‘n Mediaverklaring is deur die forum in samewerking met Afrivet uitgereik. Hierin waarsku hulle dat skape die ergste aangetas word, maar dat bokke, beeste en selfs buffels ook die siekte kan opdoen.
“Die ergste van alles is dat SDK ‘n soönose is, wat beteken dat mense besmet kan raak, hoofsaaklik wanneer hulle siek of dooie diere hanteer. ‘n Paar jaar gelede het ‘n jong staatsveearts in die Oos-Kaap weens SDK gesterf. Dit beklemtoon dat SDK ‘n ernstige en aanmeldbare siekte is,” het die forum bygevoeg.
Die laaste geval van SDK in Suid-Afrika was in Mei 2018 in Jacobsdal in die Vrystaat aangemeld.
Die goeie reën wat die afgelope paar weke in groot dele van die land, veral in die Vrystaat, geval het, skep boonop die ideale omstandighede vir die uitbroei van Aedes-muskiete wat draers van die SDK-virus is.
Tree voorkomend op
Die enigste manier om die siekteverspreiding en besmetting van lewende hawe te voorkom, is om diere in te ent teen SDK en om muskietbyte te verhoed deur produkte te gebruik wat geregistreer is vir die beheer van muskiete (gewoonlik dippe, sproeie en opgietmiddels wat deltametrien bevat). Vanselfsprekend is jaarlikse inenting teen die siekte die doeltreffendste en maklikste manier om uitbrekings te voorkom.
Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig tans twee entstowwe:
- OBP Lewende SDK-entstof wat die Smithburn-stam bevat. Alhoewel daar geglo word dat hierdie entstof ‘n lang periode van beskerming bied, word dit sterk aanbeveel dat jaarlikse inenting geskied. Moet nie die entstof tydens SDK-uitbrekings toedien nie aangesien rekombinasie met die veldstam kan geskied en die uitbreek vererger. Hierdie entstof moet nie vir dragtige diere gegee word nie.
- OBP geïnaktiveerde SDK-entstof, wat ‘n jaarlikse inenting benodig is veilig om in dragtige diere te gebruik. As diere die eerste keer ingeënt word, word twee dosisse ses weke uitmekaar gegee, wat die inenting duurder en meer arbeidsintensief maak.
Let wel, hoewel die entstof verkieslik reeds in die vroeë lente toegedien moes geword het, is dit nog nie te laat nie. Die tyd van toediening is egter nou van groot belang omdat die meeste uitbrekings in die middel en laat somer plaasvind.