Bemeste weiding is ’n goeie belegging vir maer jare wat voorlê en ’n doeltreffende hulpmiddel in die bestuur van hierdie kommoditeit.
Danie van den Berg, ’n landboukundige by Omnia, het op 16 Maart by ’n Grasdag by Piet Plessis in Noordwes opgetree. Sowat 30 produsente van die omgewing het kom luister en eerstehands gesien hoe ’n proef wat die afgelope jaar op bloubuffelgras op Wynand Bester se plaas gedoen is, vergelyk met ’n kamp wat geen bemesting ontvang het nie.
Proefresultate
Twee kampe van 5 hektaar elk is as onderskeidelik toets- en kontrolekampe ingespan. Die toetskamp is in Oktober verlede jaar met 400 kg Greensulph, wat gelykstaande is aan 100 kg stikstof (N) en 8 kg swael (S), bemes.
- Die drakrag van die toetskamp was gelykstaande aan 21 verse oor 90 dae en dié van die kontrolekamp slegs tien verse oor 60 dae.
- Die gemiddelde toename per bees in die kontrolegroep was slegs 46,3 kg, teenoor 87 kg in die toetskamp.
- Boonop het die tien verse in die kontrolekamp 34 kg lek gevreet, teenoor slegs 24 kg lek wat in die toetskamp benut is. Dit dui daarop dat die bemeste weiding beter in die diere se voedingsbehoeftes voorsien.
- Januarie was droog, en Wynand het opgemerk dat die bemeste deel baie vinniger gereageer en gegroei het nadat die reën wel weer begin val het. Diere kon hierdie kampe dus vinniger benut.
Danie het beaam dat russtelsels en bemesting mekaar komplementeer, en dat bemeste weiding vroeër en langer bewei kan word. “Dit is uiteraard koste-intensief omdat kunsmis duur is en daarom bedoel vir klein, aangepaste weidingskampies, nie ’n hele plaas nie. Die doel van bemeste gras is dus om voorsiening te maak vir droë jare deur die gras te sny, te baal en natuurlike weiding langer te laat rus.”
As die vervoerkoste van voer tydens droogtes boonop in ag geneem word, klop die som waarskynlik om weiding op jou eie plaas te bemes en te baal.