Die graderingsregulasies van grane verseker betroubare en aanvaarde beskrywings van die gewasgehalte, wat ekonomiese gesondheid en welvaart in die landbousektor bevorder.
Dit dra by tot die suksesvolle bemarking van Suid-Afrikaanse graan en verwante landbouprodukte deur die daarstelling van standaarde vir gehaltevereistes. Dit verskaf ook riglyne vir die regulering van onpartydige hanteringspraktyke. Hierdie standaarde is belangrik om regverdigheid in die verhandeling van graan te verseker.
Grade word toegeken op die basis van ’n besending graan se voldoening aan sekere vereistes of spesifikasies vir verskillende graderingsfaktore. Graderingsfaktore verwys na die graan se fisiese kondisie. Verskeie faktore, soos die verbouingspraktyke, oesdatum, hanterings- en opbergingspraktyke kan die graan se gehalte beïnvloed. Hierdie artikel poog om lig op die saak te werp en moontlike ondersteuning aan produsente te bied.
Gradering van mielies
In Tabel 1 word die graderingsregulasies vir mielies aangedui. In die tabel kan gesien word dat die gebrekkige pitte ’n belangrike faktor is, wat tot die uiteindelike bepaling van die finale mieliegraad bydra.
DIPLODIA
Diplodia- en Fusarium-kopvrot word albei sterk geassosieer met ’n natter seisoen wanneer hierdie mieliekopsiektes hulle opwagting maak. Wanneer Diplodia-kopvrot die mielie vroeg in die seisoen aanval, sal die hele mieliepit of ’n baie groot gedeelte daarvan aangetas word en is die simptome dus maklik sigbaar.
As die mielie later in die seisoen deur Diplodia aangeval word, beweeg die fungus slegs in die aanhegtingspunt van die kiem in en sal die Diplodia (bekend as “skelm Diplodia”) dus moeiliker sigbaar wees (Ybema, 2020).
Algemene waarnemings van Diplodia op die pitte is die verdonkering van die kiem, induiking van die aanhegtingspunt en soms bruin, fyn lyntjies aan die pit se rugkant. Hierdie verskynsel sal as ’n gebrekkige mieliepit geklassifiseer word.
KRYTAGTIGHEID
’n Mieliepit wat as krytagtig geklassifiseer word se endosperm is gewoonlik nie glaserig/deursigtig aan die pit se kante nie, maar die hele pit is wit. Dit beskik dan oor ’n melerige endosperm.
Krytagtige mielies is ongewens vir meulenaars. Dit kom meestal voor by hoër opbrengste, natter seisoene (wanneer mielies geneig is om sagter te wees), kultivargebreke en wanneer rypskade voorkom (Ybema, 2020). Hierdie verskynsel word ook as ’n gebrekkige mieliepit geklassifiseer.
RYPSKADE
Pitte met rypskade is mieliepitte wat deur ryp beskadig is en aan die volgende gekenmerk word (Agbiz, 2024):
- ’n Dowwe bruin verkleuring van die aanhegtingspunt.
- ’n Onderontwikkelde endosperm in verhouding tot die kiem.
- Die perikarp is gekraak of gevlok.
WATERBESKADIGDE PITTE
Waterbeskadigde pitte vorm ’n duidelike geel of ligbruin band om die pit. Hierdie pitte is geneig om met geelbekkies verwar te word.
Die waarneembare verskil tussen geelbekkies en waterbeskadigde pitte is dat die waterbeskadigde pitte ’n duidelike lyn vorm waar die waterskade ophou, terwyl die geelbekkie nie ’n duidelik sigbare lyn vorm nie (Ybema, 2020). Daar word nie ’n bepaalde oppervlakte gegee om as waterbeskadigde pitte in die gradering te klassifiseer nie, dus sal enige graad van waterskade op pitte as ’n gebrekkige mieliepit geklassifiseer word.
Gradering van koring
Suid-Afrika staan wêreldwyd vir die beste maal- en bakgehalte bekend. Dié hoë standaarde van koringgradering maak dat die vereistes vir die lewering van koring in Suid-Afrika eenvoudig net té streng is. Daarom word die meeste plaaslike koring vanuit Australië, Duitsland, Kanada, Argentinië, die Verenigde State van Amerika (VSA) en Brasilië ingevoer, waar die maal- en bakwaarde van ’n laer gehalte is.
Die klas “Ander koring” word dan met ons hoër gehalte koring gemeng, om sodoende die koring vir maaldoeleindes vir die meulenaars op te gradeer (Tabel 2).
Die nuwe koringgraderingsregulasies is sedert Oktober 2019 van toepassing (Agbiz, 2024). Beide die Hagberg-valgetal en die hektolitermassa dra by tot die finale gradering van koring. Tabel 3 stel die koringgraderingstandaarde grafies voor. In die tabel kan gesien word dat die hektolitermassa, proteïeninhoud en valgetal belangrike faktore is, wat tot die uiteindelike bepaling van die finale koringgraad bydra.

