Landbouprodusente regoor die wêreld is daarvoor bekend dat hulle nie maklik handdoek ingooi nie. Hulle sal ten spyte van die uitdagings wat soms onoorkombaar lyk, voortgaan om met innoverende praktyke vorendag te kom om sover moontlik winsgewend te bly.
Hier aan die suidpunt van Afrika staan Suid-Afrikaners aan die vooraand van ’n nasionale verkiesing – vuisvoos en uitgedaag deur verskeie kwessies soos die plundering van staatskoffers, gebrekkige tot geen dienslewering en beurtkrag. Tog is selfs die eerstewêreldlande nie van hierdie tipe probleme gevrywaar nie. Landbouprodusente van regoor die wêreld kou harde bene om kos op die tafel te sit. In hierdie artikel word enkele van dié kwessies uitgelig.
Verenigde Koninkryk
Een van die Verenigde Koninkryk (VK) se grootste uitdagings bly die pad vorentoe ná Brexit. Die ontwikkeling van nuwe beleidsinstrumente om dié wat deur die Europese Unie (EU) gebruik word te vervang, is duur en dit vorder stadig.
TEKORT AAN ARBEIDERS
Ná hierdie land se uittrede uit die EU is strenger immigrasiebeleide ingestel, wat tot ’n daling van immigrante/arbeiders na die VK gelei het. Hierdie tekort het ’n negatiewe uitwerking op alle vorme van produksie.
BEFONDSINGSKWESSIES
Die VK se landboubedryf het staatgemaak op finansiering van die EU, wat gehelp het om produsente en die landelike ekonomie te ondersteun. Ná die Brexit-stemming kon die Britse regering egter nog nie ’n alternatief vir hierdie befondsing vind nie. Dit het ’n negatiewe uitwerking op VK-produsente, wat aan die uitbetalings gewoond was. Dit het tot ’n afname in die beskikbaarheid van landbouprodukte en prysstygings gelei.
VERHOOGDE VRAAG NA HOË-GEHALTE VOEDSEL
Die VK se landbousektor is al vir die afgelope aantal jare onder groot druk om aan die vraag na beter gehalte voedsel te voldoen. Dit het daartoe gelei dat produsente meer in hul boerderye moet belê om aan hoër standaarde te voldoen, wat produksiekoste laat styg het. Die hoër kostes het die sektor onder aansienlike finansiële druk geplaas en daartoe gelei dat sommige produsente die bedryf heeltemal verlaat het.
Duitsland
Duitsland se begrotingsplanne vir 2024 sluit aansienlike besnoeiings in om op te maak vir die land se finansiële tekorte. Dit volg nadat die konstitusionele hof beslis het dat ’n hertoedeling van Covid-19-noodfondse tot die huidige begroting onwettig was.
SUBSIDIES EN BELASTING
Produsente in Duitsland het ten tye van die saamstel van hierdie artikel betoog teen die besnoeiing van landbousubsidies. Dit het onder andere die opskorting van kortings op voertuigbelasting vir landboumasjinerie en brandstof behels.
Die regering het in ’n mate gehoor gegee en die opskorting van voertuigbelasting op masjinerie is afgeweer, terwyl die belastingkorting op brandstof slegs gedeeltelik opgeskort is. Produsente wou nie bes gee nie en het volhard met hul beplande stakings. Dié besnoeiings het tot gevolg dat voedselpryse verder styg ná ’n reeds drastiese inflasiestyging.
China
Alhoewel China ’n kwart van die wêreld se graan produseer, bly dié land ’n netto invoerder van landbouprodukte sedert 2004. China voer die meeste sojabone, mielies, koring, rys en suiwelprodukte ter wêreld in. Tussen 2000 en 2020 het die land se voedselvoorsieningsverhouding van 93,6% tot 65,8% afgeneem.
- Kommer oor voedselveiligheid het die vraag na invoere verhoog. Die Chinese regering het in 2022 sy nasionale voedselveiligheidstandaarde verbeter, maar ongelukkig nie voordat opportunistiese binnelandse produsente reeds die geleentheid misbruik het om onveilige en giftige voedsel te produseer nie. Dit het veroorsaak dat Chinese verbruikers heelwat vertroue in hulle plaaslike landbouprodukte verloor het en daarom eerder ingevoerde handelsmerke verkies.
- Ingevoerde produkte is ook heelwat goedkoper as gevolg van die hoër koste en laer doeltreffendheid om sekere voedselprodukte plaaslik te vervaardig. Om byvoorbeeld sojabone in China te verbou, kos 1,3 keer meer as in die Verenigde State van Amerika (VSA), terwyl die opbrengs ongeveer 60% laer is.
- Lone vir produsente in China is laer as vir fabriekswerkers en ander stedelike beroepe. Dit noop al meer landbouprodusente om die bedryf heeltemal te verlaat.
Nieu-Seeland
Nieu-Seeland (NS) is die wêreld se grootste vervaardiger en uitvoerder van melkpoeier. Alhoewel NS slegs ongeveer 3% van die wêreld se melk produseer, is dit die grootste suiweluitvoerder en is hierdie land verantwoordelik vir die produksie van ongeveer 30% van die suiwelprodukte.
BESOEDELDE DRINKWATER
Melkboerderye in Canterbury, NS, is grootliks verantwoordelik vir die besoedeling van drinkwater. Die besmetting word veroorsaak deur duisende tonne stikstof afkomstig vanuit kunsmis, asook van miljoene melkkoeie wat hiertoe bydra. Drinkwater in die Canterbury-omgewing bevat 21 mg/ℓ nitraat, wat bykans dubbel soveel is as die toelaatbare hoeveelheid nitraat in drinkwater.
