Sowat 207 deelnemers het Saterdag naby Coligny ‘n hewige sterk noordewind aangedurf met tekkies wat klap en die speke wat rol ten bate van Liam Jacobs (4) van Ottosdal wat ‘n stryd teen breinkanker voer.
Van die stappers het tot 25 km voltooi en die fietsryers 50 km tot waar die roete by NWK Retail Coligny met ‘n kleurvolle colour run geëindig en NWK Retail Coligny ‘n mini-ekspo aangebied het.
Daar was spesiale aanbiedinge, demonstrasies en ‘n boeremark met verskeie produkte. Die aand het geëindig met die Springbokke wat oor die Kiwi’s geseëvier het en vermaak deur die Stofpad Dansorkes. Ook 50% van dié kaartjieverkope was ten bate van Liam.
Daar is uiteindelik R70 000 vir Liam ingesamel en Marlette Smit wat die staptog geïnisieer het, is oorweldig met hoe die gemeenskap saamgespan het om die dag ‘n sukses te maak. Marlette is ‘n verkoopsagent by Toyota Lichtenburg en bekend vir haar welsynswerk in Lichtenburg en die nabye omgewing.
Gevaarligte flikker toe Liam sy eetlus verloor
Liam se ma, Suné Jacobs (30), vertel dat hy in Mei vanjaar ernstig siek was met varkgriep. Hierna het hy baie min geëet en dit het haar bekommer. Toe sy kosblikkie pal vol teruggekom het van die kleuterskool af, het sy besluit om hom na ‘n pediater op Potchefstroom te neem. Hier is hy twee dae lank vir gastritis in ‘n hospitaal behandel. Kort ná sy ontslag, het hy egter begin braak en hewige hoofpyne gekry.
Suné en haar man, WD (29), is met Liam na Midstream Mediclinic in Centurion waar ‘n gastroskopie en lumbale punksie se uitslae normaal was.
Liam se knaende hoofpyne het Suné egter aanhou pla en ‘n CT-skandering is aangevra. Dit het ses gewasse op Liam se brein uitgewys en hy is na Unitas-hospitaal, ook in Centurion, oorgeplaas. “Dokters hier kon nie glo dat die seuntjie voor hulle nog loop nie,” het Suné vertel.
Daar is dadelik op Liam geopereer en twee van die gewasse kon verwyder word. Die fase-4 breinkanker, oftewel medulloblastoma waarmee hy gediagnoseer is, is aggressief en het intussen ook na sy rugmurg versprei.
Liam sou later hierdie week met bestraling begin wat hy ses weke lank moet ondergaan, waarna hy chemoterapie vir ‘n jaar sal moet ontvang.
Die besluit om te stap
“Die ma (Suné Jacobs) is ‘n kennis van my. Ek het net so ‘n buzz gekry van… Ons moet inspring. Ons moet iets doen,” vertel Marlette van haar besluit om die staptog ten bate van Liam te reël.
Suné het op 28 Julie die volgende op haar Facebook-profiel geplaas: “Die eindelose hospitaalgang… Ek is seker hier is al meer gebede opgestuur as in sekere kerke. Hier word gelag, gehuil en gespeel.
“Hier het trane van blydskap asook trane van hartseer gevloei. Mens het ʼn verwagting as jy in hierdie gang afstap. Slaap my kind, sit hy dalk al regop of huil hy nog steeds?
“In hierdie eindelose hospitaalgang werk mens se denke oortyd. Jy sien mense wat huil en later sien jy weer mense wat mekaar omhels wat sopas goeie nuus ontvang het. Ek wonder as hierdie eindelose lang gang kon praat, wat sou sy eerste gedagte wees?
“Hierdie is ons paadjie om nou elke dag te stap PEADS-ICU toe. Hier waar ek en my man mekaar moed inpraat om enige iets te face wat na ons kant toe kom. Hier waar ons hand aan hand saam met die Here stap tot by ons kind se bed.”
Dié plasing het die saadjie by Marlette geplant om Coligny toe te stap. “Ek het net gedink dat dit nie naastenby so erg kan wees soos die pad wat hierdie gesin elke dag moet stap nie,” verduidelik sy.
Dit was sowat ‘n maand gelede en Marlette het besluit om elke dag tyd in te ruim om te stap. “Mense het my gevolg op Strava en besluit om saam te stap en dit was baie lekker dat mense net ingekoop het.”
Met ‘n voltydse werk en ‘n koue winter agter die rug, kon Marlette dikwels slegs tydens middagete gaan stap. “Dit was ‘n hele mental ding om my goed só te beplan. Toe die son dit toelaat, kon ek tot so 18:00 gaan stap en oor naweke moes ek ekstra kilometers insit.”
Sy erken dat sy dikwels nie lus was om te gaan stap nie, maar dat die Jacobs-gesin se stryd haar elke dag gemotiveer het.
Opkoms gee haar hoop vir die toekoms
Die opkoms by Saterdag se geleentheid het Marlette aangenaam verras. “Die manier hoe NWK Retail Coligny met ons hande gevat het… Hulle was net lus om goed aan te pak en in te val by my,” sê Marlette.
“Dit was doodgewone mense wat ‘n ongelooflike werk gedoen het. Die wegspring was gemerk en die waterpunt gereed. As jy Coligny binnegekom het, was daar vlae oral. Die uitstallers, alles was ongelooflik. Dit was net ‘n lekker, mooi dag!”
Ses en negentig stappers het 5 km gestap, 89 individue het 10 km voltooi en tien mense, waaronder Marlette, het 25 km voltooi. Twaalf fietsryers het deelgeneem.
“Baie se voete was vol blase en van my kollegas kon Maandag nie loop nie,” glimlag Marlette. “Maar hulle het volhard. Dit was baie spesiaal.”
Liam, sy ouers en sussie Wiané (3) was ook daar. “Dit was regtig ongelooflik,” sê Suné. “Die gemeenskap van Ottosdal en Sannieshof is reeds só goed vir ons en dit brei net uit. Dit hou ons nederig en dankbaar.”
Suné is ‘n onderwyseres by Hoërskool Sannieshof en WD is werksaam by Noordkaap Lewendehawe. Die gesin behoort aan ‘n mediese fonds, maar toekomstige mediese uitgawes gaan na verwagting noemenswaardig wees. Die opbrengste sal aangewend word vir Liam se behandeling.
“Ons was aangenaam verras met die opkoms. Dis lekker om te sien mense gee om en raak betrokke vir ‘n goeie saak,” sê Bertus Jacobs, senior bestuurder van Handel by NWK.
Marlette het elke borg en individu vir hulle bydraes bedank. “Ons praat van hierdie as moeilike tye en om steeds R70 000 in te samel is ongewoon. Deur vyf rande en tien rande… Elke skenking het ons na R70 000 geneem.”