Op 4 September is die internasionale dag vir aasvoëlbewustheid gevier, en die voortbestaan en bewaring van aasvoëls was in die kollig. Daar is tans ses aasvoëlspesies in Suid-Afrika, waar die getalle afneem en baie van hulle bedreig word. Dit wek groot kommer onder natuurbewaarders.
Die Generaal de la Rey-tak (die SA Jagters-tak in Lichtenburg) bestuur al vir etlike jare ’n aktiewe aasvoëlrestaurant. Tydens voedingstye besoek tot 200 aasvoëls gelyktydig dié restaurant op die Lichtenburg-terrein. Behalwe om ’n veilige voedingsplek vir aasvoëls te bied, dien dit ook as ’n bewaringsopvoedingsentrum vir jeuggroepe en plaaslike gemeenskappe.
Hierdie vereniging het onlangs ’n inisiatief vir aasvoël-erfenisterreine gestig, wat die registrasie van grondeienaars benodig om só die bewaring van aasvoëls te ondersteun deur:
- Teelplekke te beskerm.
- Veilige voedings- en drinkplekke te verseker.
- Voëls wat hul plase besoek, te monitor.
In ruil daarvoor sal SA Jagters ’n sertifikaat van erkenning aan grondeienaars gee vir hul deelname aan die projek. Belangstellende grondeienaars kan hul grond gratis as aasvoël-erfenisterreine by SA Jagters registreer. Die volgende is belangrik met die bewaring van aasvoëls:
- Die beskerming van broeiplekke op die plaas.
- Veilige voedings- en drinkplekke vir aasvoëls.
- Hulp met die jaarlikse monitering van die voëls.
- Dat geen aktiwiteit op die plaas ’n risiko vir aasvoëls inhou nie.
Klik op die link om meer te lees oor die bewaring van aasvoëls: https://www.nwkarena.co.za/2021/09/03/sa-hunters-initiates-vulture-conversation-projects/.
Toestelle omvorm in unieke uilhuise
Die Owl Rescue Centre is ’n nie-winsgewende maatskappy wat tien jaar gelede in die Hartbeespoort-omgewing deur Brendan en Danelle Murray as ’n rehabilitasiesentrum vir alle uilsoorte begin is. Bewaring van uile is vir hulle uiters belangrik.
Bewaringsbewustes word uitgenooi om ou huishoudelike toestelle soos wasmasjiene en tuimeldroërs te skenk, wat in uilhuise verander word. Dit het beslis die publiek se aandag getrek, want nou wil Jan Alleman ook een van dié spesiale uilhuise in sy tuin hê. Die Murrays nooi dus almal uit om hul ou yskaste, stowe, wasmasjiene of tuimeldroërs te skenk. Kontak hulle gerus.