
Vroeë klimaatstekens dui daarop dat die nuwe produksiejaar deur ’n belowende La Niña-fase gekenmerk gaan word, wat op ’n baie groot waarskynlikheid vir ’n normaal tot natter seisoen dui. Produsente moet hulself vergewis van Liebig se wet en die nodige stappe doen om optimale winste, gegewe die gunstiger weervoorspellings, te bewerkstellig.
Ná ’n droë seisoen is die herstel en voorbereiding van grondgesondheid ’n noodsaaklike stap om die grond vir die volgende produksieseisoen voor te berei. Dit is veral belangrik met die vooruitsigte op ’n moontlike La Niña-fase, wat met verhoogde reënval in Suidelike Afrika geassosieer word.
Bogenoemde kan slegs verwesenlik word indien die produsent aan aspekte soos die herstel van grondvrugbaarheid, die opname van plantvoedingstowwe, aanpassing vir die nuwe seisoen en weervoorspellings aandag gee.

(Bron: https://www.cropscience.bayer.africa/za/en-za/resources/articles/the-growth-stages-of-a-maize-plant.html)

Bron: Khanchit Khirisutchalual/iStock/Getty Images
Herstel van grondvrugbaarheid ná ’n droogte
Grondvrugbaarheid verwys na die grond se vermoë om gesonde gewasse te ondersteun, wat deur verskeie faktore bepaal word, soos die pH-vlak in die grond, NPK-verhoudings en organiese materiaal.
Landbouproduksie is van natuurlike prosesse afhanklik en daarom is dit noodsaaklik om die grond sorgvuldig te bestuur om voedingstowwe tot so ’n mate op te bou dat dit voordelig vir gewasse is. Die gesegde, “Voed die grond en die grond sal die plant voed”, beklemtoon die belangrikheid van die regte voedingstowwe in die grond. Die herstel van grondvrugbaarheid behels nie net die aanvulling van water nie, maar ook die herstel van voedingstowwe wat deur die droogte uitgeput of ongebruik geraak het.
Grondanalises speel ’n kardinale rol om die voedingstofvlakke te bepaal en die spesifieke behoeftes van die grond akkuraat te identifiseer. Liebig se wet van die minimum stel voor dat die mees beperkte voedingstof die plantegroei die meeste sal inperk, ongeag die beskikbare hoeveelhede van ander voedingstowwe. Dit is belangrik om op die regstelling van makro- en mikrovoedingstowwe te fokus om optimale gewasgroei te verseker.
Invloed van plantvoedingselemente op gewasopname
Grond bestaan uit ’n komplekse stelsel van verhoudings tussen voedingstowwe (Figuur 1). Dit is noodsaaklik vir ’n landbouer om hierdie verhoudings te handhaaf, veral met betrekking tot makro- en mikro-elemente, wat uiters belangrik vir plantegroei is.
Oortollige voedingstowwe kan soms tot ’n verhoogde opbrengs lei, maar ’n wanbalans kan ook die opname van sekere ander elemente deur die plant inhibeer. ’n Oormaat stikstof (N) kan byvoorbeeld die opname van kalium (K), koper (Cu) en boor (B) deur plante verminder. Soortgelyk kan ’n té hoë fosfaat (P)-vlak die opname van Cu, kalsium (Ca), K, yster (Fe) en sink (Zn) verlaag, terwyl ’n oormaat K weer die opname van B en magnesium (Mg) kan beïnvloed.
Daar bestaan egter ook positiewe element-verhoudings wat die opname van beide kan bevorder, soos B wat die opname van Ca deur plante kan stimuleer, molibdeen (Mo) wat die opname van N en Cu kan bevorder, en die interaksie tussen P (fosfaat) en Mg wat mekaar se opname kan versterk. Liebig se wet is ook hier van toepassing, aangesien die mees beperkende voedingstof die gewasopname en uiteindelike groei sal beperk.
Aanpassings vir toekomstige seisoene
Gedurende die droër 2023/2024-seisoen, het sommige produsente laer opbrengste behaal as wat hulle oorspronklik beplan het. Deur die nodige analises te doen, kan nou bepaal word wat die beskikbare anorganiese N-inhoud is wat nog in die grond is en kunsmisaanpassings kan deur ’n bemestingskundige gemaak word.
Indien minder mielies gestroop is as wat beplan is, kan aanpassings aan die NPK-verhoudings gemaak word om te verseker dat die grond optimaal voorberei is vir die volgende seisoen. Anorganiese N-ontledings bied ’n aanduiding van die beskikbare stikstof in die grond voor en ná plant. Dit kan help met verdere besparings in N-toediening, veral ná ’n jaar soos vanjaar.
Dit is belangrik om die besparings noukeurig te bereken om die opbrengste nie te beperk in ’n moontlike goeie seisoen nie. Deur die beginsels van Liebig se wet toe te pas, kan produsente seker maak dat die mees beperkende voedingstowwe aangespreek word, wat toekomstige opbrengste kan verbeter.
Landboubeplanning se belangrikheid
Weerdata en -voorspellings speel ’n uiters belangrike rol in produksiebeplanning deur aan produsente die nodige inligting te verskaf om beter besluite te neem. Akkurate weervoorspellings help om risiko’s te beperk en plant- en bemestingskedules volgens die verwagte weersomstandighede aan te pas. Verskeie gereedskap en hulpbronne, soos weertoepassings en plaaslike weerkundige dienste, bied toegang tot hierdie belangrike inligting.
Met die vooruitsig van ’n moontlike La Niña-seisoen in 2024/2025, wat met verhoogde reënval in Suidelike Afrika geassosieer word, moet produsente op beide die voordele en uitdagings van natter toestande voorbereid wees.
Verhoogde grondvog kan verbeterde gewasopbrengste tot gevolg hê, maar dit kan ook in sekere omstandighede tot die uitloging van voedingstowwe en moontlike siekte-uitbrekings lei. Daarom is dit noodsaaklik om grondanalises betyds uit te voer en bemestingspraktyke aan te pas om die mees beperkende voedingstowwe aan te vul. Hierdie proaktiewe benadering sal verseker dat produsente optimaal voordeel trek uit die verwagte reënval en die risiko’s beter kan bestuur.
Grafiek 1 illustreer die huidige ENSO-toestande van die see-oppervlaktemperature anomalieë in die ekwatoriale Stille Oseaan. Dit wys hoe La Niña beïnvloed word deur die temperatuurafwykings wat weerpatrone wêreldwyd beïnvloed, insluitend die potensieel verhoogde reënval wat in Suidelike Afrika verwag word.

