Atrasien word plaaslik redelik algemeen gebruik. Die gebruik daarvan neem egter stelselmatig af namate alternatiewe beskikbaar raak, maar dit word steeds verkoop en is welbekend aan produsente.
Die beheer van onkruid in die saaibedryf is só belangrik dat ’n produsent eerder die gebruik van kunsmis sal heroorweeg as om op te hou om onkruid meganies en chemies te beheer. Hy sal moontlik sonder bemesting ’n beter opbrengs kry, solank hy nie tussen skraalhanse en uintjies sy oes moet gaan soek nie. Die gebruik van chemiese middels het onkruidbeheer natuurlik baie vergemaklik en dit het meganiese beheer begin vervang – veral in minimum- en geenbewerkingstelsels.
Dit is egter noodsaaklik dat produsente die chemiese produkte wat op lande gespuit word om die oes te beskerm, verstaan. Die voor- en nadele, asook risiko’s van elke bespuiting, moet deeglik ondersoek word, anders kan daar foute insluip. Die kaf word gewoonlik van die koring geskei wanneer daar dooie strepe en kolle in lande is waar die verkeerde praktyk gevolg is.
Atrasien is bekend vir sy risiko om ”vasgelê” te word en produsente word aangeraai om veral ná die bekalking van lande versigtig te wees vir oordragskade, omdat die atrasien dan ”vrygestel” word. Die doel van hierdie artikel is om die reaksie van atrasien in die grond en die risiko’s daaraan verbonde te bespreek.
Wat is atrasien?
Atrasien is ’n gechlorineerde variant in die triasien-onkruiddoderklas. Die werking van hierdie aktiewe bestanddeel in die gifarsenaal is om die ligfase in plantfotosintese te inhibeer. Die plant verloor in wese die vermoë om te fotosinteer en om koolstofdioksied te fikseer (Ashton & Crafts, 1981). Die huidmondjies sluit en transpirasie word só gestaak (Le Court de Billot & Nel, 1981).
Die produk maak hoofsaaklik breëblaaronkruide en sommige sensitiewe smalblaarspesies, soos byvoorbeeld gars, dood. Dit word algemeen na afloop van die plantaksie in mielies en sorghum gespuit.
Atrasienopname vind primêr deur die wortels plaas en sekondêr deur die blare (Foy, 1964). Die feit dat die meeste daarvan deur die wortels opgeneem word, is die rede waarom dit doeltreffend is as vooropkoms-onkruiddoder en vir dié doel gebruik moet word (Nel & Reinhardt, 1984).
Atrasien in die grond
Atrasien se werking in die grond word streng deur die grondeienskappe bepaal. Soos baie ander elemente en molekules, word dit ook tot ’n groot mate deur die grond se pH bepaal. Wanneer die pH naby neutraal is, is atrasien baie stabiel en mobiel in die grond en kan dit aktief deur die plantwortels van beide onkruid en gewasse opgeneem word. By laer pH’s word atrasien geprotoniseer (gelaai) met ’n positiewe (+) lading en dus geadsorbeer (vasgehou) in die grond, omdat kleideeltjies negatief gelaai is.
Dit is dus minder mobiel in grond met ’n lae pH (pH KCl van 5 en minder) (Hiltbold & Buchanan, 1977). By sulke pH’s kan plantwortels atrasien ook moeiliker opneem en op die werking daarvan reageer weens die geadsorbeerde toestand. Dit beïnvloed die gif se doeltreffendheid beduidend wanneer die doel daarvan is om plante dood te maak, maar hou ook die gevaar in om sensitiewe gewasse onverwags te beskadig wanneer dit weer ”vrygestel” word.
Wanneer atrasien teen hoë dosisse by neutrale pH’s gespuit word, kan dit ook die opvolggewas beskadig indien dit ’n sensitiewe spesie is. Hierdie verskynsel word oordragskade genoem en verskeie reëls moet gevolg word om hierdie onverwagse ramp te voorkom. Skade weens atrasienoordrag is skaars, maar die risiko kan deur spesifieke grondeienskappe, bewerkingsmetodes en wanpraktyke verhoog word.
