Skielike beurtkrag of lang kragonderbrekings noop verbruikers dikwels om oorhaastig alternatiewe kragopwekkingsbronne aan te skaf, sonder om hul behoeftes in ag te neem of hul opsies behoorlik te oorweeg.
Dit neem fyn beplanning om ‘n doeltreffende en pynlose omskakeling na alternatiewe kragopwekking te maak, en dit is ‘n proses waarby die hele huishouding betrek moet word. Dít is die raad van Theo Rabe, NWK se groephoof- uitvoerende beampte.
Onafhanklik van Eskom
Theo Rabe, NWK se groephoof- uitvoerende beampte en sy vrou, Magda, funksioneer alreeds vir drie jaar heeltemal onafhanklik van Eskom op hul plaas naby Zeerust. Hulle het belangstellendes wat die inligtingsessie bygewoon het, meer vertel oor hul opset en die aanpassings wat hulle te wagte moet wees wanneer hulle alternatiewe kragbronne inspan.
“Son is ‘n kommoditeit wat vrylik beskikbaar is. Tog is daar heelwat faktore wat oorweeg moet word voordat jy die omskakeling doen,” maan Theo. Hy bedryf sake op sy plaas met ‘n enkelfasestelsel, en al sy masjinerie en toerusting is daarvoor geskik. Verbruikers moet in gedagte hou dat driefase-opsies meer batterykrag verg en dus die stelsel duurder maak.
“My stelsel betaal homself en sal ongeveer sewe jaar neem om af te betaal. Jy moet egter aanhou spaar, aangesien jy binnekort die batterye gaan moet vervang. Hoe langer jou stelsel werk en jy dit in stand hou, hoe goedkoper word die krag wat jy opwek. Dit is kardinaal dat jy jou stelsel oppas en monitor.”
“As jy die huis na sonkrag omskakel, kry jou vrou en kinders betrokke. Die besluit gaan almal beïnvloed en hulle gaan heelwat van hulle dag-tot-dag bewegings moet verander – veral jou vrou,” is Theo se raad.
Oorweeg hierdie drie opsies vóór die omskakeling:
- Wil jy heeltemal onafhanklik van Eskom wees? Só ‘n omskakeling gaan ‘n gemiddelde huishouding sowat R180 000 uit die sak jaag.
- Soek jy eers net bystand, met die oog daarop om later onafhanklik te wees? Hiervoor sal jy sowat R90 000 moet begroot.
- Soek jy slegs bystand tydens kragonderbrekings? Dit kan die verbruiker enigiets tussen R15 000 en R40 000 kos.
Hou in gedagte dat kleiner stelsels op bewolkte dae problematies kan wees en dan nie volkome laai nie. In hierdie geval sal jy ‘n bystandskragopwekker moet hê.
Doen jou huiswerk
Theo benadruk die belangrikheid van ‘n betroubare verskaffer. “Dis ‘n groeiende bedryf en almal wil ‘n aandeel in die groei hê – die skelms ook. Koop redelik bekende handelsmerke se sonkragtoestelle. Toets een bemarker se stories met ‘n ander kenner – dit sal jou geld en trane spaar.”
Vra dadelik die verskaffer watter waarborge hy bied. Lees dit aandagtig en vra vrae as jy nie verstaan nie. “Ek het byvoorbeeld ‘n bloutjie geloop met batterye wat my duur gekos het. Jy behoort ‘n battery tien jaar lank te kan gebruik en sonpanele ‘n bietjie langer. Daar is egter voorwaardes en jy moet bewus wees daarvan. Batterye word in siklusse gemeet.”
Hy raai verbruikers ook af van jelbatterye. “Daar is waarskynlik goeie aanwendings, maar dit is na my mening nie geskik vir ‘n volledige oplossing nie.”
Theo het kapasitors in sy stelsel, maar vind dat dit vinnig ontlaai. “Sorg dat jou stelsel baie spaarkapasiteit het. As jy net genoeg kapasiteit het, gaan dit jou binne ‘n paar jaar weer baie geld kos.
“Die meeste batterye ontlaai nie onder 20% of 25% nie. Ek stel myne na 35% tot 40%. Dit gaan oor die opgebruik van siklusse in jou batterye, wat die leeftyd verkort, veral as jou stelsel baie min spaarkapasiteit het. Ek kan byna waarborg dat jy binne ‘n paar jaar weer vir batterye gaan moet betaal.”
