Suid-Afrikaanse produsente is tans in die greep van ’n El Niño – wat warmer en droër toestande in die land tot gevolg het. Met die verwagting dat El Niño vir nog minstens ’n paar jaar sal heers, is dit nou belangriker as ooit dat produsente hul bewerkingsmetodes hier-mee in gedagte sal aanpas.
Die El Niño-verskynsel behels bogemiddelde temperature van die see-oppervlakte in die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan. Dit lei gewoonlik daartoe dat Suid-Afrika droogtes ervaar, met ondergemiddelde reënval deur die seisoen.
Elke druppel tel
Die belangrikste bestuurspraktyk wat tydens El Niño-jare toegepas moet word, is doeltreffende vogbewaring. Dit behels deels goeie tydsberekening – dit wil sê wanneer om wat te doen (bewerk, plant ensomeer). Dit is ook baie belangrik om soveel as moontlik onnodige uitgawes te vermy om die produksierisiko te beperk. Oorweeg waar moontlik of saad, diesel en kunsmis bespaar kan word.
Goeie presisiepraktyke kan in plek gestel word om so goed as moontlik voorbereid te wees vir die El Niño-weerpatroon wat voorspel word. Presisiepraktyke se groot doel is om so optimaal as moontlik te produseer.
Grondkartering of -klassifikasie
Die fisiese kartering van grond is ’n onontbeerlike praktyk in die landboubedryf. Hierdie proses verskaf waardevolle inligting oor grond se fisiese eienskappe, wat op sy beurt ’n impak het op landbouproduksie, omgewingsgesondheid en volhoubare grondbestuur.
Dit is ’n gedetailleerde studie van die fisiese eienskappe van grond op ’n bepaalde land of selfs plaas. Hierdie eienskappe sluit in die grondtekstuur, struktuur, waterhouvermoë, deurlaatbaarheid, dieptes en ander kenmerke (kleur, ligging en keerlae) wat die grond se fisiese samestelling bepaal. Die doel met grondkartering is om ’n omvattende beeld van die grond se fisiese toestand te verkry.
Die karteringsdata wat versamel word, moet doeltreffend aangewend word. Een manier om grondkarteringsdata doeltreffend aan te wend, is om ’n potensiaal aan die grond te koppel. Die grondpotensiaalklasse vir kontantgewasverbouing in terme van eenjarige somergraangewasse kan breedvoerig beskryf word as hoog (H), medium-hoog (MH), medium (M), medium-laag (ML) en laag (L).
Grondpotensiaal word hoofsaaklik bepaal deur die grond se vermoë om water en plantvoedingstowwe vas te hou en weer geredelik aan die gewas beskikbaar te stel. Aspekte soos die grondvorm, -diepte, -tekstuur, die teenwoordigheid of afwesigheid van vlekke, klip en konkresies, word in aanmerking geneem.
POTENSIAALKLASSE
- Hoë potensiaalklas grond is tipies dieper as 1 meter, met die tekstuur in die ondergrond van 10% tot 25% klei, sonder ’n matige of sterk struktuur en met min permanente beperkings vir die gebruik daarvan.
- Medium-hoë potensiaalklas grond is tipies redelike diep grond (0,7 m tot 1 m), met die tekstuur in die ondergrond van 10% tot 25% klei, of diep grond met ’n kleipersentasie van 25% tot 35%, sonder ’n matige of sterk struktuur en met ietwat permanente beperkings vir die gebruik daarvan.
- Medium potensiaalklas grond is tipies redelike vlak grond (0,5 m tot 0,7 m), met die tekstuur in die ondergrond van 10% tot 25% klei, of dieper grond met ’n kleipersentasie van meer as 35%, sonder ’n matige of sterk struktuur en met redelike ernstige permanente beperkings vir die gebruik daarvan.
- Medium-lae potensiaalklas grond is tipies vlakkerige grond (0,4 m tot 0,5 m), met die tekstuur in die ondergrond van 10% tot 25% klei, of dieper grond met ’n kleipersentasie van meer as 35%, sonder ’n matige of sterk struktuur en met ernstige permanente beperkings vir die gebruik daarvan. Dit is tipies gronde wat min plantbeskikbare water kan vashou en/of die water so na aan die grondoppervlakte vashou dat dit aan verdamping en uitdroging onderworpe is.