Grondtipe
Atrasien word wel by ’n laer pH “vasgehou”, maar daar is bewyse dat dit makliker deur chemiese prosesse en mikrobiologie afgebreek word by die laer pH’s (Armstrong, Chesters & Harris, 1967). Waarom bestaan daar dan ’n risiko dat dit later deur bekalking “losgemaak” kan word en oordragskade kan veroorsaak?
Die probleem lê by die seskwioksiedinhoud van gronde. Seskwioksiede is die Fe- (yster) en Al- (aluminium)-oksiedverbindings in die grond wat verantwoordelik is vir die rooi en geel kleur van die grond. Die grondvorms Pinedene, Avalon, Clovelly, Bloemdal en Lichtenburg is ’n paar voorbeelde hiervan (Grondklassifikasiewerkgroep, 1991).
Hematiet is die rooi kleur en geotiet verskaf die geel kleur. Daar word beweer dat atrasien by lae pH’s so sterk aan hierdie mineraledeeltjies kleef dat dit nie kan degenereer nie (Smit, Nel & Folscher, 1980). Atrasien kan dus moontlik ophoop in gronde ryk aan seskwioksiedes en vir ’n langer tydperk in die grond voortbestaan om later weer “los” te kom wanneer die pH deur bekalking verhoog word.
Soos wat die grond se pH verhoog, word die atrasienmolekule weer mobiel en in die regte konsentrasies kan dit gevaarlik vir sensitiewe gewasse in ’n wisselboustelsel wees. Dit het praktiese implikasies vir produsente omdat produksiegrond se pH voortdurend wissel weens die versurende uitwerking van kunsmis en die neutralisering daarvan deur bekalking. In Suid-Afrika is die gronde wat die rykste aan seskwioksiede is, met die hoogste risiko, in Mpumalanga en KwaZulu-Natal (Grondklassifikasiewerkgroep, 2018).
Die klei-inhoud van grond bepaal die konsentrasie atrasien wat nodig is om skade te veroorsaak. By sandgronde is kleiner konsentrasies nodig om dieselfde uitwerking te hê as by gronde met ’n hoër klei-inhoud. Die Vrystaatse sandgronde is meer geneig om oordragskade te hê weens die lae klei-inhoud as byvoorbeeld in die Lichtenburg-omgewing.
Bewerkingsmetodes
Met die wyer implementering van minimum- en geenbewerkingstelsels word al meer klem gelê op ondergrondversuring en hoe dit bekamp kan word. Kalk beweeg normaalweg nie doeltreffend afwaarts in die grondprofiel nie (Du Toit, 2021). Kalsiumkarbonate konsentreer dus in die bogrond in minimum- en geenbewerkingstelsels, en die bogrond word doeltreffend oorbekalk en gebuffer.
Atrasien is wel baie doeltreffend by neutrale en hoër pH’s omdat dit in hierdie toestande mobiel is, maar weens dieselfde rede kan oortollige atrasien maklik loog indien dit nie deur onkruide opgeneem word nie. Die atrasien kan dan in die suur ondergrond inloog (wat nie baie diep is in geenbewerkingstelsels nie) en tot gevaarlik hoë konsentrasies ophoop.
Wanneer daar ’n sterk teenwoordigheid van seskwioksiedes is, kan die atrasien vir ’n aantal seisoene oorleef (Nel & Reinhardt, 1984). Wanneer die geen- en minimumbewerkingsprodusent besluit om sy lande weens verdigting of net ná ’n kalktoediening weer te bewerk, loop hy die gevaar om daardie hoë atrasienkonsentrasies beskikbaar te stel vir opname deur sensitiewe gewasse en die risiko vir oordragskade te verhoog.
Simptome van atrasienskade
Gewasse wat meer gevoelig is vir skade as gevolg van atrasienoordrag, sluit sojabone, sonneblom, gars, droë- en suikerbone en koring in. Die erns van die skade en sigbaarheid van die simptome word deur die grondeienskappe, atrasiendosis wat toegedien is, reënval en onkruiddruk van die vorige seisoen bepaal.
