Die beskikbaarheid van vars water is nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd, onder enorme druk. Ongeveer 86% van die wêreld se vars water word vir voedselproduksie aangewend. Gevolglik raak die bestuur en benutting van ons waterbronne al belangriker.
Die doeltreffende toediening van water vereis akkurate inligting oor die weer, grond en plantomstandighede gedurende die verloop van die groeiseisoen, wat dus hoër landbouproduktiwiteit tot gevolg sal hê. Inligtingsgebaseerde besproeiingskedulering wat aangepas is vir die ruimtelike temporele variasie van die lande is van die uiterste belang, om sodoende die huidige besproeiingstelsels, asook die besluitneming ten opsigte van besproeiingskedulering, te verbeter.
Sojabone (Glycine max) is een van die belangrikste bronne van olie en proteïen wêreldwyd. Sojaboonproduksie het in Suid-Afrika geleidelik toegeneem van minder as 10 000 ton in die 1970’s en het in 2015 vir die eerste keer die 1 miljoen ton-merk oorskry.
Noordwes is verantwoordelik vir sowat 6% van Suid-Afrika se totale sojaboonproduksie. Die aanvraag na sojabone as deel van ’n wisselboustelsel neem toe as gevolg van sojabone se stikstofbindingsvermoë en uitgebreide wortelstelsel, wat op sy beurt die grondstruktuur verbeter. Hoewel droëland-sojabone op ’n groot skaal in Suid-Afrika aangeplant word, is sojabone as opvolggewas na winterkoring onder besproeiing alreeds ’n gevestigde praktyk in Suid-Afrika.

Waterbehoefte van sojabone
Vir beplanningsdoeleindes en bestuursbesluite is dit belangrik om kennis te hê oor die totale waterbehoefte van sojabone. Dit sal deur die groeiseisoen wissel, afhangende van die weersomstandighede en die plant se groeistadium.
Die waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) van sojabone wissel tussen 4 kg en 7 kg/ha/mm water verbuik. ’n Gemiddelde waarde van 6 kg/ha/mm water vir saadproduksie kan vir beplanningsdoeleindes aanvaar word. Om dus ’n opbrengs van 3 000 kg/ha te produseer, sal 500 mm water goed versprei deur die seisoen benodig word. Sowat 6 kg graan word geproduseer vir elke 1 mm water (Graan SA, 2016).
Die atmosferiese aanvraag het egter ’n invloed op die WVD en daarom sal die waterbehoefte hoër wees in gebiede met hoë verdampingsyfers. Laer opbrengste gaan gewoonlik met ’n lae WVD gepaard. Meer sojabone word dus per mm waterverbruik geproduseer by hoër opbrengste, in vergelyking met laer opbrengste.
Indien die verdampingsaanvraag die toevoerkapasiteit van die besproeiingstelsel vir ’n bepaalde tydperk oorskry, sal sojabone slegs die beskikbare water opneem en die gewas sal onder waterstremming lei (Ceronio, 2018).
Wanneer die vogbehoefte die hoogste is, sal vogstremming die grootste uitwerking op oesverliese hê. Die simbiotiese binding van stikstof word egter ook deur waterstremming negatief beïnvloed. Besproeiingstelsels moet dus ontwerp word om die hoogste waterbehoeftes van gewasse met ongeveer 15% te kan oorskry.
Sojabone is minder sensitief vir suurgronde as mielies en kan dus beter droogtestremming in suurgronde oorleef. Dié gewas is egter baie gevoelig vir versuiping in die vroeë groeistadiums. Dus sal grond met ’n vlak watertafel die risiko vir versuiptoestande verhoog. Sodra die sojaboonsaad ongeveer 50% (mieliesaad benodig slegs 30%) van sy eie massa in vog opgeneem het, sal dit ontkiem.
Oormatige vog sal egter ook swak ontkieming tot gevolg hê. Gedurende opkoms, waar in klam grond geplant is, word geen besproeiing aanbeveel of reën benodig voordat al die plantjies die grondoppervlakte bereik het nie.
Hoewel sojabone ’n laer WVD as mielies handhaaf, is dit in staat om die beskikbare grondvog beter te benut. Sojabone het ’n korter groeiperiode, tesame met ’n langer blomtydperk, en dit stel hierdie gewas in staat om meer droogteverdraagsaam as mielies te wees. Aangesien sojabone oor ’n tydperk van 30 tot 42 dae blom, is die gewas nie besonder gevoelig vir reënvalverspreiding nie. Sojabone beskik dus oor ’n goeie herstelvermoë ná ’n tydperk van vogstremming.
’n Gesonde wortelstelsel wat water optimaal kan benut, moet verseker word deur verdigtingslae op te hef en ’n optimale voedingstofstatus in die grond te verseker. Sojabone beskik oor ’n goed ontwikkelde penwortel, wat tot so diep as 1,8 m in die grond kan penetreer. Dit handhaaf tydens die groeifase ’n stam-tot-wortellengteverhouding van ongeveer 1:2. Tot soveel as 67% van die ekstensiewe worteloppervlakte word egter in die boonste 16 cm aangetref (Ceronio, 2018).
