NWK is verbind tot die deursigtigheid van sy silo-voorrade en -werksaamhede en verwelkom die gereelde oudits wat onder meer deur die JSE en Suid-Afrikaanse Graan-inligtingsdiens (Sagis) onderneem word.
“Daar word beweer dat landboumaatskappye graan verkoop wat hulle nie in voorraad het nie, pryse manipuleer, kunsmatige tekorte skep en dat die JSE en Sagis nié gereelde oudits doen om te bevestig dat silosertifikate wat uitgereik word, wel met die werklike hoeveelhede ooreenstem nie,” het Nico Pieterse, senior bestuurder van Graan by NWK, gesê.
Dit volg nadat die JSE onlangs bevind het dat ‘n ander landboumaatskappy die rapporteringsreëls oor silovoorrade oortree het.
Sommige graanprodusente het gevolglik die JSE van nalatigheid beskuldig en in mediaberigte beweer dat dit by ander landboumaatskappye óók gebeur en ‘n negatiewe uitwerking op graanpryse het.
Integriteit deel van NWK-model
Interne oudits word twee maal per jaar by NWK se silo’s uitgevoer en PwC (eksterne ouditeur) onderneem ook elke jaar ‘n oudit. Die JSE het in 2020 nie minder nie as ses oudits by NWK se silo’s op Delareyville, Ottosdal, Koster, Vermaas, Bodenstein en Coligny gedoen. Voorts het die onafhanklike konsultant, Chris Sturgess, in opdrag van dié aandelebeurs nóg twee bykomende oudits op NWK se silo’s en dié van sy konkurrente gedoen.
Sagis is tans besig met ‘n fisiese oudit by NWK en dit geskied een keer elke twee jaar. NWK stuur ook maandeliks inligting rakende voorrade aan Sagis en die JSE, wat óók onderworpe is aan ‘n oudit.
“NWK se interne kontrolestelsels is van só ‘n aard dat jy nie graan kan verkoop as jy dit nie het nie. Graanvoorrade word daagliks deur silobestuurders gemonitor en by die onderskeie streeksbestuurders aangemeld, waarna NWK se voorraad- en finansiële afdelings dit nagaan.
“Boonop stop oudits nie by silo’s nie. Meulenaars moet ook die hoeveelhede wat hulle aangekoop het, bekend maak. Die hele waardeketting word aan oudits onderwerp en daar is gedurig kruisverwysings wat enige ongerymdhede met silosertifikate sal uitwys,” het Pieterse verduidelik.
“Integriteit was nog altyd een van die waardes waarop NWK sy sakemodel geskoei het. Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy sal hom nie skuldig maak aan enige oortreding by die uitreik van silosertifikate nie,” het Theo Rabe, hoof- uitvoerende beampte van NWK, beaam.