Bye is van die interessantste insekte wat bestaan en hierdie klein besige insek speel ’n geweldige belangrike rol in die wêreld se biodiversiteit. Bye en byeboere staar egter tans talle uitdagings in die gesig.
Mense word al van die vroegste tye af met heuningbye geassosieer. Die eerste bewys hiervan is rotstekeninge wat in Spanje gevind is en ongeveer 8 000 tot 10 000 jaar oud is. In die Drakensberge is soortgelyke rotstekeninge ontdek.
Byeboerdery het eers begin nadat die mens sy nomadiese leefwyse gestaak het en moontlik toe eers meer bewus geraak het van bye naby sy woonplek.

Biologie en lewensiklus
’n Byefamilie bestaan uit ’n koningin, wat die eierlêmasjien is, werkers en hommels. ’n Byekolonie bestaan uit 80 000 of meer bye. Die koningin is baie groter as die ander bye, maar het kleiner vlerke. Koninginselle is selle waaruit toekomstige koninginne gebore word. Hulle word met spesiale proteïenryke voedingstowwe, genaamd koninginjellie, gevoer.
’n Koningin gaan op ’n paar paringsvlugte, waarna sy dan twee soorte eiers lê. Die eerste soort word bevrug en broei wyfies uit, oftewel werkerbye en koninginne. Die tweede soort eiers is onbevrug en broei mannetjies of hommels uit deur middel van partenogenese. Partenogenese beteken dat hommels geen vader het nie en sonder bevrugting ontwikkel.
Die werkerbye is slegs wyfies, met swak ontwikkelde voortplantingsorgane. Tydens die eerste drie dae nadat werkerbye uitgebroei het, maak hulle die selle waaruit hulle uitgebroei het skoon. Tussen dag ses en dag 13 begin werkerbye die jonger larwes voed, en is hulle verantwoordelik vir die bou van koeke en versameling van nektar en stuifmeel. Hierna, tussen dag 13 en 17, neem hulle hul eerste oriënteringsvlug, en begin hulle die korf skoonmaak en dooie bye daaruit verwyder.
Vanaf dag 18 tot 20 is dit die werkerbye se plig om die korf veilig te hou en enige indringers te keer. Op dag 21 begin die werkerbye in die veld werk om nektar, stuifmeel, water en byegom te versamel. Werkerbye lewe vir ongeveer 30 tot 35 dae vandat hulle met hul veldwerk begin het.
Hommels bestaan slegs uit mannetjies sonder angels. Die hommel se enigste werk is om te paar. In die winter, wanneer min kos beskikbaar is, word die hommels uit die kolonie geskop.

Sosiale gedrag
Bye kan deur middel van danse met mekaar kommunikeer. Twee verskillende soorte danse word gedoen:
- Indien voedsel binne 100 m van die korf af is, word die rondedans uitgevoer, waar die bye kloksgewys en antikloksgewys in ’n sirkel beweeg.
- Die sidderdans word gedoen as die voedsel verder as 100 m van die korf is. Tydens die sidderdans beweeg bye vorentoe en agtertoe in ’n reguit lyn.
Die koningin oefen beheer uit oor die kolonie deur ’n beheerstof genaamd feromoon, deur haar kaakkliere vry te stel. Werkerbye neem die beheerstof op terwyl hulle skoonmaak en die koningin oppas. Sodoende versprei dit dan na die hele kolonie. Die feromoon hou ook werkerbye se eierstokke onder druk. Hierdie verspreiding hou die kolonie as ’n gekoördineerde en funksionele eenheid in stand. Sonder hierdie proses sou die kolonie in duie stort, wat wel soms die geval is.
Daar is bevind dat bye vyf dae nadat ’n voedselbron op is nog na die bron sal terugkeer, wat daarop kan dui dat hulle ’n geheue van ongeveer vyf dae het.
Bedreigings
Die hedendaagse lewe en praktyke veroorsaak baie probleme vir die voortbestaan van bye en byeboere.
SIEKTES
Siektes wat bye bedreig is Amerikaanse vuilbrood en Europese vuilbrood, wat Suid-Afrika binnedring deur die invoer van heuning en heuningprodukte.
- Amerikaanse vuilbrood: Larwes jonger as drie dae word besmet deur die inname van spore wat in hul kos voorkom. Larwes wat jonger as 24 uur is, is die vatbaarste. Die spore ontkiem in die jong larwe se ingewande en begin dan die larwe se kos vreet. Dié spore kan tot 80 jaar oorleef in heuning en byeboertoerusting. Weens hierdie rede moet alle besmette byekaste of neste verwoes word. Elke dooie larwe bevat ongeveer 100 miljoen spore.
- Europese vuilbrood is ’n bakterie wat in die larwe se midderm voorkom en word as minder ernstig beskou as Amerikaanse vuilbrood. Europese vuilbrood word as ’n “stressiekte” gesien en is gevaarlik indien die swerm reeds onder druk is. Jong larwes word ook besmet deur voedsel in te neem wat met die bakterieë besmet is.
