DIE jaarlikse loopbaandag wat deur Hoërskool Lichtenburg in samewerking met NWK aangebied word, se oorhoofse doel is die bewusmaking en behoud van dié dorp se plattelandse talent. Dié unieke geleentheid het op 31 Julie plaasgevind en was werklik ‘n gemeenskapsprojek.
Dié uitstalling verseker dat skoliere bekendgestel word aan die wye verskeidenheid beroepsgeleenthede wat spesifiek by werkgewers in Lichtenburg beskikbaar is. Die omgewing beskik oor uitsonderlike jong talent, en dit is belangrik dat hierdie vaardighede in die streek bly. Deur leerlinge die geleentheid te gee om aktief met professionele individue in verskillende beroepsvelde in gesprek te tree, kan kenners hul vrae direk beantwoord en hul oë oopmaak vir die toekomsmoontlikhede in hul eie dorp.
NWK het self 15 stalletjies beman en daarna gestreef om soveel as moontlik departemente te betrek sodat die interaksie met die leerlinge waarlik betekenisvol kon wees.
Sommige van die stalletjies het hul kreatiwiteit tentoongestel met speletjies en interaktiewe uitstallings om prosesse te verduidelik en aandag te trek. AgTech Presisieboerdery- en Hommeltuigafdeling se uitstalling was ook onder die gewildstes.
Ander NWK-afdelings wat met hul kreatiwiteit aandag getrek het, is NWK4Sure, Creations@NWK, Mensekapitaal en Inligtingstegnologie. NWK4Sure se stemmery vir Gert se maat het baie aandag getrek. Daar is drie karakterfigure bekend gestel en leerlinge kon vir hul gunsteling stem. Grietjie het die meeste ondersteuning gekry en is as NWK4Sure se nuwe lewensversekering-karakterfiguur gekies. By Creations@NWK het leerlinge die kans gekry om kreatief te wees. Mensekapitaal se “beker-pong”-speletjie het leerlinge gelok om beroepsgeleenthede by NWK te ondersoek, terwyl Inligtingstegnologie se speletjies groot belangstelling gewek het.

‘n Wêreld van geleenthede
Die dag is oorheers deur ‘n sterk belangstelling in rigtings soos regte, landbou, finansies en inligtingstegnologie. Leerlinge was verbaas oor die groot aantal beroepsgeleenthede wat werklik in Lichtenburg beskikbaar is – met NWK se wye spektrum van besigheidsaktiwiteite is daar bykans vir elke beroep ‘n plek.
Aangesien daar steeds baie onsekerheid onder leerlinge heers oor die regte beroepskeuse en wat dit behels, moedig NWK hulle aan om gedurende vakansietye tyd te bestee in die veld waarin hulle belangstel. Sodoende kan hulle die praktiese realiteite eerstehands ervaar en ingeligte keuses maak. Aanleg-, persoonlikheids- en belangstellingstoetse speel ook ‘n sleutelrol om die ideale loopbaanpassing te identifiseer, wat toekomstige werkstevredenheid verhoog.
NWK het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul leerlingskap-, beroepswaarneming- en spesifieke IT-leerprogramme bekend te stel, wat aan leerlinge die kans bied om ná hul kwalifikasies praktiese ervaring op te doen.
Hierdie jaarlikse geleentheid is vir NWK van kardinale belang omdat dit aan die jeug die geleentheid bied om hul unieke bydrae tot die arbeidsmag en voedselsekerheid van die land te lewer.







