Voordat mense besef het dat asbes gevaarlik is, is dit in verskeie velde gebruik omdat dit die goedkoopste, mees veeldoelige mineraal was om wettig mee te bou. In die meeste geboue wat vanaf die begin vyftigs tot middel negentigs opgerig is, is asbes of asbesdraende materiaal in die bouproses gebruik – van mure tot panele, dakke en selfs vensterbanke. ’n Ondersoek in 2019 het bevind dat sowat 300 skole in totaliteit van asbes vervaardig is.
Geskiedenis van asbes
Asbes is een van die mees gebruikte minerale in die wêreld, maar ook een van die oudstes. Meer as 2 000 jaar gelede is dit in China, Egipte en Griekeland gebruik. Die naam “asbes” is afgelei van die Griekse term “onblusbare vlam”.
Een van die vroegste toepassings in die pitte van olielampe, wat bykans onvernietigbaar was, dateer van so vroeg as AD 79 uit China. Hierdie hitte- en brandbestande eienskap is vandag nog een van asbes se hoofkenmerke. Kommersiële ontginning en produksie het amptelik in die 1850’s begin, tydens die hoogtepunt van die Industriële Rewolusie, veral in die vraag na isolasiemateriaal vir stoomenjins en pype.
Grootskaalse soektogte is aangepak na die mineraal en in 1860 is die eerste grootskaalse ontdekking in Kanada gemaak. Ontginbare neerslae is ook in Rusland, Italië en Siprus gevind. In die vroeë 1900’s is ontdekkings in Suid-Afrika en Zimbabwe (toe Rhodesië) gemaak. Grootskaalse ontginning het in 1930 in alle erns begin. In die vroeë dae was die mynmetodiek baie primitief, waar produsente letterlik die mineraal met graaf, pik en kruiwa ontgin het.
Buitelandse myngroepe het ná die 1940’s in die ontwikkeling van ware myne begin belê. Suid-Afrika is in die beste posisie vir die produksie van asbes, aangesien die drie hoofgroepe wat in aanvraag is in ons land voorkom – naamlik krisotiel of wit asbes, amosiet of bruin asbes, en krosidoliet of blou asbes. Die laaste twee groepe is redelik onbekend in die res van die wêreld en kom uitsluitlik hier voor.
Teen 1981 het buitelandse beleggers weens wêrelddruk, sanksies en ander politieke en “groen” oorwegings uit Suid-Afrika onttrek. ’n Groot afname in die wêreldvraag na asbes het gevolg. Samesmeltings en oornames van myne en bates het plaasgevind, met die gevolg dat net twee myngroeperings oorgebly het. Só het Gefco en Msauli Asbes tot stand gekom.
Gefco se myne was gekonsentreerd in die Noordwes-Kaap en Noordoos-Transvaal. Msauli Asbes se myne was naby Baberton in die KaNgwane-tuisland. Suid-Afrika se asbes-reserwes is tans meer as 7,8 Mt, wat ons na Kanada en Rusland die derde grootste houer maak wat reserwes betref.
Algemene gebruike
- Wrywingsprodukte soos remskoene en koppelaargesigte.
- Sementwaterpype en ander.
- Brand-, hitte- en geraasbestand – sementvelle.
- Hittebestande geklede modules – vuurvaste asbessement.
- Dakbekleding – dakfilm, bekledingspapier en teëls.
- Termiese insulasie vir stoomketels en pype – asbespulp.
- Beskermende klere – hittebestande materiaal.
- Elektriese insulasie – asbestekstiel, asbes-verweefde materiaal, tou en wol.
- Seëls vir pype – pakstukke.
- Byvoegmiddels in plastiekverf en seëlaar.
- Waterfiltreerders – filters.
- Word ook aangetref in verwarmers, oonde, broodroosters, haardroërs en sekere vinielteëls.
Gevare
Asbesvesels van al drie die soorte asbes split in die lengte. Dit het ’n molekulêre dikte van 7 µm en kan sodoende die longalveoli penetreer.
Die gevaar hiervan is dat dit ’n beduidende gevaar vir mens en dier inhou – nie alleenlik vir mynwerkers en fabriekswerkers nie, maar ook wanneer stof vrygestel word vanaf opgaar-, afval- en mynhope, asook grondpaaie rondom en in asbesfasiliteite. Die stof word in die omgewing vrygestel en dit stel totale gemeenskappe en diere bloot.
Selfs besoedelde klere wat huis toe geneem word om gewas te word, kan vroue, kinders en huiswerkers affekteer. Geproduseerde verwerkte asbesprodukte hou geen wesenlike gevaar in nie, behalwe as die produkte verweer, nie onderhou word nie, en sodoende asbesvesel of stof vrystel. Indien dit gebeur, kan mense en diere siek word as hulle lank genoeg lewe.
Siektes veroorsaak deur asbes
- Asbestose: ’n Pneumokoniose met fibrose van die longe, wat die asemhalingsfunksie en later die werking van die hart inkort. Tipiese kenmerkende voorkoms op X-strale van die longe.
- Pleurale verdikkings: Net soos die vlies om die longe, is daar dieselfde vlies aan die binnekant van die borsholte. Dit staan bekend as die pleura. Makrofaagselle in die longe voer dan die mikroskopiese vesels van asbes na die pleurale vlies. Wanneer die longe beweeg, raak die pleura geïrriteerd en veroorsaak dit ’n verdikking van die vliese. Hierdie verdikkings is duidelik op X-strale sigbaar.
- Longkanker: Dit is algemeen bewys dat die inaseming van asbesstof longkanker veroorsaak. Indien ’n mens aan asbesstof blootgestel word, het jy ’n vyf keer groter kans om longkanker te ontwikkel.
