Verhoogde insetkoste is ’n bedreiging vir die volhoubaarheid van veral kleiner kommersiële landbouprodusente. Dit noodsaak produsente om hoër opbrengste te behaal sodat dieselfde winsmarge as vorige jare behaal kan word. Daarom is die vermoë om risiko’s te bestuur ’n uiters waardevolle vaardigheid.
Volgens Statistiek Suid-Afrika het landbouproduksie die afgelope jaar veranderings ondergaan weens verhoogde insetkoste. Hierdie verhoogde koste plaas toenemend druk op produsente en dis veral waar in die geval van kleiner kommersiële produsente, wat nie altyd die nodige finansiële middele het om insette vroeg aan te koop nie.
Die markte van verskillende insette soos kunsmis, chemiese stowwe en brandstof toon gewoonlik ’n opwaartse neiging hoe nader daar aan die somerplantseisoen beweeg word. Die probleem word dikwels verder vererger deur ondergemiddelde grondpotensiaal, wat nie die vereiste opbrengste kan lewer nie – veral as dit gepaardgaan met weersomstandighede soos die El Niño-klimaatverskynsel, wat met droër seisoene geassosieer word.
Kunsmis
Kunsmispryse toon ’n opwaartse tendens oor die langer termyn. Alhoewel die pryse baie verskil, wys dit steeds dat die koste daarvan toeneem.
Die prys van kunsmis het oor tyd beduidend gestyg, met KAN en ureum wat met 5,8% en MAP wat met 27,4% oor die tydperk van Julie 2023 tot Julie 2024 toegeneem het (Grafiek 1). Dit dra by tot die druk op produsente om hoër opbrengste te behaal.
Brandstofpryse
Diesel speel steeds ’n groot rol in die meeste boerderypraktyke, veral by produsente waar die uitdaging groot is om oor te skakel na minimum- of geenbewerkingstelsels. Om na hierdie stelsels oor te skakel, vereis gewoonlik ’n groot kapitale uitleg. Verder is dit in sekere gebiede waar die grond baie sanderig is, nie altyd moontlik om oor te skakel nie.
Dieselpryse het nie uitermate verhoog oor die afgelope jaar nie, met ’n verhoging van sowat 18,67%. In Julie 2023 was die dieselprys R19,49 en in Julie 2024 was dit R23,13 (Grafiek 2). Die dieselprys het egter in Julie 2023 met 18 sent gestyg, wat die styging oor hierdie tydperk effens versag het.
In aansluiting by die brandstofkoste is die herstel- en onderhoudskoste van trekkers en boerderytoerusting ook ’n belangrike komponent, aangesien dit gemiddeld 80% van die brandstofkoste beloop.
Arbeid
Arbeid is een van die belangrike faktore wat die insetkoste van die landboubedryf verhoog. Heelwat produsente het al weens die verhoging betekenisvol afgeskaal op arbeid. Die minimumloon vir landbou-arbeiders het met 8,5% gestyg (Grafiek 3), wat verdere druk op produsente plaas om hul arbeidskoste te bestuur.
Die verhoging in minimum lone is nie die enigste rede waarom produsente op arbeid afskaal nie. Streng vereistes wat die Arbeidswet aan hulle stel, speel ook ’n wesenlike rol.
Die belangrikheid van risikobestuur
’n Aantal ander faktore moet ook in ag geneem word, soos die groeiende bevolking wat die vraag na graan – spesifiek mielies – verhoog, asook klimaatstoestande wat prysskommelings veroorsaak. Soms is dit voordelig en ander kere is dit nadelig, maar ’n hoë prys kom gewoonlik voor in ’n droë seisoen.
Met lae tot medium-lae potensiaalgronde is die kanse groot om steeds met ’n goeie prys in ’n droër jaar ’n verlies te ly. In ’n natter jaar is die graanpryse gewoonlik weer laer, dus is die winsmarge op die lae tot medium-lae potensiaalgronde nie altyd die risiko werd nie.
Dit is beter om eerder daardie geld te spaar en te gebruik om die medium-hoë en hoëpotensiaalgronde deur middel van kalk of hoendermis te verbeter. Die laerpotensiaalgronde kan eerder gebruik word om goeie gehalte weiding met meer drakrag as natuurlike weiding vir die veekomponent te vestig.
