Dieremis word al sedert die vroegste tyd as ’n organiese stof vir gewasproduksie gebruik. Dit word al vir eeue as ’n bron van bemesting of groeimedium vir gewasproduksie benut. Hierdie gewasse is nie net vir dierevoeding gebruik nie, maar ook om die mens se honger te stil.
Die doel van mis
Produsente gebruik vandag verskeie tipes mis, waaronder hoender-, bees-, skaap-, perde- en varkmis, asook rioolafval. Mis bevorder die grondstruktuur deur grond se aggregasie te verbeter.
Die organiese materiaal in mis verbeter grond se porositeit en verhoog ook die grond se waterhouvermoë, omdat daar meer plek is vir die water om aan vas te bind. Verbeterde aggregasie verhoog reënwater se infiltrasietempo, en die ekstra organiese materiaal in en op die grond verlaag ook die verdamping van water uit die grond.
’n Algemene praktyk is om mis op “dooie” sandgrond uit te strooi om die grond weer lewe te gee. Dit word toegeskryf aan die verbetering van die struktuur, asook ’n verhoging van minerale en organismes in die grond.
Hierdie praktyk word al jare lank toegepas, veral waar daar kolle in die lande is wat nie uitgesny kan word nie. Die dooie kolle se opbrengs word meestal binne ’n jaar verdubbel (Figure 1 en 2). Nie al die organiese materiaal bly in die grond agter om die struktuur te verbeter nie.
Sommige van die materiaal word deur die mikrobes ontbind en dien as ’n bron van voeding en energie daarvoor. Die res van die oorblywende materiaal dien as rou organiese materiaal en afgebreekte produkte word na humus omgeskakel.


Samestelling van mis
Mis bestaan uit makro- en mikrominerale. Hierdie minerale in die mis is nie alles toeganklik vir die plant nie en moet eers gemineraliseer word. Die minerale kan dus ook nie alles in die eerste jaar deur die plante opgeneem word nie. Mineralisasie vind plaas wanneer die materiaal ontbind, verteer en as minerale-voedingstowwe deur die organismes uitgeskei word.
Die verskillende misstowwe se chemiese ontledings verskil en die beskikbaarheid van elke element verskil ook per misstof, afhangende van die waterinhoud. Die volgende misstowwe se samestellings is van toepassing by ’n 12%-waterinhoud:
- Beesmis bestaan uit ongeveer 1,1% tot 2,2% stikstof (N), 0,4% tot 1,2% fosfaat (P), en 1% tot 1,3% kalium (K).
- Hoendermis bestaan uit ongeveer 2,2% tot 3,5% N, 1,7% tot 2,2% P, en 1,5% tot 2,3% K.
- Rioolafval bestaan uit ongeveer 3% N, 1,3% P en 0,4% K.
Hoe droër die mis, hoe voedsamer is dit vir die plant en grond. Mis is ’n aanwins wat resultate tot die derde jaar ná toediening kan lewer.
Kompostering
Mis moet verkieslik gekomposteer word voordat dit gebruik word. Wanbalanse en skadelike organismes word tydens hierdie tydperk uitgesorteer. Die kompostering van mis veroorsaak dat die uitwerking van die wye C:N-verhouding van rou mis verminder word. Wanneer mis onvolledig komposteer, bestaan ’n groot gevaar vir ’n nadelige negatiewe stikstofperiode.
Moenie mis wat nie volledig gekomposteer is, direk voor of tydens planting toedien nie. Dit moet minstens drie weke voor die tyd toegedien word, sodat mikrobes met die afbreek van die materiaal en minerale kan begin.
Mis wat ingewerk word, se reaksie en vrystelling van minerale in die grond en aan die plant is vinniger. ’n Ander voordeel wat die kompostering van mis meebring, is die vernietiging van onkruidsade. Die kompostering van mis bevorder die groei en ontwikkeling van saprofitiese patogene, wat gevolglik die parasitiese patogene onderdruk.
