Daar word deesdae baie meer van plaasdiere verwag as in die verlede. Hoë produksie en volgehoue reproduksieteikens plaas ’n premie op vee se vermoë om te presteer. Gevolglik is die diere se voedingsbehoeftes uiters belangrik.
Voedingsbehoeftes
KUDDE- EN VOERVLOEIBEPLANNING
Die eerste beginsel is om deeglike kuddevloeibeplanning te doen. Die aantal diere op die plaas word maandeliks uiteengesit soos die produksieprogram verloop. Getalle word omgeskakel na ’n bekende standaardeenheid, naamlik grootvee-eenhede (GVE’s), waarvan die voerbehoefte bekend is. Dit gee dus ’n aanduiding van die totale voerbehoefte per maand en word minstens vir ’n jaar of produksieseisoen gedoen.
Vervolgens word die voerproduksie van voerbronne op ’n soortgelyke wyse per maand bereken en op dieselfde grafiek as die behoefte aangebring. Die verskil tussen voer geproduseer en voer benodig dui dan presies aan in watter stadiums van die jaar oorskotte en tekorte gaan voorkom.
Die verskille word deur deeglike gewasbeplanning – byvoorbeeld die opberging van oorskotte en gebruik van verskillende gewasse – en/of die bestuur van veegetalle gemanipuleer sodat die voorsiening deurlopend aan die behoefte voldoen.
Deur hierdie stappe te volg, kan beplan word sodat daar genoeg hoë gehalte ruvoer voorsien word. Aanvullings kan dan doeltreffend gemaak word en goedkoper ruvoer word nie deur duur aanvullings vervang nie.
GROEN WEIDING VERSUS DORMANTE WINTERWEIDING
Die belangrikste verskil tussen groen en dormante winterweiding is die ruproteïen (RP)-inhoud. Met winteraanvullings is ’n hoë RP sowel as fosfor (P) belangrik, terwyl dit in die somer hoofsaaklik net oor die aanvulling van P gaan (Foster, 2015).
Tipiese kommersiële winterlek sal ongeveer 40% tot 45% RP bevat. In die somer word meestal geen addisionele RP voorsien nie, aangesien groen weiding gewoonlik voldoende RP bevat om aan herkouers se behoeftes te voldoen.
Die tipiese somerlek sal sowat 6% P bevat, asook ’n sogenaamde “voormengsel” of premix bestaande uit noodsaaklike minerale. In die verre westelike dele van Suid-Afrika, asook in dele van Namibië, word ureum by somerlekke gemeng om ’n RP-inhoud van 14% te realiseer, maar dit is nie algemene gebruik in die NWK-bedieningsgebied nie.
BELANGRIKHEID VAN FOSFOR (P)
Funksies van P in die liggaam is goed bekend en sluit onder andere beenvorming (skeletgroei) in. Daar is feitlik nie ’n biologiese proses in die liggaam waarby P nie betrokke is nie.
Een van die belangrikste prosesse in hierdie verband is reproduksie (Orsmond M, 2007). Dit is veral by teelkuddes van die uiterste belang dat P regdeur die jaar aangevul word. Dit is ’n mite dat P net in die somer aangevul moet word en nie in die winter belangrik is nie (De Brouwer et al, 2000).
Ongelukkig kom produsente gewoonlik te laat agter wanneer P-tekorte voorkom. Teen die tyd dat swak reproduksiesyfers bekend raak, is dit te laat om P te begin aanvul en is die skade reeds gedoen.
ONDERHOUDSLEK VERSUS PRODUKSIELEK
Soos die naam sê, is die doel van ’n onderhoudslek slegs om diere se kondisie en gewig te onderhou. Hierteenoor het ’n produksielek primêr ten doel om produksie te bevorder, byvoorbeeld groei of melkproduksie (lakterende diere). Nog voorbeelde is groeiende verse wat boonop moet dragtig raak of eerstekalfverse wat kalwers soog, self nog groei en weer moet dragtig raak. Sulke diere se voedingsbehoeftes oorskry hul onderhoud.
Die samestelling van ’n produksielek sal ook wissel na gelang van die seisoen. In die somer is daar voldoende degradeerbare RP in groen weidings beskikbaar en sal daar meer klem wees op die aanvulling van deurvloei-RP.
Op dormante winterveld is dit weer die teenoorgestelde hiervan en kan meer nie-proteïenstikstofbronne (NPN) soos ureum gebruik word. Die formulering van somerproduksielekke fokus ook meer op energie-aanvulling, terwyl winterproduksielekke groter klem op RP-voorsiening plaas.
Oorgang tussen seisoene
In die oorgangseisoene vanaf winter na somer en somer na winter is dit dikwels moeilik om diere se behoeftes te bepaal. Die vraag word dikwels gevra of oorgangslekke gebruik moet word.
In die herfs kan die droogheid van beeste se miskoeke as maatstaf gebruik word om RP-tekorte aan te dui. Wanneer miskoeke ’n droë en kluiterige voorkoms aanneem, is dit ’n aanduiding dat die RP in die veld te laag begin daal en dat dit tyd raak om oor te skakel na ’n winterlek. Hierdie oorgang moet met aanpassing gedoen word, en hier kan die gebruik van ’n sogenaamde oorgangslek handig te pas kom.