Studies toon dat ’n oplossing vir hierdie probleem gevind moet word omdat die reënval in die omgewing heeltemal te min is om die nitraatvlakke in die riviere te verlaag. Die enigste manier om die drinkwater te beskerm, is om koeigetalle te verminder en stikstoftoediening uit te faseer. Dit sal egter ’n groot negatiewe uitwerking op die land se ekonomie hê.
Brasilië
Brasilië is grootliks selfvoorsienend wat basiese voedsel betref en die land is ook ’n toonaangewende uitvoerder van ’n wye reeks landbouprodukte soos lemoene, sojabone, mielies en koffie.
LOGISTIEKE PROBLEME
Die noordelike dele van Brasilië sukkel egter met logistieke probleme as gevolg van hul vinnige groei in veral mielie- en sojaboonproduksie. Die vragte uit die noorde van die land word na die suide herlei. Dit veroorsaak ’n logistieke bottelnek en hoër vragkoste. Hierdie hoër koste beïnvloed die mededingendheid van Brasilië se pryse.
Brasilië vervoer baie van die grane per rivier na die hawens toe. Die watervlakke is weens droogtes baie laer en hulle kan nie die vragte so swaar laai soos gewoonlik nie, wat tot hoër kostes per ton gelei het.
Die groot wêreldwye probleem
Een ernstige probleem wat die hele wêreld beïnvloed, is klimaatsverandering. Klimaatsverandering veroorsaak ’n verlaging in opbrengste as gevolg van verhoogde temperature. Produsente maak ook meer staat op besproeiing, wat druk op die beskikbare waterbronne plaas.
GEVOLGE VAN KLIMAATSVERANDERING
Klimaatsverandering dra ook by tot die verspreiding van sekere peste en plae na nuwe gebiede. Dit lei daartoe dat produsente meer geld aan insek- en plaagdoders moet spandeer. Die uiterste weersomstandighede veroorsaak vloede en droogtes, wat ’n negatiewe invloed op onder andere die infrastruktuur het.
GRAAN- EN VEEVERLIESE
Klimaatsverandering het tussen 2013 en 2022 tot graan- en veeverliese van $58,6 miljard in Brasilië gelei, wat deur ’n oormaat of gebrek aan water veroorsaak is.
BRANDE
Stygende temperature lei ook tot brande. Australië se brandseisoen bereik gewoonlik eers in Januarie of Februarie ’n hoogtepunt. ’n Vroeë hittegolf het op 16 en 17 Desember 2023 oor groot dele van Australië voorgekom, en dit het daartoe gelei dat dosyne bosbrande in Nieu-Suid-Wallis aangewakker is.
Volgens Global Forest Watch het data van NASA se Fire Information for Resource Management System (FIRMS) getoon dat dubbel soveel brande reeds in Desember 2023 waargeneem is as wat die geval in die “swart somer” van 2019/2020 was toe katastrofiese veldbrande – ongekend in hul omvang en intensiteit – bloekomwoude in die suidelike en oostelike gedeeltes van Australië vernietig het. Koolstofvrystellings deur brande in Australië vanaf September tot November 2023 was meer as 150 miljoen ton. Dit was die meeste sedert 2012.
ORKANE EN ATMOSFERIESE RIVIERE
In die VSA skep klimaatsverandering nie net nuwe uiterste weergebeurtenisse nie, maar dit vererger ook die risiko van sterker, groter en stadiger orkane. Die frekwensie en erns van atmosferiese riviere wat op land val aan die Amerikaanse weskus, sal na verwagting ook toeneem.Atmosferiese riviere is relatief lang, smal stroke in die atmosfeer – soos riviere in die lug – wat die meeste van die verdampte water vervoer. Wanneer die atmosferiese riviere op die land val, word die waterdamp in die vorm van reën of sneeu vrygestel.
Ten slotte
Bogenoemde is slegs enkele voorbeelde van die uitdagings wat landbouprodusente in die gesig staar. Produsente gee egter nie maklik op nie en maak planne om winsgewend te bly. Dit blyk ook uit die inligting hierbo dat die lande met sterker ekonomieë nie noodwendig gevrywaar is van uitdagings nie.
Bronnelys
- Agricultural Recruitment Specialists, 2023. Main challenges facing the UK agricultural sector. https://www.agrirs.co.uk/blog/2022/09/main-challenges-facing-the-uk-agricultural-sector?source=google.com [10 Januarie 2024]
- Environmental and Energy Study Institute. 2019. https://www.eesi.org/briefings/view/022519climate#:~:text=Climate%20change%20isn’t%20just,%2C%20hotter%2C%20and%20burn%20longer [15 Januarie]
- Henley J, 2024. Why is Germany’s economy struggling and can the goverment fix it? https://www.theguardian.com/world/2024/jan/05/sick-man-of-europe-what-is-happening-to-germany-economy [9 Januarie 2024]
- Horton H, 2024. Ministers accused of breaking pledge to English farmers over £227m underspend. https://www.theguardian.com/environment/2024/jan/03/ministers-accused-breaking-pledge-english-farmers-underspend [10 Januarie 2024]
- Kinderlin S, 2024. German farmers block roads with tractors in protest over agriculture policies. https://www.cnbc.com/2024/01/08/german-farmers-protest-against-economic-agriculture-policies.html#:~:text=Local%20media%20quoted%20police%20authorities,part%20of%20the%202024%20budget [9 Januarie 2024]
- Liu Z, 2023. China increasingly relies on imported food. That’s a problem. https://www.cfr.org/article/china-increasingly-relies-imported-food-thats-problem [11 Januarie]
- Von der Burchard H, 2024. German goverment backtracks on tax hikes for farmers following protests. https://www.politico.eu/article/germany-government-backtracks-tax-hikes-farmers-protests/ [9 Januarie 2024]