Tydens ’n onlangse vakansie in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal, was daar verbasend min skepe op die horison sigbaar in vergelyking met vorige jare wat ek daar gaan uitspan het. Ek het elke dag met my verkyker oor die blou water getuur met die hoop om ’n skippie te gewaar, maar sou daardie week slegs een opmerk.
Ek het oor die rede hiervoor gewonder totdat ek daardie Sondag, 27 Maart, met afgryse Rapport se voorbladberig lees. Dit handel oor die tonne vrugte wat vrot word weens chaos by veral die Kaapse hawe. Johan Eybers het berig dat Suid-Afrika se vier grootste vraghouer-hawens – Durban, Ngqura, Gqerberha en Kaapstad – onder die swakste vraghouer-hawens ter wêreld tel, met óf Ngqura óf Durban as die swakste van die 351 hawens op die indeks. Vragskepe lê vir ’n week of langer geanker voordat hulle hawens kan binnekom. Durban se hawe, wat meer as 60% van die land se in- en uitvoere hanteer, gaan ook onder ernstige vertragings gebuk.
Ironies genoeg kom die probleme by die hawe in ’n stadium waar uitvoerprodusente rekordoeste behaal en internasionale pryse vir landbouprodukte die hoogte ingeskiet het weens tekorte wat deur die COVID-19-pandemie en die oorlog in Oekraïne veroorsaak is.
Die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika juis destyds tot innovasie gedwing en tot die ontstaan van verskeie ondernemings gelei, wat van krag tot krag sou gaan. Voor en aanvanklik tydens dié oorlog het Suid-Afrika sy staal uitgevoer om verwerk te word. Dié praktyk is egter tot stilstand gedwing en Yskor, met sy eie smelterye, is gebore. Sasol is gevestig om brandstof te vervaardig, asook Denel om die land van wapentuig te voorsien.
Interessant genoeg het die massahantering van graan gespruit uit die feit dat Indië, waarvan Suid-Afrika sy goiingsakke vir mielies en ander graan bekom het, ons vanweë apartheidspolitiek geboikot het. Silo’s het gevolglik regoor die land verrys.
Die landbousektor het tydens die pandemie en streng inperkings gewys wat in hom steek deur onverpoosd voedsel te produseer, en het in 2020 met 13,1% gegroei. Tog kan produsente ook net soveel doen. Ek haal ’n druiweprodusent aan uit Johan se berig: “Dit breek jou as jy tien maande lank alles reg doen om ’n suksesvolle oes te lewer en dit alles in die laaste skakel in die ketting verwoes word.”
Dit bring my by graanprodusente se dilemma – die astronomiese koste van kunsmis. Eerstens sou die prys noemenswaardig gedaal het as Suid-Afrika ’n betroubare spoornetwerk gehad het waarmee dit goedkoper vervoer kon word. Tweedens kan kunsmis weens voortslepende beurtkrag nie kostedoeltreffend op eie bodem vervaardig word nie.
Beide die staatsinstellings, Transnet en Eskom, is hier die sondebokke. Foskor, óók ’n staatsinstelling wat liederlik misluk, het boonop in sy afwesigheid geskitter by Graan SA se kongres nadat afgevaardigdes op die nippertjie gekanselleer het. Derek Mathews, Graan SA se voorsitter, het harde woorde gehad vir hulle versuim om op te daag en moontlike teenvoeters vir die stygende insetkoste te bespreek.
Enige bedryf is ’n ketting wat so sterk is soos sy swakste skakel, wat in die landboubedryf se geval die staat is. Desperate produsente het op Graan SA se kongres aan staatsamptenare gevra vir ’n reddingsboei in die vorm van gesubsidieerde insetmiddels. Dit was ’n pleidooi wat seker bloot genotuleer is en nooit ’n LUR of minister se ore sal bereik nie.
’n Krisis is dit gewis en om Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia Fertiliser, by Graan SA se kongres aan te haal: “Ons kan nie vir nóg twee jaar praat nie. Ons het nóú aksie nodig.”
Ongelukkig bespeur ek nie ’n dringendheid (of die geld) by die regering nie en totdat amptenare saam gaan roei in ’n poging om hierdie spreekwoordelike skip om te draai, stuur ons heel moontlik af op die rotse.