NWK verkoop ivermektien slegs vir dierlike gebruik en raai verbruikers daarom aan om eerder hulle algemene praktisyns te raadpleeg oor die behandeling van COVID-19.
Ivermektien word al dekades lank deur produsente gebruik vir die behandeling van parasiete in vee. Daar word egter beweer dat dié middel ook doeltreffend is in die behandeling van pasiënte met COVID-19.
“Ons ervaar wel ‘n toename in die verkoop van ivermektien. Ons kan dit egter nie noodwendig aan die COVID-19-pandemie toeskryf nie. Onlangse goeie reënval kon meer parasiete tot gevolg hê wat tot ‘n hoër vraag na ivermektien kan lei,” het Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, verduidelik.
Daar word tans leweringsprobleme vanaf verskaffers ondervind, maar dit sal na verwagting in Februarie stabiliseer.
“Van die verskaffers sirkuleer kennisgewings om klante in kennis te stel dat ivermektien slegs vir veegebruik verkoop sal word en NWK Retail verkoop dié produkte op dieselfde basis,” het Bezuidenhout afgesluit.