Waak teen oorbesproeiing aangesien dreineringsverliese kan plaasvind, veral vroeg in die groeiseisoen, as die tempo van waterverbruik nog laag is. Plantwortels benodig suurstof, wat nie moontlik is in oorbesproeide of versuiptoestande nie. Langdurige versuiptoestande kan tot die afsterwing van wortels lei, wat ook opbrengsverliese veroorsaak en siektetoestande bevorder. Veral ná die blomstadium sal die hergroei van wortels gewoonlik nie meer plaasvind nie, wat opbrengste ernstig kan strem.
Kennis oor sojabone se waterbehoeftes verseker beter besproeiingskedulering en stel die produsent ook in staat om die regte kultivarkeuse te maak.

Grondtipe
Die waterhouvermoë, asook die heersende waterinhoud in die grondprofiel, word deur die diepte, organiese materiaalinhoud en klei-inhoud (tekstuur) van die grond bepaal (Tabel 1).
- Veldwaterkapasiteit (VWK) is waar grond versadig en toegelaat is om vrylik te dreineer.
- Die permanente verwelkingspunt (PVP) is waar water ontoeganklik is vir plantopname en die onderste grens van plantbeskikbare water. Die fotosintese-proses word dus vertraag en die plant verwelk.
- Plantbeskikbare water (PBW) is die maksimum hoeveelheid water beskikbaar vir plantopname, wanneer die spesifieke grond sy veldwaterkapasiteit bereik het.
Groeistadium van die plant
Die waterbehoeftes wissel, afhangende van die plant se groeistadium.
Seisoenale waterverbruik van sojabone word deur die atmosferiese verdampingsaanvraag en die beskikbaarheid van water in die grondprofiel bepaal. Besproeiing moet tot ’n mate beperk word gedurende die vegetatiewe stadium. Dit sal ’n sterk, diep wortelgroei aanmoedig, asook oormatige groei en omval van die plant verhoed (Ceronio, 2018).
Die spitsbehoefte is die tydperk van ’n seisoen wanneer die tempo van waterverbruik die hoogste is. Dit kom gewoonlik gedurende Januarie of Februarie voor, waartydens die blaredak en atmosferiese verdampingsaanvraag ’n maksimum bereik (blom- tot saadvulstadium) en die gewasfaktor ook betreklik groot is (Graan SA, 2016).
Die gewasfaktor dui die waterbehoefte van die gewas op die verskillende groeistadiums aan. Die middel tot laat reproduktiewe stadium is dus sensitief vir enige vogstremming. Waterstremming by sojabone wys wanneer die jongste terminale blaar en later alle blare na bo draai. Tydens die peulvulstadium kan hitte, vogstremming, ’n tekort aan daglig en voedingstowwe, die aantal peule en saadgrootte aansienlik verminder (Ceronio, 2018).
Sowat 75% van die totale waterbehoefte is nodig vir reproduktiewe groei tussen ongeveer 40 en 100 dae na plant. Ongeveer 45% van die opbrengs word in die laaste vier weke van groei, wanneer die pitte in gewig toeneem, bepaal (AGTAG, 2019).
Groeiperiode
Die groeiperiode van ’n sojaboonkultivar word deur die volwassenheidsgroepering (VG) aangedui. Vroeë kultivars beskik oor ’n hoë VG, byvoorbeeld 6,4 (PAN 1614R), en sal dus meer water benodig oor hul totale groeiperiode as dié van ’n laer VG, byvoorbeeld 4,3 (PAN 1454R).
Vroeë kultivars benodig ’n relatief langer tydperk van daglig vir die omskakeling vanaf vegetatiewe na reproduktiewe groei. Alhoewel kultivars met ’n hoër VG meer water vereis, het dit ook die potensiaal om ’n hoër opbrengs onder optimale toestande te lewer.
Die vyfgroeiklaskultivar kan die volseisoen en die laat reën goed benut, terwyl die viergroeiklaskultivar teen daardie tyd fisiologies ryp is en geen opbrengsvoordele hieruit sal kry nie (AGTAG, 2019).
Samevatting
Plaaslike produsente sukkel alreeds met stygende insetkoste. Daarom is die korrekte watergebruik uiters belangrik, omdat dit direk met die winsgewendheid verband hou. Die wisselvallige invloed van die natuur op die opbrengs kan ondervang word deur die plant se belangrike groeistadiums vir water in ag te neem en dit daarvolgens te bestuur.
Kennis van sojabone se waterbehoefte skep bestuursriglyne vir produsente om ’n ingeligte kultivarkeuse te maak. Die keuse word bepaal ten opsigte van die volwassenheidsgroepering en totale waterbehoefte van sojabone, na gelang van die langtermyn verwagte reënvalpatroon van die gebied waarin die aanplanting gedoen word.
Die bestuur van die plant se waterbehoeftes en korrekte besproeiingskedulering gedurende belangrike groeistadiums is dus die sleutel tot sukses vir volhoubare landbou.
Bronnelys
- AGTAG, 2019. Sojabone, die volwaardige wisselbou-spanmaat. Beskikbaar by https://agtag.co.za/category/14/post/12284 [6 Oktober 2020]
- Ceronio G, 2018. Produksie van somergraan-, olie- en proteïenryke gewasse. 1ste uitgawe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
- Goble N, 2019. Pannar Produkkatalogus. Pannar Seed (Pty) Ltd, Greytown
- Graan SA, 2005. Waterverbruik van sojabone onder die loep. https://www.grainsa.co.za/waterverbruik-van-sojabone-onder-die-loep [6 Oktober 2020]
- Rossouw D, 2020. Persoonlike mededeling