Wanneer mis dus toegedien word, veral in sanderige grond met hoë negatiewe aalwurmpopulasies in die grond, help die saprofitiese patogene om dié populasies te onderdruk.
Doen chemiese ontledings
Dis belangrik om die mis te laat ontleed om die chemiese samestelling daarvan te bepaal. Die ontledings sal aandui of die mis skadelik gaan wees vir die grond, of dit voldoende sal wees en of dit as ’n bron van bemesting kan dien.
Wanneer groot hoeveelhede mis elke jaar op ’n land toegedien word, moet die grond ontleed word om seker te maak dat die chemiese status aanvaarbaar bly en dat daar nie ’n wanbalans is tussen die basis-katione nie. Mis kan soms hoë natriumvlakke bevat en dit kan ’n negatiewe impak op die opneembaarheid van kalium deur die plantwortels hê. Daar moet meestal met kalium geplant word wanneer groot hoeveelhede mis toegedien word.
Mis bevat soms ook hoë vlakke van swaar metale soos aluminium, wat toksies is vir plantwortels. Dus is daar ’n beperking op die hoeveelheid mis wat toegedien kan word. Te veel mis kan veroorsaak dat ’n chemiese wanbalans in die grond kan ontstaan, wat tot beperkte plantegroei kan lei.
Toedieningspraktyke
Daar is verskillende toedieningspraktyke van mis in landerye. Dit kan vloeibaar toegedien word en bestaan dan uit ongeveer 90% vloeistof en 10% vastestof, afhangende van die tipe mis. Wanneer mis vloeibaar toegedien word, kan dit breedwerpig gestrooi word of met tande in die grond gebandplaas word. Mis kan ook in ’n soliede vorm breedwerpig oor die grond gestrooi word.
Wanneer vloeibare mis gebruik word, moet ’n groter hoeveelheid toegedien word om dieselfde hoeveelheid voedingstowwe te verskaf as droë mis. Dit is daarom meer ekonomies om soliede mis aan te koop – indien daar nie ’n fisiese bron op die plaas is nie – en dit toe te dien as om vloeibare mis te bekom.
Voor- en nadele
VOORDELE
- Mis verryk die grond se voedingstatus.
- Bevorder grondstruktuur.
- Verbeter waterinfiltrasie.
- Verlaag verdamping.
- Onderdruk patogeniese aalwurmpopulasies.
- Verhoog mikrobiologiese aktiwiteite in die grond.
NADELE
- Onkruidsade in mis.
- Kan die C:N-verhouding van grond tydelik negatief beïnvloed.
- Toksiese stowwe, byvoorbeeld aluminium.
- Natrium kan die kaliumbalans negatief beïnvloed.
- Gekomposteerde mis is die beste, maar dit neem langer om dié mis te benut.
- Beskikbaarheid van plantvoedingselemente is stadiger as by anorganiese kunsmis.
- Te veel mis kan plantegroei beperk.
Samevatting
- Hoewel mis ’n waardevolle bron van voedingstowwe in gewasproduksie is, kan dit nie dien as uitsluitlike bemesting om rekord-opbrengste te behaal nie.
- Dit is glad nie ekonomies om dieselfde hoeveelheid voeding vir plante met mis te gee as met anorganiese kunsmis nie.
- Mis is net ’n ekstra bron van bemesting en ’n hulpmiddel om die grond te verbeter waarin gewasse geproduseer word.
Bronnelys
- FERTASA, 2016. Bemestinghandleiding
- Hammes PS, Annandale JG, Beyers EA en Nel PC, 1986. Opbrengskomponente van koring by verskillende vlakke van grondvrugbaarheid. South African Journal of Plant and Soil, 3:2, 90 – 91
- Senwes, 2008. Die waarde van organiese misstowwe as bemesting. [1 November 2020]
- Vermaas R, 2017. Gebruik van kraalmis en die effek op grond. https://hulp.landbou.com/kundiges/grondguru/gebruik-van-kraalmis-en-die-effek-op-grond [1 November 2020]