Jy sal ook die hulp van ‘n elektrisiën moet inroep om na jou huis se bedrading te kyk, omdat jy waarskynlik veranderinge gaan moet aanbring.
BEPLAN MET TOEKOMSTIGE UITBREIDINGS IN GEDAGTE
Die ruimte waarin jy jou stelsel aanvanklik plaas, moet moontlike toekomstige uitbreiding kan akkommodeer. “Koop eerder ‘n effens groter omskakelaar as jy later wil uitbrei. Die prysverskil is nie so groot nie en jy kan later dan net batterye byvoeg,” sê Theo.
“As jy slegs een omskakelaar het, kan jy moontlik vir ‘n tydperk sonder krag sit totdat jy ‘n ander een kry en dit kan jou baie duur te staan kom. Installeer daarom meer as een.
“Jy kan ook nie groter batterye aan kleiner bestaande batterye koppel nie. Vra dus die vrae sodat jy doodseker is wat jy aan mekaar kan koppel. Kry die antwoorde op skrif.”
Kry só die meeste uit jou stelsel
Jou omskakelaar en batterye moet in ‘n koel plek met goeie lugvloei wees. Die stelsel genereer hitte en as jou toerusting op ‘n warm plek staan, gaan dit beslis die lewensduur verkort, verduidelik Theo. “Die waarborge gee ook ‘n spesifikasie van minimum en maksimum temperature.”
Die meeste installeerders kan jou gemiddelde kraggebruik bereken. Meet dus die kragverbruik op jou hoogste pieke, met oonde en geisers aan, asook haardroërs, ketels, die skottelgoedwasser, wasmasjien en tuimeldroeër. “Dit is waarom jy jou gesin hierby moet betrek. Sekere leefstylaanpassings moet gemaak word as jy van die grid afgaan en nie ‘n duur stelsel kan bekostig nie.”
Geisers is die grootste sondebok, en Theo stel voor dat verbruikers gas- of songeisers laat insit. Hy voeg by dat hy aanvanklik teen gas gekant was, omdat die water vinnig koud geword het. “Die nuwe tegnologie is egter baie beter en ons ervaar glad nie meer probleme nie. Hou in gedagte dat jy die nodige sertifikaat van voldoening (COC) sal moet kry, anders kan jou versekering in die gedrang kom.”
Laat jou vrou oorskakel na ‘n gasstoof en kook dan water vir koffie hierop, aangesien ‘n ketel baie krag verbruik. “Die gesamentlike gebruik van drie of vier items soos ‘n haardroër, induksie-oond, ketel en mikrogolfoond trek ‘n sonkragstelsel dood en dit gebeur gewoonlik op Sondagoggende, wanneer almal regmaak vir kerk. Selfs ‘n 10 kVA-kragopwekker kan dit nie hanteer nie.”
Op Theo se stelsel help sy kragopwekker om die batterye te laai en kan dit ook direk elektrisiteit aan sy netwerk voorsien, indien nodig. “Beperk die gebruik van kragtoerusting tot ‘n minimum gedurende tye wanneer die stelsel nie laai nie, byvoorbeeld in die aand en oggendure. As jy ‘n stelsel laat installeer wat net genoeg krag vir jou gebruik gaan voorsien, het jy alreeds probleme – jy moet spaarkapasiteit insit.”
Koelkamers en ander soortgelyke toerusting gebruik baie krag – skei dit dus van jou huis se krag. Probeer ook om die huisgebruik te skei van byvoorbeeld store en ander gebruike op die plaas. As jy meer as een sonkragtoestel het wat afsonderlik werk, gebruik die een as bystand vir die ander vir ingeval daar iewers probleme opduik.
Nog ‘n nuttige wenk van Theo is om te probeer om iemand naby aan jou te kry wat nasorg kan doen. “As jy ‘n installeerder gebruik wat ver van jou plaas af is, gaan jy lank wag as jy probleme ondervind.”
HOU DIE SEISOEN IN GEDAGTE
- Op bewolkte dae moet die gebruik van toerusting wat baie krag verbruik, vermy word. Wintermaande het korter tydperke van son en batterye vat dus langer om te laai. “Pas dus jou gewoontes in die winter aan teenoor jou gewoontes in die somer.”
- Masjinerie wat normaalweg in die werkswinkel of stoor gebruik word, moet verkieslik tussen 09:00 en 15:00 in die somer gebruik word en vir korter tydperke in die winter.
- Wanneer daar nie direkte sonlig is nie, moet die gebruik van toestelle wat baie krag verbruik vermy word, ook op bewolkte dae.
