Die fosfor in veevoere is meestal afkomstig vanaf rotsfosfaat, wat verwerk word tot mono-kalsiumfosfaat (MCP) en ander produkte. MCP is dus die hoofbron van fosfor in veevoere. Die prys hiervan het egter die afgelope twee jaar meer as verdubbel en is tans ongeveer R21 000 per ton. Produsente bevraagteken dus met reg die belangrikheid van fosforaanvulling by plaasdiere, veral herkouers.
Dit is bekend dat gronde in Suid-Afrika oor die algemeen arm is aan fosfor. Hierdie tekorte in die grond kom dus ook in weidings voor. Fosfor is naas twee ander makro-voedingselemente (koolhidrate en ruproteïen, oftewel RP) die belangrikste voedingstof waarvoor voorsiening gemaak moet word.
Die belangrikheid van fosfor
Uitgebreide studies deur Du Toit et al. (1940) om die mineraalinhoud van veldgrasse te ondersoek, het bevind dat die fosforinhoud van veldgrasse in baie dele van Suid-Afrika onvoldoende is om produserende beeskuddes te onderhou. Dit het daartoe gelei dat fosforaanvulling by beeste (asook skape) ’n algemene praktyk geword het en ’n merkbare positiewe uitwerking op reproduksie en groei by beeskuddes in verskeie gebiede gehad het (De Brouwer et al., 2000).
Fosfor speel ’n sleutelrol in die oordrag van energie en die regulering van ’n dier se pH. Dié mineraal is by die meeste biochemiese prosesse en reaksies in die liggaam betrokke. Fosfor is verder ook ’n noodsaaklike komponent van die skelet en tande, en dit kom ook in alle selmembrane voor.
By herkouers speel fosfor ’n baie belangrike rol in die groeiproses van rumenmikrobes (bakterieë, fungi en protosoë). Dié element is dus indirek ook betrokke by die verteringsprosesse van ruvoer in die rumen. Sowat 50% van die fosfor wat in weidings voorkom, is in die anorganiese vorm en is geredelik beskikbaar vir opname deur die dier.
Die oorblywende fosfaat kom grootliks as veresterde fosfate voor. Die afbreking en vrystelling van hierdie fosfate word deur toestande in die rumen, retikulum en abomasum bepaal (Dollemore, 2015). Die welstand van die mikrobepopulasie in die rumen en ander herkouermae is dus belangrik vir die vertering van ’n groot gedeelte van die fosfor in weidings.
Fosfor word deur speeksel na die rumen gesirkuleer. ’n Fosfortekort lei tot laer veselverteerbaarheid, voerinname, voorsiening van energie en proteïene, en gevolglik swakker groei en reproduksie. Altesaam 16 proewe wat wêreldwyd gedoen is, toon dat die gemiddelde kalfpersentasie 75,6% was wanneer fosfor aangevul is, teenoor 52,9% wanneer geen fosforaanvulling verskaf is nie (De Brouwer, 1998).
Die opvallendste kliniese simptoom is die voorkoms van “pika”, ’n toestand waar diere aan vreemde voorwerpe soos bene, skilpaddoppe en houtpale begin kou. Dit is al waargeneem dat diere selfs grond vreet. Kliniese simptome is egter meermale slegs aanduidend van ’n baie groter subkliniese tekort, wat gewoonlik eers waargeneem word wanneer dit te laat is en skade en verliese reeds voorgekom het.
Verskeie ander simptome kan met fosfortekorte geassosieer word. ’n Verlaagde eetlus, groei en vrugbaarheid is die algemeenste, maar laasgenoemde het die grootste impak op winsgewendheid.

Hoeveel fosfor is genoeg?
Weidings bevat 0,3 g tot 1,5 g P/kg droëmateriaal. Bemeste hooi bevat 1 g tot 2 g P/kg hooi. Hiervan is sowat 60% tot 65% benutbaar deur die dier. Dit is nie eenvoudig om fosfortekorte op plaasvlak te “meet” nie.
Die fosforinhoud van grond gee ’n aanduiding van moontlike tekorte wat in weidings kan voorkom. Fosforvlakke in die bloed (selfs die fosforvlakke in weidings) kan baie misleidend wees omdat fosfor wyd deur die liggaam gesirkuleer en hersirkuleer word.
Aangesien fosfor egter in die skelet gestoor en ook vandaar gemobiliseer word vir gebruik in die liggaam, is die skelet se fosforinhoud die belangrikste aanduider van voldoende beskikbare fosfor, al dan nie. Beenbiopsies vanuit ’n ribbebeen is die beste metode om hiervoor te toets. Vlakke laer as 100 mg P/cm² been dui op ’n langtermyn-fosfortekort.
Biopsies word gewoonlik deur die veearts gedoen en monsters word deur ’n laboratorium ontleed om die fosforinhoud te bepaal. Die neem van beenbiopsies word egter nie tipies op plaasvlak gedoen nie, maar is eerder vir navorsingsdoeleindes. Op plaasvlak word aanvaar dat fosfor ad lib aangevul moet word. Wanneer diere fosforaanvullings gedeeltelik of heeltemal weier, is daar normaalweg min of geen fosfortekorte nie.
Die fosforbehoefte van ’n vleisbeeskoei wissel aansienlik na gelang van haar fisiologiese stadium. So sal ’n koei wat 450 kg weeg, 7 g P/dag vir onderhoud benodig, plus 3 g P/dag vir fetusgroei of 1 g P/ℓ melk geproduseer indien sy soog. Droë en vroegdragtige koeie benodig 6 g P/dag vir onderhoud en laatdragtige of lakterende koeie benodig 9 g tot 12 g aanvullende P/dag.