ANDER BEDREIGINGS
Vergiftiging deur onkruid- en plaagdoders: Die simptome van vergiftigde bye verskil afhangend van die verskillende produkte wat gebruik word. Dit kan wissel tussen bewerigheid, verlamming of oproerigheid voor die byekas se ingang. Dooie bye sal dan mettertyd voor die byekas lê.
Plae en predatore sluit onder andere in wasmotte, miere, termiete, ratels, bobbejane, naaldekokers, paddas, spinnekoppe, akkedisse, gestreepte byerowers en geelbyerowers.
- Die gestreepde byerower-wyfie het ’n geel agterlyf met swart strepe. Die mannetjie is effens kleiner as die wyfie en het ’n swart agterlyf met smal wit of geel strepe. Wyfies sit gewoonlik naby die korf se ingang en wag vir ’n vlieënde by om verby te kom, wat dan gegryp en doodgemaak word.
- Die geelbyerower vang bye wat besig is om op blomme te wei en is groter en stewiger gebou as die gestreepte byerower, maar is nie so opsigtelik nie.
Mense: Diefstal en die vandalisering van byekaste raak al meer algemeen. Soms word slegs die korwe uitgesny om die heuning te steel, maar ander kere word die hele kas met die swerm gesteel of kaste word deur kwaaddoeners omgeskop. Habitatvernietiging vind ook plaas deur tradisionele bye-omgewings in woongebiede of ondernemings te omskep.
Belangrikheid
- Omdat hulle meer as 90% van die 107 vernaamste gewassoorte bestuif, is bye waarskynlik die belangrikste groep bestuiwers.
- Bye onderhou wilde plantpopulasies, wat weer verskeie biodiversiteit- en ekosisteemfunksies ondersteun.
- Meer as 50 gewasse in Suid-Afrika is afhanklik van bye vir bestuiwing. Navorsing toon dat bestuiwing deur kommersiële heuningbye die vrugvorming, gehalte en gewig van gewasse verbeter. Gewasse wat van bestuiwing afhanklik is, bevat mikrovoedingstowwe soos vitamiene A en C, kalsium, fluoried en foliensuur.
- Bye dra indirek by tot werkskepping en indiensneming, en lewer dus ’n groot bydrae tot voedselsekerheid.
Produkte
HEUNING
Van die heel vroegste tye af word daar na heuning en byewas verwys. Heuning het vroeër jare ’n rol gespeel as versoeter, geneesmiddel, verjongingsmiddel en ’n voedselbron. Deur die jare het suikerriet heuning vervang en die goedkoper opsie geword. Bye produseer twee tot drie keer meer heuning as wat hulle self benodig, en dus is daar meer as genoeg vir die mens om te gebruik sonder dat bye daaronder ly.
Heuning kristalliseer as gevolg van die hoë glukose- en fruktose-inhoud. Glukose versuiker maklik en fruktose is meer oplosbaar, wat beteken dat die voginhoud van heuning ’n groot rol in die neiging tot versuikering speel. Indien heuning nie kristalliseer of versuiker nie, is dit ’n teken dat dit nie suiwer heuning is nie.
Indien heuning bo 37°C verhit word, sal die voedingswaarde van 200 komponente, waaronder onder andere die antibakteriese vermoë, verlore gaan. Heuning moet dus verkieslik nie verhit word nie.
BYEWAS
Baie jare gelede was byewas ’n goeie handelsartikel en het dit ’n groot rol in skilder- en skryfbenodigdhede gespeel. Byewas is ook gebruik om belasting mee te betaal en was eintlik die mens se eerste plastiek, maar deesdae word sintetiese plastiek eerder gebruik omdat dit goedkoper is. Byewas word hoofsaaklik gebruik om kerse te maak, hout en houtvloere te poets, asook in skoonheidsmiddels om room te maak.
PROPOLIS
Propolis is ’n harsagtige stof wat deur die bye van verskillende soorte plante gemaak word. Propolis word deur die bye gebruik om gate en krake te seël, die binnekant van ’n byekorf glad te maak en die temperatuur in die kas te reguleer.
Behalwe dat propolis ’n aangename reuk het, kan dit ook vir die behandeling van verskillende siektes aangewend word as gevolg van die antiseptiese, anti-inflammatoriese, antioksidante, antibakteriese, antimikotiese, antifungale, antikanker- en immunomodulerende eienskappe.
Samevatting
Die doel van hierdie artikel is om die unieke eienskappe van bye en byeprodukte te beklemtoon sodat mense bye beter kan bewaar, asook om ons biodiversiteit te beskerm en die nut van byeprodukte opnuut te besef.
Maklike maniere om te help, sluit in die plant van helderkleurige blomme in die tuin, om water vir bye uit te sit, byevriendelike insek- en plaagdoders te gebruik en indien hulle as ’n bedreiging gesien word, ’n kundige se hulp in te win om hulle te verwyder.
Bronnelys
- Byeheuning: 10 voordele en eienskappe van hierdie voedsel. https://af.warbletoncouncil.org/miel-de-abeja-7318 [10 Augustus 2021]
- Die belangrike voordeel van bye. https://www.northwestnewspapers.co.za/klerksdorprecord/opinion/environmental-protection-with-johan-friedrich/5013-die-belangrike-voordeel-van-bye [17 Augustus 2021]