Bogenoemde drie siektes kan tussen 20 en 50 jaar neem om te ontwikkel.
’n Ander siekte wat ook kan voorkom, maar tot 30 jaar ná blootstelling kan neem om te ontwikkel, is mesotelioom. Veral blootstelling aan blou asbes veroorsaak hierdie seldsame gewas, wat in die pleura ontstaan. Om hierdie rede word dit dan ook as ’n vergoedbare bedryfsiekte beskou.
Beheer
Ter voorkoming van siektes, die dood en omgewingsimpakte is wetgewing vir die beheer van asbes ingestel.
BEROEPSVEILIGHEID-WETGEWING
- Die eerste noemenswaardige Suid-Afrikaanse wetgewing wat van toepassing was, waar die mineraal ook al verwerk word, was die Asbesregulasies van 1987, uitgevaardig in Staatskoerant R773, onder die Wet op Masjinerie en Beroepsveiligheid (Wet 6 van 1983).
- Die nuutste wetgewing is uitgevaardig in Staatskoerant R155 van 1993 onder die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (Wet 85 van 1993), asook die huidige wetgewing.
** Onder bestaande mynwetgewing is daar ook addisionele regulasies, wat nie hier bespreek word nie. Die oogmerk is dieselfde as vir die beroepsveiligheidswetgewing.
OMGEWINGSWETGEWING
- Nasionale Omgewingsbestuurswet en Regulasies (NEMA) (Wet 107 van 1998).
- Nasionale Waterwet en Regulasies (Wet 36 van 1998).
- NEMA: Luggehaltewet en Regulasies (Wet 39 van 2004).
- NEMA: Nasionale Afvalwet en Regulasies (Wet 59 van 2008).
** Die omgewingswetgewing word ook nie hier bespreek nie.
BELANGRIKE REGULASIES
Regulasie 5: Inligting en opleiding
Waar werkers blootgestel of moontlik blootgestel kan word aan asbes en die newe-effekte daarvan, moet die werkgewer voordat werk ’n aanvang neem sy personeel oplei in:
- Die gevare verbonde aan asbes.
- Maatreëls hoe om blootstelling te verminder.
- Die gebruik, hantering en wegdoening van veiligheidstoerusting soos benodig.
- Standaard operasionele prosedures vir werk met, die hantering en vervoer van materiaal wat asbes bevat.
Regulasie 9: Mediese waaktoesig
Alle persone betrokke moet 14 dae voor die aanvang van werk vir ’n volledige mediese ondersoek na ’n beroepsgesondheidspraktisyn gestuur word. Dit moet onder sy aandag gebring word dat die persone met asbes gaan werk, sodat die nodige protokolle nagekom en X-strale geneem kan word. Die praktisyn sal dan besluit hoe gereeld mediese waaktoesig herhaal moet word.
Regulasie 14: Asbes wat deel van ’n gebou of struktuur uitmaak
Die werkgewer moet:
- ’n Inventaris byhou waar dit voorkom, volume en hoeveelheid verwyder of onderhou.
- Waar asbes egter gelaat word, moet dit gereeld geïnspekteer en rekord gehou word van die toestand daarvan.
- Kennisgewings aanbring oral waar asbes voorkom om instandhoudingspersoneel te waarsku.
Regulasie 20: Wegdoening
- Wanneer finaal met asbes weggedoen word, moet dit gedoen word deur ’n instansie en op ’n plek soos goedgekeur deur die hoofinspekteur van die Departement van Arbeid.
- Indien van ’n kontrakteur gebruik gemaak word, verseker dat vervoerwerk volgens die regulasies gedoen word en dat die kontrakteur daarvolgens handel.
Regulasie 21: Sloping
Sloping is die afbreking, verwydering, herstel, verseëling en waterstraling van enige struktuurbevattende gebou, bekleding of isolasie.
- Asbes/asbesbevattende materiaal moet verwyder en mee weggedoen word soos die regulasies voorskryf.
- Alle persone wat blootgestel is of kan word, moet met persoonlike beskermende toerusting (PPE) uitgereik word.
- Waar asbesbevattende materiaal gestoor word, moet verseker word dat dit geen gevaar vir mense, diere en/of die omgewing inhou nie.
Regulasie 22: verbod
Waar werknemers aan asbes blootgestel is of moontlik blootgestel kan word tydens werksaamhede, moet die werkgewer verseker dat rook, eet en drink in die nabye omgewing verbode is.
Ten slotte
- In Suid-Afrika het die vraag na asbesprodukte in die laaste 20 jaar met 236% afgeneem. As gevolg van talle groen verdrae en onderhandelings het dieselfde tendens ook in ander Westerse lande gevolg. Ongelukkig volg sekere Oosblok-lande en ander Derde Wêreldlande regoor die wêreld nie dieselfde omgewings- en veiligheidsbeginsels nie.
- Huidige wetgewing maak egter voorsiening vir die onderhoud, herstel en vervanging van sekere asbesbevattende produkte, geboue of strukture, soos onder Regulasie 20 en 21 van die Asbesregulasies.
- Daar is tans geen wetgewing in Suid-Afrika wat die besit van ’n gebou of struktuur wat asbes bevat, verbied nie.
- Die wetgewing rakende asbes is in 2002 uitgevaardig. Na verwagting is daar baie strenger wetgewing in hierdie verband op pad. Indien daar nie pro-aktief opgetree word nie, kan dit later ’n geweldige koste-implikasie inhou om hierdie probleem op te los.
Bronnelys
Coetzee AM, 1995. Managing the health of people at work. Johannesburg, Lex Patria Publishers
Hart HP, 1988. Asbestos in South Africa. Journal of the South African Institute of Mining and Metallurgy, 88(6):185 – 198