Volgens De Brouwer et al. (2000) behoort produserende vleisbeeskoeie wat in die westelike Hoëveld op veldweiding loop, 8,3 g tot 9,7 g aanvullende P/koei/dag regdeur die jaar te ontvang.
Kleinvee benodig 1 g tot 3 g aanvullende P/dier/dag. By skape moet daar ook voorsiening gemaak word vir wolproduksie. Deesdae word baie meer klem gelê op hoogs-intensiewe produksiestelsels, waar ooie drie keer in twee jaar lam en lampersentasies van tot 250% per jaar van hulle verwag word. Hierdie diere het dus verhoogde behoeftes, ook aan fosfor, wat aanvulling verder beklemtoon.
Fosfor moet regdeur die jaar voorsien word. Fosforbehoeftes word deur die produksiestadium van die dier en nie die tyd van die jaar, of “seisoen”, bepaal nie. Die naam “somerlek” vir ’n fosfaatlek in die somer het waarskynlik die vals indruk geskep dat fosfor slegs in die somer belangrik is. Niks is egter verder van die waarheid nie.
Navorsing het getoon dat diere wat in die winter (of “droë seisoen”) te min of geen aanvullende fosfor ontvang het nie, reeds in die daaropvolgende somer akute tekorte in beenfosfor getoon het. Hierdie koeie het verder reeds in die daaropvolgende produksiesiklus verlaagde vrugbaarheid getoon.
Daar is ’n komplekse wisselwerking tussen minerale en mikrominerale, wat die opname van fosfor kan beperk. In gebiede waar hoë kalsium (Ca), yster of natrium in die gronde en drinkwater voorkom, word ’n sekondêre fosfortekort geïnduseer omdat ’n té hoë inname daarvan die opneembaarheid van fosfor verlaag.
Die kalsiumvlakke moet ook noukeurig aangepas word sodat die Ca:P-verhouding nie groter as 2:1 is nie (Dixon et al., 2020). Die korrekte vlakke van vitamiene A en D is ook belangrik by die absorpsie van fosfor.
DIE KOSTE VAN FOSFORAANVULLINGS
Om hierdie vraag te probeer antwoord, moet die koste van fosforaanvullings oorweeg word.
- ’n Produserende vleisbeeskoei benodig 3 kg aanvullende P/jaar. Dit is gelykstaande aan 15 kg MCP of R315 per koei/jaar. Vir ’n kudde met 100 koeie beloop die koste dus R31 500 per jaar. Sowat vier speenkalwers teen R8 000/kalf behoort hierdie koste te dek.
- In die geval van skape benodig ’n hoogproduserende ooi sowat 0,55 kg aanvullende P/jaar. Dit is gelykstaande aan 2,6 kg MCP of R55 per ooi/jaar. Vir 100 ooie beloop die koste dus R5 500 per jaar. Om dié koste te dek, word ’n toename van ongeveer 4% in die lampersentasie benodig.
Kan ek dit nog bekostig?
Dit is onmoontlik om die belangrikheid van fosfor in herkouervoeding, veral by beeste, te veel te beklemtoon. Die opvatting bestaan dat fosforaanvulling baie duur is, maar in werklikheid is dit baie duurder om dit nié aan te vul nie omdat ’n fosfortekort die diereprestasie nadelig beïnvloed (McCosker & Winks, 1994).
Daar is genoeg bewyse in die navorsing dat die doeltreffende bestuur van fosforaanvullings verhoogde kuddeproduktiwiteit deur verbeterde reproduksieprestasie en verhoogde groei kan meebring (Dixon et al., 2011).
Fosfor speel ’n bepalende rol in die produksie en reproduksie van plaasdiere. Aangesien dit winsgewendheid bevorder, maak dit dus geen sin om op fosforaanvullings te probeer bespaar nie.
Bronnelys
- De Brouwer CHM, 1998. Beef cattle systems for weaner production in the western Highveld of South Africa. Ph D thesis, University of the Free State
- De Brouwer CHM, Cilliers JW, Vermaak LM, Van der Merwe HJ and Groenewald PCN, 2000. Phosphorus supplementation to natural pasture for beef cows in the western Highveld region of South Africa. S. Afr. J. Anim. Sci. 30(1), 43-52
- Dixon R, Coates D, Holmes B, English B and Rolfe J, (2011). Phosphorus nutrition and management – overcoming constraints to wider adoption. Proceedings, Northern Beef Research Update Conference. [https://era.daf.qld.gov.au/id/eprint/7850/1/Dixon%202011%20Phosphorus%20nutrition%20and%20management%20%20overcoming%20constraints%20to%20wider%20adoption.pdf]
- Dixon RM, Anderson ST, Kidd LJ and Fletcher MT, 2020. Management of phosphorus nutrition of beef cattle grazing seasonally dry rangelands: A review. Anim Prod Sci, 60, 863-879. [https://doi.org/10.1071/AN19344]
- Dollemore WJ, 2015. Factors affecting the faecal P-status of lactating beef cattle in Northern Australia. M Phil thesis, University of Queensland
- Du Toit PJ, Louw JG and Malan AI, 1940. A study of the mineral and feeding value of natural pastures in the Union of South Africa. Onderstepoort J. Vet. Sci. 14, 123
- McCosker TH and Winks L, 1994. Phosphorus nutrition of beef cattle in Northern Australia. Department of Primary Industries & Meat Research Corporation (Brisbane, Queensland, Australia)