In die vorige artikel is die wese en oorsake van klimaatsverandering uitgelig, naamlik dat die aarde se temperature besonder vinnig styg. Dit kan direk aan die toename van aardverwarmingsgasse toegeskryf word. Die volgende vraag is dan wat die uitwerking daarvan op weerpatrone gaan wees, met spesifieke verwysing na weerpatrone oor Suid-Afrika.
Die Hadley-sel
Die son tref die aarde deur die jaar min of meer loodreg op die ewenaar, met ‘n effense verskuiwing noord en suid om seisoene te vorm. Dit veroorsaak dat die aarde die meeste van die sonenergie rondom die ewenaar ontvang. Die Hadley-sel behels dat warm, vogtige lug rondom die ewenaar styg om feitlik konstant laagdrukselle op die ewenaar te vorm en dit deurlopend donderbuie vorm. Stygende lug beweeg dan in die boonste atmosfeer noord- en suidwaarts, waar dit op ongeveer 30° noord en suid as droë hoogdrukselle daal (Figuur 1).
Namate die aarde se atmosfeer warmer word, word die Hadley-sel intenser, bloot omdat daar meer energie in die atmosfeer is. Tropiese siklone is inherentdeel van die Hadley-sel en het die uitwerking dat tropiese siklone intenser word. Voorts wil dit voorkom of die Hadley-sel weens aardverwarming verbreed en verder suid daal as in die verlede.
Die sone waar die Hadley-sel op ongeveer 30° noord en suid as hoogdrukselle daal en in aanraking met die pool-westewinde kom, is die gebied waar die meer digte koue lug die warmer minder digte Hadley-lug oplig om weer laagdrukselle in die vorm van koue fronte te vorm.
Die Hadley-sel en ook die poolwinde skuif tydens Suid-Afrika se winter meer noord, met die gevolg
dat koue fronte oor die land beweeg en die droë Hadley-hoogdrukselle oor Suid-Afrika geleë is. Die teenoorgestelde gebeur tydens die somer, wanneer vogtige Hadley-lug bo-oor Suid-Afrika geleë is en die land tropiese somerreën ontvang, met die koue fronte wat suid van die land verbybeweeg.
Laag- en hoogdrukselle
Aardverwarming het dan ‘n uitwerking op intenser tropiese laagdrukselle en intenser koue fronte, met die vorming van afsnylaagdrukstelsels. Die afsnylaagdrukstelsels kan baie intens wees en stormagtige reën met sterk winde en rukwinde veroorsaak. Hierdie afsnylaagdrukstelsels kan nou oor die Suid-Afrikaanse binneland beweeg en groot hoeveelhede herfs- en lentereën veroorsaak.
Die hoogdrukselle wat op die suidelike rand van die Hadley-sel vorm, word nou weer intenser en duur langer. Dit is verantwoordelik vir intenser en warmer hittegolwe wat langer duur. Die gevolg is meer uiterste weerstoestande – baie warm en langer droë tydperke, afgewissel met baie nat tydperke.
Wat kan ons in SA verwag?
Klimaatsverhitting is ongeveer dubbel in Suider-Afrikaas die globale gemiddelde en Suid-Afrika is reeds ongeveer 3°C warmer as voor die industriële tydperk.
Dit wil voorkom asof herfs langer aanhou met warmertemperature, wat dan skielik deur afsnylaagdrukstelsels vervang word, wat uiterste nat en koue weer oor die land bring. Dit wil voorkom asof sulke afsnylaagdrukstelsels gereelder gaan voorkom en ook bonormale reën tot in die lente gaan bring, selfs tot in die Noord-Kaap en sentrale binneland. ’n Besonderehoë windspoed met skadelike rukwinde word ook daarmee geassosieer.
Hittegolwe gaan al warmer word, al algemener voorkom en langer duur. Hoewel Suid-Afrika as geheel droër gaan word, gaan die voorkoms van swaar reënval oor die oostelike dele van die land verhoog, met meer vloede. Die verwagting is nie noodwendig dat daar meer tropiese siklone gaan vorm nie, maar wel dat die tropiese siklone intenser gaan word en meer skade gaan aanrig wanneer dit oor die land beweeg.
Dit wil voorkom asof El Niño en La Niña ook hierdie weerpatrone beïnvloed en versterk. Dit kan die uitwerking hê dat meer “super” El Niño-jare vorm, wat warmer en droër kan wees as in die verlede, met La Niña-jare wat natter is – alles meer ekstreem. Wat seker is, is dat aardverwarming ‘n impak op die klimaat gaan hê en dat landbou hierby sal moet aanpas.