Hierdie lekke bevat ’n matige hoeveelheid ureum – genoeg om die RP-voorsiening te lig, maar te min om vergiftiging te veroorsaak. Wanneer die mis dan weer tekens toon dat dit droog raak, kan daar met gemak na ’n volledige winterlek oorgeskakel word.
Die oorgang van winter na somer (lente) is dan minder drasties, aangesien van hoë ureumvlakke na laer vlakke of selfs na geen ureum (’n tipiese somerlek) beweeg word. Dit kan ook met ’n oorgangslek hanteer word, maar is minder belangrik as in die herfs, wanneer na hoër ureumvlakke oorgeskakel word.
Selfmeng van somerlekke
Somerlekke van die meeste vervaardigers is beskikbaar in ’n “gereed-om-te-gebruik” P6-mengsel, wat net so aangebied kan word. Die inname hiervan behoort 100 g tot 150 g per bees per dag te wees (6 g tot 9 g per bees per dag). Indien P12 gebruik word, kan P6 eenvoudig daaruit gemeng word deur dit om die helfte met veesout te meng (50 kg P12 op 50 kg sout).
Sommige produsente gebruik P21 om somerlekke te meng. Die mengverhouding hier is meer ingewikkeld, aangesien P21 nie net met sout “verdun” kan word tot daar 6% P in die mengsel is nie, want daar sal dan te veel sout in die mengsel wees. Hier kan ander grondstowwe soos voerkalk of selfs melassemeel of kopmeel gebruik word. Die gebruik van voerkalk kan egter die P:Ca-verhouding kleiner as 1:2 maak, wat nie gewens is nie, so dié praktyk moet omsigtig benader word.
Lekbakbestuur
Die belangrikste aspek is die vreetspasie. Met somerlekke (P6) is dit minder belangrik, aangesien die inname daarvan relatief laag is en diere nie daarvoor kompeteer nie. Met winter- en produksielekke moet daar egter genoeg spasie wees vir al die diere om te vreet. Die innames daarvan is relatief hoog (vanaf 500 g tot 1,5 kg of selfs 2 kg per dier per dag). Dit vereis ’n vreetspasie van sowat 450 mm per bees. Minder dominante diere kry te min lek indien die spasie te min is en meer dominante diere vreet dan weer te veel.
Ureumbevattende lekke moet verkieslik in beskutte bakke aangebied word om te voorkom dat dit natreën. Gaatjies onder in die lekbakke help met dreinering, hoewel dit maklik verstop kan raak – moet dus nie te veel daarop staatmaak nie.
Waak daarteen om veral ureumbevattende lekke langs waterkrippe te plaas. Diere wat te veel vreet en só te veel ureum inneem, moenie dadelik toegang tot drinkwater kry nie omdat dit fataal kan wees. ’n Paar honderd meter se stap tussen die lekbak en drinkwater kan help voorkom dat vergiftiging voorkom.
Laastens moet ureumbevattende lekke daagliks voorsien word. Indien dit nie prakties moontlik is nie, kan twee dae se voorraad elke tweede dag uitgesit word. Vermy egter die praktyk om ureumbevattende lekke byvoorbeeld op ’n weeklikse of selfs tweeweeklikse basis uit te sit.
Somerlek (P6) kan ad lib uitgesit word en hier kan lekbakke net van tyd tot tyd aangevul word. Winter- en produksielekbakke moet gereeld skoongemaak word.
Samevatting
Lekaanvullings op groen weidings het hoofsaaklik ten doel om aan diere se mineraalbehoeftes te voldoen, waarvan P die belangrikste is. Wanneer produksie verleng word, is energie en deurvloei-RP ook belangrik en moet dit addisioneel tot minerale aangebied word. Ruvoer bly egter die basis van voeding. Daar moet altyd genoeg ruvoer beskikbaar wees sodat aanvullings presies reg kan wees en nie goedkoper voerbronne vervang nie. Sonder voldoende ruvoer sal aanvullings nog meer ondoeltreffend en onekonomies wees.
Bronnelys
- De Brouwer CHM, Cilliers JW, Vermaak LM, Van der Merwe HJ and Groenewald P, 2000. Phosphorus supplementation to natural pasture grazing for beef cows in the Western Highveld region of South Africa. S. Afr. J. Anim. Sci. 30 43 – 52
- Foster LA, 2015. The profitability and production of a beef herd on transitional Cymbopogon – Themeda veld receiving three different levels of lick supplementation. Doctor Technologiae thesis. Department of Agriculture, Faculty of Health and Environmental Sciences, Central University of Technology
- Orsmond M, 2007. Influence of phosphorus supplementation on growth and reproductive characteristics of beef cows in the semi-arid bushveld of South Africa. MSc(Agric) thesis. Department Animal and Wildlife Sciences, Faculty of Natural and Agricultural Sciences, University of Pretoria