Samevatting
Met ’n 85%-waarskynlikheid van ’n La Niña-seisoen, is dit belangrik om alles moontlik te doen om die grond reg voor te berei vir die nuwe seisoen. Deur op data en navorsing staat te maak, kan produsente hul grondgesondheid verbeter en oesopbrengste maksimeer.
Grondvoorbereiding is nou belangriker as ooit, en dit sluit in om grondanalises te doen en die regte voedingstowwe toe te dien. Hierdie benadering sal bydra om die grond gesond te hou en volhoubare landboupraktyke te ondersteun. Dit sal verseker dat ’n optimale opbrengs op die belegging in die grond verkry word.
Bronnelys
Adriaanse E, 2024. Is dit raadsaam om na ’n droogte op bemesting te bespaar? SA Graan. https://sagrainmag.co.za/2024/07/02/is-dit-raadsaam-on-na-n-droogte-op-bemesting-te-bespaar/ [16 Julie 2024]
Bezuidenhout G, 2022. “Voed die grond, nie die plant nie”. Landbou.com. https://www.landbou.com/landbou/bedrywe/akkerbou/voed-die-grond-nie-die-plant-nie-20221215 [17 Julie 2024]
Butler Z, 2024. Enso outlook, potential 2024-2025 impacts. OpenSnow. https://opensnow.com/news/post/enso-outlook-potential-2024-2025-impacts. [18 Julie 2024]
Jordaan D, [2023]. Pak versuring in grond só aan. SA Graan. https://sagrainmag.co.za/2023/07/31/pak-versuring-in-grond-so-aan/ [16 Julie 2024]
Sihlobo W, [2024]. Podcast: La Niña prospects in the upcoming 2024/25 season are a welcome development. BusinessLIVE. https://www.businesslive.co.za/fm/fm-fox/2024-07-15-podcast-la-nia-prospects-in-the-upcoming-202425-season-are-a-welcome-development/ [17 Julie 2024]
SARE, 2020. Soil organic matter and soil fertility. https://www.sare.org/publications/conservation-tillage-systems-in-the-southeast/chapter-3-benefits-of-increasing-soil-organic-matter/soil-organic-matter-and-soil-fertility/ [16 Julie 2024]
Tolmay J, Truter K en Botha P, 2023. Hoe verander grondchemie met presisiepraktyke? SA Graan. https://sagrainmag.co.za/2023/07/04/hoe-verander-grondchemie-met-presisiepraktyke/ [16 Julie 2024]
Van Zyl K, 2023. Ontledings speel groot rol in moderne boerdery. SA Graan. https://sagrainmag.co.za/2020/08/05/ontledings-speel-groot-rol-in-moderne-boerdery/ [18 Julie 2024]
Van Zyl K, 2024. Ondergrondsuurheid beperk steeds opbrengste. SA Graan. https://sagrainmag.co.za/2024/07/02/ondergrondsuurheid-beperk-steeds-opbrengste/ [17 v 2024]
Yara, 2018. Fertilizer Industry Handbook 2018 – Yara International. https://www.yara.com/siteassets/investors/057-reports-and-presentations/other/2018/fertilizer-industry-handbook-2018-with-notes.pdf/ [15 Julie 2024]







