy kry lekker kos,” verduidelik hy en wys na ’n ander een van 17 jaar oud met ’n gespeende kalfie by haar.
“Hulle kalf gereeld. Klokslag. As ek sien sy (’n koei) word oud en kalf gereeld, beloon ek haar en gee haar kos as haar tande stomp word.” Net verlede week het een van sy 16-jarige Romagnola-koeie gekalf, sonder dat sy kragvoer gegee is.

“Dis ’n antieke ras wat uit die Romeine se tyd dateer,” vertel hy van die Romagnolas. “Hulle het hulle kanonne met dié beeste gesleep. Die beeste wat moeg geword en pyn gehad het, is geslag en geëet, en met die taaies is daar geteel. Hulle het baie sterk pote en bene en voel nie sommer pyn nie,” vertel Dail.
Sy pa het aanvanklik slegs met mielies geboer en ’n Friesstoet bedryf. Dail was destyds in die weermag op ’n kamp in Mpumalanga, waar hy met die Santa Gertrudis kennis gemaak het. Hy het drie koeie gekoop en na Kalkpan gebring.
Die Romagnolas het hy by ’n Italianer in Hekpoort gesien, wat ’n beesras van sy geboorteland in Suid-Afrika wou vestig. Hy wou egter nie van sy diere aan Dail verkoop nie en hy het hierna van hulle by ’n stoetteler in Frankfort raakgeloop. Ook hy wou aanvanklik nie van sy diere ontslae raak nie, maar sy gesondheid het hom later genoop om tog van hulle afstand te doen en Dail het hulle oorgeneem.
Kort nadat Dail in 1988 met ’n Santa Gertrudis-stoetery begin het, is hy saam met sy gesin na die dieretuin in Bloemfontein, waar hy die eerste keer Ankoles gesien het. “Ek kon nie glo dat jy sulke diere kry nie. Ek was eintlik geskok. Ek het dit nog met my ou videokamera afgeneem. Op die bordjie het gestaan Watusi, soos hulle in Rwanda bekend staan.” Dié beeste het in dieretuine aangeteel en is verkoop en Dail het in 2001 só sy eerste Ankoles bekom.
President Cyril Ramaphosa is ook bekend vir sy liefde vir Ankoles, en Dail het op president Ramaphosa se heel eerste veiling in 2017 ’n bul gekoop wat hy Sugar Daddy gedoop het weens sy sagte temperament. Hy het met ’n tweede bul (Big Daddy), wat hy ook by hom gekoop het, die indrukwekkende Spot (só genoem weens sy gevlekte vel) geteel.

Afrika is nie vir sissies nie
Die Ankoles is in 1927 vanuit Uganda na ’n dieretuin in Duitsland uitgevoer en sou in die 1960’s in Amerika aanland, waar daar ook met hulle geteel is. Omdat daar sedertdien oor die wêreld met Ankoles geteel is, het Dail onlangs genetiese toetse op sy Ankoles laat doen, wat bewys dat hulle uit die oorspronklike ras in Uganda geteel is.
Die Ankole is kleinerig gebou, maar uiters gehard. Ander beesrasse het die afgelope twee nat seisoene kwaai met vrotpootjie gesukkel, maar nie die Ankole nie.
Hulle is uiters vrugbaar en toon goeie moederseienskappe. Die sierlike horings klink hol as hulle teen mekaar kap en bestaan uit beenholtes met are en sinusholtes wat help om die dier in die fel Afrika-son te verkoel.
Dail het 80 Ankole-koeie wat op ’n redelike afgeleë plaas loop, maar het die afgelope twaalf jaar nie een voorval van diefstal hier gehad nie. Hy glo dis omdat veediewe moontlik versigtig is vir die horings en omdat Ankoles groepsgebonde is en saambondel. “As een siek raak, kan jy hom nie alleen uitkeer nie. Jy moet die hele trop kraal toe vat,” vertel Dail.
Hoewel Ankoles nie die groei van ’n gewone vleisbees het nie, kruis Dail dié diere graag met sy Santa Gertrudis en Romagnolas vir beter groei, meer gehardheid en siektebestandheid, asook goeie vrugbaarheid en gereelde kalwing.
Die ideale Ankole moet goeie kondisie hê onder goeie omstandighede. Dail meen die produsent wat met Ankoles stoetteling doen, moet na ’n goeie balans tussen die lyf en horings streef sodat die dier proporsioneel goed vertoon. Spot is die ideale voorbeeld.
Hoewel die rooi Ankole elders in Afrika meer gewild is weens die treffende kontras met die wit horings, verkies plaaslike kopers die gevlekte Ankole, sê Dail. “Hoe bonter, hoe beter.” Hy wys na ’n pragtige bulkalf van Spot, wat hy ’n Top Deck (soos die sjokolade) noem. Die wit laag onder lyk kompleet soos vanieljeroomys, met ’n laag sjokoladesous (rooi) bo-oor. “Net ek in Suid-Afrika het dit. Die kleurpatroon kom van Amerika af.”
Dail beoog om op 5 Augustus sy eerste produksieveiling in Frankfort te hou, waar van sy Ankole- en Romagnolas te koop sal wees. Hy beskou dit as ’n gulde bemarkingsgeleentheid, waar hy meer blootstelling aan dié besonderse rasse sal kan verleen.
Hoewel hy baie Ankoles uit die hand verkoop, soek hy ’n groter afsetpunt vir hierdie ras.
’n Stoet verseker goeie genetiese materiaal
Dail beskou ’n stoet as ’n geldbesparende maatreël, omdat hy nie so gereeld in nuwe bulle hoef te belê vir goeie genetiese materiaal nie.
Die eerbewyse deur die jare bou vir hom ’n naam as ’n gesoute teler en is ’n bewys dat sy diere vrugbaar is. “Ek doen darem iets reg,” glimlag hy nederig.
“Kyk na die koei en leer jouself om só ’n tipe koei deur jou teling te behou, want sy gaan vir jou geld bring,” is sy raad.
“Sit die beste by die beste… en hoop vir die beste!”