Die Abraham Kriel-kinderhuis op Potchefstroom en Mev. Lichtenburg Elegant het op Vrydag 22 April elkeen R105 000 ontvang wat tydens NWK se jaarlikse Grip4Charity-gholfdag ingesamel is. Sedert dié gholfdag se ontstaan in 2006 is daar nou al R2 152 080 aan 29 instellings geskenk.
ʼn Oorstelpte Christie Saayman, hoof van die kinderhuis en Minie le Roux, stigter van Mev. Lichtenburg Elegant, het die tjeks by NWK se hoofkantoor in Lichtenburg in ontvangs geneem.
Die Grip4Charity leweransiersgholfdag is ʼn hoogtepunt op NWK se kalender. Leweransiers van dié landboumaatskappy neem deel en die opbrengste word aan behoeftige organisasies wat vooraf deur NWK geïdentifiseer word, geskenk.
Dit kon nie in 2020 voortgaan nie weens die COVID-19-pandemie en gevolglike inperking. Tog het leweransiers nie geskroom om tot dié waardige inisiatief by te dra nie en kon NWK steeds R211 000 aan drie organisasies skenk.
Die gholfdag kon uiteindelik weer op 19 Oktober verlede jaar by Pecanwood gholflandgoed naby Hartbeespoortdam plaasvind, danksy ʼn verslapping in die inperking en R210 000 is ingesamel.
Die Abraham Kriel-kinderhuis is in 1956 gestig en sy begroting beloop tot R18 miljoen per jaar om na die kinders in sy sorg om te sien. Dit is grootliks van die staat vir befondsing afhanklik. Die jaarlikse Liggiefees wat die kinderhuis se grootste fondsinsamelingsinisiatief is, is in 2020 óók deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery.
NWK het daarom besluit om dié kinderhuis een van 2021 se Grip4Charity-begunstigdes te maak. Die geld sal aangewend word om onder andere die tienerdogters in Abraham Kriel se kamers op te knap.
“Wat sê ʼn mens? Verskriklik baie dankie. Ons waardeer dit ongelooflik baie. Ek waarborg julle die geld sal tot die beste voordeel van elke kind by Abraham Kriel gebruik word,” het Christie gesê.
Hy het NWK bedank vir die manier waarop Abraham Kriel genader is. “Dit is lekker om te werk met iemand wat jou iets wil gee en jou nie behandel asof jy ʼn bedelaar is nie. Ons waardeer die respek waarmee julle ons behandel het,” het Christie verduidelik.
Mev. Lichtenburg Elegant is 23 jaar gelede deur Minie gestig om behoeftige gesinne in dié plattelandse dorpie met kos en klere by te staan. Daar is tans sowat 100 gesinne (285 individue) wat van dié liefdadigheidsorganisasie afhanklik is.
Fondsinsamelingsprojekte is uiteraard ook deur die pandemie en inperking gekniehalter en Mev. Lichtenburg Elegant is daarom as tweede begunstigde gekies.
ʼn Aangedane Minie het met ontvangs van die tjek gesê: “Ek staan vanmôre hier met ʼn dankbare hart en ʼn gemoed wat baie vol is. Ek wil vir almal wat betrokke was by die gholfdag, bedank. “Ons tema hierdie jaar is, ‘blom waar God jou geplant het’. Julle as NWK blom reeds waar God julle geplant het en daarvoor sê ons vir julle uit die diepte van ons harte, dankie.”
Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, het dié instellings bedank vir die onbaatsugtige diens wat hulle aan die gemeenskappe van Potchefstroom en Lichtenburg lewer. “Ons is dankbaar dat 2021 se gholfdag ʼn groot sukses was en bedank elke sakevennoot opreg. Sonder hulle sou ʼn dag soos hierdie nie moontlik gewees het nie.”