NWK se jaarlikse Skoolskoenprojek is altyd vir my bittersoet. Dis wonderlik om die kinderhartjies met ’n splinternuwe paar skoolskoene te kan verbly, maar hartverskeurend as jy hulle armoede sien en besef dat die bord kos wat hulle daagliks by die skool kry dikwels hulle enigste maaltyd vir die dag is. Wat gebeur met hierdie kinders tydens skoolvakansies?
By Laerskool Vlakpan merk ek ’n seuntjie op wat duidelik met ’n erg gesplete lip en verhemelte gebore is. Sy gesiggie is erg misvorm en hy benodig ooglopend opvolgoperasies. Ek skat hom so elf jaar oud en is geskok toe ek hoor dat hy nou maar in gr. 1 is.
As joernalis het ek in 2011 verslag gedoen oor Operation Smile – ’n wêreldwye organisasie wat gratis operasies op kinders met hierdie defek uitvoer. Hierdie kinders moet die eerste operasie reeds vóór die ouderdom van ses maande ondergaan. In plattelandse, verafgeleë gebiede soos in Noordwes, val hulle egter dikwels deur die krake en kom eers by spesialiste uit wanneer hulle al kleuters is.
Ek gaan huis toe en kry die kind nie uit my kop nie. Die aand is ek in trane en vra die Here wat ek moet doen. Sy antwoord was duidelik: “Doen wat jy kán.” Ek het gevolglik die skoolhoof in kontak gebring met Pediatric Care Africa – ’n Suid-Afrikaanse nie-winsgewende organisasie wat ook mediese behandeling vir hierdie kinders toeganklik maak. Kort hierna was die kind by Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal waar ’n dokter hom ondersoek het. Ek is positief dat hy nou die regte behandeling sal ontvang.
Op 24 Julie lees ek op Netwerk24 dat kindersterftes in Suid-Afrika nou hoër is as vóór die Covid-19-pandemie. Die joernalis haal Zaheera Mohamed van Ilifa Labatwana aan, wat onlangs die South African Early Childhood Review 2024-verslag gepubliseer het. Waar daar 29 sterftes per 1 000 geboortes in 2020 voorgekom het, was dit al 40 sterftes teen 2022. Verder is bevind dat
30 uit elke 1 000 kinders voor hul eerste verjaardag sterf.
Die hoofoorsaak? Armoede wat tot wanvoeding lei. Só lui die artikel: “Bykans 40% van kinders jonger as ses leef onder die voedselarmoedelyn. Die kindertoelae van die staat is boonop minder as die voedselarmoedelyn. Dit is in dié stadium absoluut fundamenteel vir hul oorlewing. Die waarde van die toelae het (weens inflasie) oor die jare aansienlik verminder.
“’n Mens kan eintlik nie voedsame kos vir jou kind koop met die geld wat jy as toelae ontvang nie. Ons moet die toelae tot die voedselarmoedelyn herstel en ons kan begin by kinders jonger as ses, want dit is waar die grootste verandering gesien sal word.”
Om met mekaar te argumenteer oor of hierdie toelae nie juis bydra tot die probleem van ’n gebrek aan gesinsbeplanning, al dan nie, dien geen doel wanneer jy dit in hierdie konteks beskou nie.
In Lukas 18 staan daar: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” Ek dink hierdie vers is meer prakties van toepassing as wat ons mag besef.
Hoe kan jy ’n kind van ’n liefdevolle Jesus leer terwyl hy/sy honger is? Begin met die kind op die straathoek op pad na jou werk. Stop en gee vir hom ’n pastei en melk. Begin by die maatjie in jou seuntjie se klas wat nie tydens pouse ’n broodjie het om te eet nie. Pak ’n ekstra broodjie vir hom in.
Op 30 Augustus sit ek by NWK se algemene jaarvergadering toe ek die volgende terugvoer van die skoolhoof per WhatsApp ontvang: “Good Morning Me Nicolene… I just wanted to give you an update with regards to the boy’s assistance from Pediatric Care Africa. He was sent to Dr Van der Berg for examination. The doctor indicated that the boy needs to be referred to Charlotte Maxeke Hospital for further examination. I am currently with the aunt and the boy at Charlotte Maxeke now waiting to see a doctor, but they are opening a file for him right now. And later on he will be seen by the doctor. Thank you very much.
Begin net by een kind. Begin nét.