Atrasien wat deur die wortels opgeneem is, translokeer deur die xileem (vaskulêre weefsel). Ouer blare respireer die meeste, so atrasien is geneig om meer in volwasse blare te versamel en daar die eerste simptome te wys. Die xileem eindig by die blaarrante of by die blaarpunt by smal blare, wat daartoe lei dat vergeling (chlorose) eerste aan die rante (breë blare) of punte (smal blare) van die blare voorkom.
Verbruining (nekrose) volg en dit beweeg al nader aan die hoofaar (breë blare) soos wat die plant die atrasien opneem en die werking daarvan aktiveer (Clay, 2013). By smal blare verbruin die blaar afwaarts soos wat die opname plaasvind. Dit is belangrik om te weet dat simptome in kolle op ’n land kan voorkom.
Grondeienskappe kan baie wissel in ’n land. Plekke waar hoër dosisse per ongeluk gespuit is, soos by wenakkers met die draai van die spuit of waar bane oorvleuel het, kan leidrade laat wat onkruiddoderskade aandui.
ATRASIEN-OORDRAGSKADE
’n Paar algemene reëls kan gevolg word wat atrasien-oordragskade kan voorkom:
- Vermy sensitiewe gewasse indien moontlike skade verwag word. Dit is baie moeilik in ’n wisselboustelsel. Verlaagde dosisse kan hier ’n uitkoms bied.
- Gebruik meer moderne alternatiewe onkruiddoders en vermy atrasien geheel en al.
- Spuit voldosis-konsentrasies slegs in bane op die plantry. Die opvolggewas se rye kan dan gedraai word om skuins oor die vorige seisoen se rye geplant te word. Indien skade wel voorkom, sal dit net sekere plante affekteer en die stand yler maak.
- Volg die gebruiksaanwysings op die etiket streng.
- Bekalk voor die plant van ’n verdraagsame gewas en nie voor ’n sensitiewe gewas geplant word nie. Dis veral belangrik indien atrasien in hoë konsentrasies toegedien is.
Ten slotte
Dit is belangrik om voorkomend op te tree en die waarskynlikheid van skade pro-aktief te vermy. Chemiese ontledings van grond vir moontlike skadevoorspelling kan slegs deur baie gespesialiseerde laboratoriums uitgevoer word en word nie algemeen gedoen nie.
Kontak gerus jou plaaslike NWK Omnia-landboukundige vir kundige advies om jou risiko’s in landbou te verminder.
Bronnelys
- Armstrong DE, Chesters G & Harris RF (1967). Atrazine hydrolosis in soil. Soil Science Society of America Proceedings (31), 61-66
- Ashton FM & Crafts AS (1981). Mode of action of herbicides. New York: John Wiley and Sons
- Clay SA (2013). Soybean herbicide injury. In iGrow Soybeans: Best management practices for soybean production. (PP. 265-276). Brookings, South Dakota: South Dakota State University
- Du Toit DJ (2021). Effect of lime source, form and placement on soil pH neutralisation and permeation. Stellenbosch: Departement van Grondkunde, Stellenbosch Universiteit
- Foy CL (1964). Volatility and tracer studies with alkylamino-s-triazine. Weeds (12), 103-108
- Grondklassifikasiewerkgroep (1991). Grondklassifikasie – ’n Taksonomiese sisteem vir Suid Afrika. Pretoria: Departement van Landbou-ontwikkeling
- Grondklassifikasiewerkgroep (2018). Grondklassifikasie – ’n Natuurlike en antropogeniese sisteem vir Suid-Afrika. Pretoria: LNR – Instituut vir Grond, Klimaat en Water
- Hiltbold AE & Buchanan GA (1977). Influence of soil pH on persistence of atrazine in the field. Weed Science (24), 515-520
- Le Court de Billot MR & Nel PC (1981). Effect of some photosynthesis-inhibiting herbicides on leaf diffusive resistance and growth accumulation of maize inbreds. Crop Production (10), 201-205
- Nel PC & Reinhardt CF (1984). Factors affecting the activity of atrazine in plants and soil. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Plant- en Grondkunde, 67-72
- Smit NS, Nel PC & Folscher WJ (1980). Faktore wat sorpsie en ontbinding van atrasien in grond beïnvloed. Gewasproduksie (9), 135-139