- Lae potensiaalklas grond is vlak (vlakker as 0,4 meter) en/of met ’n hoë kleipersentasie (> 35%), wat gereeld binne 0,4 meter aan versuiping onderworpe is. Dit kan ook sterk gestruktureerde gronde wees. Dit is tipies gronde wat min plantbeskikbare water kan vashou en/of die water so na aan die grondoppervlakte vashou dat dit aan verdamping en uitdroging onderworpe is.
Gewaspotensiaalkaarte (Figuur 1) kan vanuit bogenoemde inligting saamgestel word. Hier word die grondvog wat tans in die grond beskikbaar is en ook die verwagte reënval vir die seisoen in berekening gebring. Die gegenereerde gewaspotensiaalkaarte word dan met die globale posisioneringstelsel (GPS) en geografiese inligtingstelsels (GIS) akkuraat en doeltreffend vir gebruik deur die produsent gemaak.

Die gegenereerde gewaspotensiale kan op die volgende maniere aangewend word:
- Wisseling van die plantestand op grond van die gewaspotensiaal vir die seisoen. Op hoër potensiaal gronde kan die stand verhoog word en op laer potensiaal gronde kan die stand verminder word (Figuur 2).
- Wisselende toedieningskaarte vir kunsmis, hetsy met plant- en/of topbemesting, kan saamgestel word. Op hoër potensiaal gronde kan meer bemesting toegedien word en op laer potensiaal gronde kan die hoeveelheid plant- en/of topbemesting verminder word (Figuur 3).


Neem kennis
Nog ’n paar faktore waaraan aandag gegee moet word om grondvog doeltreffend te bestuur, is die volgende:
- Plantdatum: Deur die plantdatum in die kol te hê, kan seker gemaak word dat die plante op die regte stadium blom. Die moontlike verandering in temperatuur- en reënvalpatrone kan tot ’n verandering in die gebied se plantdatum lei.
- Keuse van kultivar: Die produksierisiko kan versprei word deur ’n verskeidenheid van kultivars aan te plant.
- Bewerkingspraktyke: Los bewerkte gronde is belangrik vir die opvang van reënwater. Haal enige verdigtings uit sodat water in die grond kan indring. Bewerkte grond laat beter wortelontwikkeling toe en lei tot beter verspreiding van wortels deur die grond. Bogenoemde is van kardinale belang tydens El Niño-jare.
- Chemiese ontledings: Dit is van kardinale belang dat gronde se chemie reggestel is voordat El Niño-jare aangedurf word. Hier dink ’n mens veral aan pH-regstellings met kalk. Suur grond het ’n negatiewe invloed op die groei en produksie van plante, wortelgroei en die plant se ontwikkeling word belemmer. Dit beperk verder ook die beskikbaarheid en opname van voedingstowwe.
- Spoorverkeer: Dit is ’n presisiepraktyk wat sterk oorweeg kan word omdat dit die herverdigting van gronde beperk of selfs uitskakel.
- Onkruidbeheer: Skoon lande en ’n skoon saadbed is belangrik in droër jare. Daar behoort geen kompetisie deur onkruide vir die beskikbare grondvog te wees nie. Die beheer van onkruide kan meganies of chemies toegepas word.
Samevatting
- Goeie grondvogbestuur deur die toepassing van presisiepraktyke is ’n metode om so goed as moontlik voorbereid te wees vir die voorspelde droër jaar wat voorlê.
- ’n Positiewe aspek is dat die grondprofiele in die meeste dele van die somerproduksiegebiede van Suid-Afrika nie droog was na die vorige seisoen nie.
- Die presisiepraktyke wat in hierdie artikel genoem is, kan help om die uitwerking van die voorspelde El Niño so doeltreffend as moontlik te bestuur om só steeds goeie oeste van die lande af te haal.
Bronnelys
- landbou.com, 2022. Ontsluit grond se potensiaal met kartering. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/tegnologie/ontsluit-grond-se-potensiaal-met-kartering-20220704
- SA Graan/Grain, Junie 2023. Bestuur van ’n El Niño-jaar. https://sagrainmag.co.za/2023/06/12/bestuur-n-el-nino-jaar-so/
- Senwes, 2009. Grondkartering, gebruiksaanwending en produksiepotensiaal. https://www2.senwes.co.za/Files/main_Scenario/archive_articles/2009/June/Article4/2009-08-31_Article4.htm
- Verster E, Du Plessis MJ & Schoeman JL, 2022. Guidelines for conducting soil surveys in South Africa. Soil Science Society of South Africa, Bloemfontein, South Africa