‘n Vrou se perspektief
Magda verduidelik dat hulle ‘n 5 kW-omskakelaar vir die huis gebruik. “Ons gebruik tussen 0,5 kW en 2 kW om ligte en toestelle soos die yskas aan te hou. Dit laat jou dus met sowat 3 kW.
“Toestelle met elemente is groot sondebokke. Indien jy byvoorbeeld ‘n ketel (2 kW) en ‘n tuimeldroër (ook 2 kW) gelyktydig aansit, kan dit die elektrisiteitsvoorsiening onderbreek. Jy moet dus beplan sodat dit nie nodig sal wees om hierdie toestelle op dieselfde tydstip te gebruik nie.
“Jy kan ook nie al die beskikbare elektrisiteit gebruik nie, omdat die batterye moet herlaai en jy darem in die aand krag wil hê. Sodra die son sak, is die huishouding afhanklik van batterye.”
Opeenvolgende bewolkte dae is ‘n “tameletjie” en dan is die huishouding van die batterye afhanklik. “Ons gebruik dan die kragopwekker om die batterye vir noodgevalle te laai.”
Waar Magda voorheen in die aande die skottelgoedwasser sou aanskakel, doen sy dit nou soggens of deur die dag. “Sodoende gebruik ek sonkrag en nie batterykrag nie.”
Sy het ook ‘n lugbraaier (air fryer) aangeskaf. “Hoewel dit ook sowat 2 000 W gebruik, is die tyd waarin kos gaargemaak word aansienlik vinniger. Indien daar voldoende batterykrag in die stelsel is, kan ‘n mens jou lugbraaier in die aand gebruik – maar nie vir lang tydperke nie, anders put jy die battery uit. Ons braai ook oor naweke.”
Hoewel ‘n broodrooster ook ‘n element het, gebruik die Rabes dit nog soos altyd omdat dit nie soos ‘n oond vir ‘n lang tydperk aangeskakel word nie.
‘n Wasmasjien gebruik nie baie krag nie, maar Magda was die wasgoed gedurende die dag omdat sy wel ‘n tuimeldroër gebruik, wat baie elektrisiteit benodig.
Sy meen daar is beslis meer voordele aan sonkrag as nadele. “Maak net die kopskuif dat alles nie dieselfde gaan wees as voorheen nie. Gelukkig is die mensdom aanpasbaar en met ‘n bietjie beplanning kan jy ver kom. Vra ook ander se raad.”
Die voordele van ‘n hibriede omskakelaar
KayaBona Trading verskaf hibriede kragomskakelaars van Ningbo Deye Inverter Technology, wat in samewerking met jou battery oortollige krag stoor.
Deye hibriede omskakelaars is in enkelfase 3 kW, 3,6 kW, 5 kW en 8 kW beskikbaar, asook driefase 8 kW, 10 kW en 12 kW. Almal werk met ‘n 48 V-battery, wat die sonkragstoorstelsel veiliger en meer betroubaar maak as met ‘n hoë volt batterystelsel.
Die netwerk-interaktiewe omskakelaar beheer en monitor die elektrisiteitsverbinding vanaf die onderskeie bronne, asook die ontkoppeling van oortollige krag. Dit verseker die versending van krag tydens spitstyd, geskoei op aanvraag. In die geval van die afskakeling van oortollige krag, voorkom die omskakelaar onderbrekings deur die toevoer van elektrisiteit oor te skakel na stelsels wat dit die nodigste het.

Die netwerk-interaktiewe omskakelaar kan ook gebruik word om die direkte kragtoevoer van die hoofkragbronne na ‘n netwerk-tot-netwerkingverbinding oor te skakel.
Dit verbeter die selfverbruikverhouding met tot 80%, verminder jou elektrisiteitsrekening (direkte stroom/wisselstroomverhouding) met tot 1,3 en het ‘n maksimum doeltreffendheid van 97,6%.
Die omskakelaars is gebruikersvriendelik deurdat dit ‘n raakskerm en -knoppies het, en versoenbaar is met ‘n litium-ioon-battery asook loodsuurbatterytegnologieë, wat jou dus ‘n wyer keuse bied. Websoektogte en mobiele toepmonitering word deur alle omskakelaars ondersteun.
Die omskakelaars het voorts ingeboude weerligbeskerming, en ‘n geprogrammeerde laai- en ontlaaiskedule bied volkome beskerming en doeltreffendheid.