Daar word oor die algemeen aanvaar dat plantsiektes jaarliks, wanneer kontantgewasse aangeplant word, gaan voorkom. Die onsekerheid is egter in watter mate hierdie siektes in ’n bepaalde seisoen gaan voorkom. Klimaatstoestande binne ’n bepaalde seisoen bepaal gewoonlik watter tipe siektes dan gaan voorkom. Afhangende van in watter groeistadium die plant verkeer, kan hierdie siektes ’n invloed op plante se groei en uiteindelike opbrengs hê.
Hoewel baie goeie chemiese middels op die mark beskikbaar is vir die beheer of bestuur van sekere plantsiektes, is daar ’n redelike aantal faktore, soos die tyd van toediening en die graad van infeksie, wat ’n invloed kan hê op die doeltreffendheid van hierdie middels. In die geval van die beheer van sonneblomsiektes kan hierdie middels soms baie duur wees, veral as ’n mens in ag neem dat sonneblom veronderstel is om ’n gewas met ’n redelike lae insetkoste te wees.
Die ontwikkeling van plantsiektes
Die voorkoms van plantsiektes is afhanklik van die omgewingstoestande tydens die kritiese groeistadium van die betrokke gewas. ’n Siekte kan slegs voorkom wanneer daar oorvleueling is van al die nodige faktore, naamlik ’n vatbare gasheer, patogeen en geskikte omgewingstoestande. Die siektedriehoek (Figuur 1) illustreer hierdie beginsel die beste.
Soos hierdie drie faktore oor tyd ontwikkel, bepaal dit:
- Wanneer die infeksie plaasvind.
- Hoe vinnig die siekte homself vestig.
- Wat die uiteindelike skade aan die betrokke oes sal wees.
In die geval van Sclerotinia op sonneblom is die beste tyd van infeksie net ná die blomstadium, wanneer die buisblommetjies begin verwelk. Temperature van ongeveer 15˚C tot 25˚C en nat grondtoestande van ongeveer tien tot 14 dae stimuleer die voorkoms van Sclerotinia.
Die ekonomies belangrikste sonneblomsiektes sluit onder andere in Alternaria (Alternaria alternata) en Sclerotinia (Sclerotinia sclerotiorum). Alternaria kom elke jaar voor in sonneblomlande, waar dit normaalweg min skade verrig, terwyl Sclerotinia bekend is vir die skade wat dit in sonneblomoeste kan veroorsaak.
Sclerotinia se voorkoms is die afgelope seisoen noukeurig waargeneem in kultivarproewe wat wyd oor die sonneblomstreek aangeplant is. Die vyf liggings wat geëvalueer is se plantdatums wissel van 15 tot 25 Januarie 2021, en sluit in Senekal, Excelsior, Hertzogville, Sannieshof en Ventersdorp (Tabel 1). Die doel van die evaluasies was om die omvang van die belangrikste sonneblomsiektes gedurende die 2020/2021-seisoen te bepaal.
Siektewaarnemings is per kultivar gedoen op ongeveer 110 dae ná plant om weerstandsverskille tussen kultivars te identifiseer. Van al die liggings wat aangeplant is, was Excelsior egter die enigste een waar Sclerotinia waargeneem is. Twee rye van 100 plante van elke kultivar in die proef is getel om die besmette koptelling te verkry. Die infeksietellings wat gevind is, is egter aansienlik laer as verwag.
Wat Alternaria betref, het al die kultivars oor die vyf liggings lae tot medium infeksietellings getoon. Dit kan gesien word as normale infeksietellings, wat waarskynlik nie groot ekonomiese invloede op die finale oeste gehad het nie.
Samevatting
Die afgelope seisoen se bogemiddelde reënval het baie vrese ontlok vir onder andere siektes soos Sclerotinia. Ten spyte van verlengde nat tydperke die afgelope seisoen, was daar egter minder swamsiektes as wat aanvanklik verwag is en produsente het waarskynlik minder siektedruk ervaar as in vorige seisoene.
Die klimaatstoestande van elke seisoen verskil van mekaar en alhoewel sekere siektes meer ekonomiese verliese as ander kan veroorsaak, kan daar nie met sekerheid gesê word tot watter mate ’n sekere siekte in ’n bepaalde seisoen gaan voorkom nie. Daar kan wel met sekerheid gesê word dat sonneblom se waarde as geharde kontantgewas nie onderskat moet word nie en dat hierdie nederige oliesaadgewas in die verlede ’n groot rol gespeel het in die sukses van baie boerderye in Suid-Afrika.
Verminder risiko’s só
- Produsente kan hul risiko’s in die komende seisoen verminder deur te fokus op pakketaanplantings van sonneblomkultivars wat bekend is vir hul siekteweerstand. Die risiko’s kan aansienlik versprei word deur ’n pakket van minimum drie verskillende siekteweerstandbiedende kultivars aan te plant.
- In gebiede wat met Sclerotinia sukkel, is dit ook ’n goeie opsie om te fokus op enkelkruis-sonneblombasters vir die komende seisoen. Aangesien sonneblom die sensitiefste is vir Sclerotinia-infeksie net ná die blomstadium, is dit moontlik dat enkelkruis-sonneblombasters die risiko’s kan versprei as gevolg van enkelkruise se verkorte blomsiklus.
- Drieweg-sonneblombasters blom gewoonlik vir ’n langer tydperk as enkelkruis-sonneblombasters, wat moontlik tot ’n groter Sclerotinia-risiko kan lei.