Bestuur risiko’s só
Met die verhoogde insetkoste word risikobestuur al hoe belangriker. Hier is ’n paar wenke om die verhoogde insetkoste teen te werk en risiko’s te bestuur:
- Dit is belangrik om die grondpotensiaal te bepaal en volgens daardie potensiaal te bemes. Faktore soos die gemiddelde reënval en langtermyn gemiddelde opbrengs moet ook in berekening gebring word.
- Bereken die insetkoste per hektaar en maak gebruik van die grond se potensiaal, gemiddelde reënval en langtermyn gemiddelde opbrengs om vas te stel of dit winsgewend sal wees om op spesifieke lande te plant.
- Minder hektare met hoër marges wat doeltreffend bestuur word, is gewoonlik beter as meer hektare met ’n laer grondpotensiaal. Dit verlaag ook die totale insetkoste en risiko.
- As die weervoorspelling op ondergemiddelde reën vir die seisoen dui, moet gewasse wat sulke omstandighede beter hanteer – soos sonneblom – die meerderheid van die aangeplante oppervlak verteenwoordig.
- Ander oesbeperkende faktore, soos ’n tekort aan ’n belangrike voedingselement of ’n lae pH, moet so gou as moontlik aangespreek word.
- Kry landboukundige ondersteuning om met besluitneming te help.
- Bestuur elke afdeling van die boerdery optimaal.
- Diversifiseer die boerdery met ’n veekomponent, wat die risiko versprei en kan help as dit swaar gaan by die saai-afdeling.
- Gebruik wisselende toerusting en nuwe tegnologie om beter bestuur toe te pas en risiko’s te beperk.
- Spaar surplusfondse om beter pryse vir insette voor die seisoen te kan benut.
- Probeer om ’n hoër gemiddelde prys vir die graan te kry deur goeie graanbemarking en markanalise.
- Pas die bemesting en plantestand aan as dit lyk soos ’n bogemiddelde reënvalseisoen.
- Indien moontlik, maak van sojabone gebruik om insetkoste te verlaag.
- Pas wisselbou toe om siektes en wanbalanse in die grond te verhoed, indien moontlik.
Gevolgtrekking
Die gemiddelde styging van die drie insette wat in die artikel genoem word, is 10,99%. Dit beteken dat die opbrengste dienooreenkomstig moet verhoog indien die graanpryse dieselfde bly. Dit sal bydra daartoe dat die winsmarge aanvaarbaar bly.
Die bedreiging van verhoogde insette veroorsaak dat produsente nie meer die risiko kan loop om gronde met ’n laer potensiaal met kontantgewasse te plant nie. Die diesel, herstel- en onderhoudskoste bly dieselfde as ’n mens vir ’n hoër opbrengs mik. Dit beteken dat ’n optimale opbrengs behaal sal moet word om die ekstra insetkoste van saad en kunsmis te regverdig.
Bronnelys
BP Southern Africa (Pty) Ltd, 2024. Fuel price adjustments. https://www.bp.com/en/global/corporate/what-we-do/bp-in-south-africa.html [30 Julie 2024]
Department of Agriculture, Forestry and Fisheries (DAFF), 2024. Fertilizer price trends. http://www.daff.gov.za/ [30 Julie 2024]
El Niño Southern Oscillation (ENSO) Forecasts, 2024. Climate Prediction Centre. https://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/enso_advisory/ [30 Julie 2024].
Grain SA, 2024. Input Reports. https://www.grainsa.co.za/pages/industry-reports/input-reports [30 Julie 2024]
National Agricultural Marketing Council (NAMC), 2024. Trends in selected agricultural input prices. https://www.namc.co.za/wp-content/uploads/2024/07/Trends-in-selected-Agricultural-input-prices-24June2024_Final2.pdf [30 Julie 2024]
South African Department of Labour, 2024. Minimum wage adjustments. http://www.labour.gov.za/ [30 Julie 2024]
South African Grain Information Service (SAGIS), 2024. Grain prices. https://www.sagis.org.za/ [30 Julie 2024]
South African Grain Laboratory (SAGL), 2024. Grain quality reports. https://www.sagl.co.za/ [30 Julie 2024]
South African Weather Service (SAWS), 2024. Seasonal climate watch. https://www.weathersa.co.za/ [30 Julie 2024]
Statistics South Africa (Stats SA), 2023. Agricultural survey. http://www.statssa.gov.za/ [30 Julie 2024]