VALGETAL
Koringprodusente in die oostelike dele van Noordwes het die afgelope paar seisoene baie uitdagings met die gradering van koring ervaar. In die 2022-koringseisoen het vroeë reënbuie onverwags in November voorgekom en het koring wat nog op die lande was, uitgeloop en het dit die valgetal ernstig benadeel. Die daaropvolgende jaar is hoë opbrengste ontvang, maar ’n lae proteïeninhoud het egter sy tol geëis.
Die uitloop van koring verwys na die verskynsel waar ryp koring in die aar begin ontkiem weens reën en vogtige toestande tydens strooptyd. Wanneer die koring ontkiem, skakel die plant styselkettings om na eenvoudige suikers, wat dan as ’n energiebron gebruik word om die jong plant verder te laat ontwikkel. Die ensiem wat hierdie proses aan die gang sit, is alfa-amilase.
Sodra hierdie koringkorrels begin ontkiem, soos getoon in Foto 1, verlaag die graan se gehalte onmiddellik. Dit hou geweldige ekonomiese implikasies vir die produsent in, aangesien hierdie graan nou waardeloos vir die verbruiker (meulenaar) is. Sulke koring kan nie opgeberg of vir saaddoeleindes aangewend word nie omdat die kiemkragtigheid drasties verlaag.

(Bron: Barnard, 2021)
Die suikers wat vrygestel word, help die fermentasieproses van brood aan. ’n Té hoë suikerinhoud in die deeg lei daartoe dat die koring se broodbakgehalte aansienlik afneem (Fourie & Viljoen, 2021). Die brood word gekenmerk aan groot, oop rysgate, ’n klewerige krummeltekstuur en ’n donker kors weens die karamelisering van die oormaat suiker wat teenwoordig is (Figuur 1). Dit is hier waar die valgetaltoets van deurslaggewende belang is.

Koring se valgetal word as ’n graderingsmaatstaf gebruik. Meel en water word tydens die uitvoer van die valgetaltoets in ’n glasbuis gemeng en verhit, terwyl ’n metaalstaaf (roerder) aan die onderkant op en af deur die mengsel beweeg. Dit lei tot die gelatinisering van die stysel, met gepaardgaande verdikking van die mengsel tot ’n pasta. Aan die einde van die mengtyd word die roerder toegelaat om deur die gegelatiniseerde styselpasta te val.
Hoe meer weerstand die pasta bied (hoe dikker), hoe stadiger sal die roerder val. Die tyd wat dit die roerder neem om deur die lengte van die buis te val, is die valgetal gemeet in sekondes. ’n Hoë valgetalwaarde is dus ’n aanduiding van minimale alfa-amilase aktiwiteit en ’n lae valgetalwaarde is ’n aanduiding van ’n oormaat ensiemaktiwiteit (Fourie & Viljoen, 2021).
HEKTOLITERMASSA
Die hektolitermassa speel nie so ’n groot rol in die gradering van koring as in die geval van proteïen nie, aangesien Suid-Afrika meestal koring met ’n hoë hektolitermassa produseer.
PROTEÏENINHOUD
Proteïenvlakke speel in die Suid-Afrikaanse markplek en in die graderingsregulasies vir broodkoring ’n groter bepalende rol as die hektolitermassa. In die geval van stikstofbemesting is daar ’n negatiewe verband tussen die graanopbrengs en graanproteïen (Figuur 2).
Die reglynigheid van hierdie verband kan verander word deur stikstofbemesting in die vlagblaarstadium by die opbrengspotensiaal aan te pas om graan met ’n aanvaarbare proteïeninhoud te produseer.

Samevatting
Die verskillende grade van graan hou direk verband met die eindverbruik. Dit bepaal hoe doeltreffend die graan verwerk kan word om byvoorbeeld die optimale meelopbrengs tydens die maalproses te lewer. Deur die korrekte toepassing van die graderingsregulasies word billike en mededingende handelspraktyke tot algehele voordeel van verbruikers en die landboubedryf bevorder.
Bronnelys
- Agbiz, 2024. Regulations relating to the grading of maize intended for sale in the Republic of South Africa. Department of Agriculture, Land Reform and Rural Development: https://agbizgrain.co.za/document/open/maize-regulation-16-feb-and-1-march-2024-865
- Barnard A, 2021. Hoe staan sake met uitloopweerstand by koring? Graan SA: https://sagrainmag.co.za/2021/12/10/hoe-staan-sake-met-uitloopweerstand-by-koring/
- Fourie P & Viljoen H, 2021. Hoe gemaak met ’n lae koringvalgetal? Graan SA: https://sagrainmag.co.za/2022/02/21/hoe-gemaak-met-n-lae-koringvalgetal/
- Ybema DS, 2020. Mieliegradering in perspektief. (L. v. Walt, onderhoudvoerder)